Day 131

 

“ … ken die God van jou vader en dien Hom met ‘n volkome hart en met ‘n gewillige siel, want die HERE deursoek al die harte, en Hy verstaan elke versinsel van die gedagtes. As jy Hom soek, sal Hy Hom deur jou laat vind …” (1 Kron 28:9, OAV)

Vandag se lering vervat by dit wat gister gedeel is oor hoe dit moontlik is om die Bybel verkeerd te kan lees. Ons het gister drie belangrike beginsels in die lees van die Woord behandel, en vandag volg die res.

Die vierde beginsel: ons kan nie die Bybel as ‘n tipe russian roulette gebruik nie. Baie mense het die gewoonte om vir die Here iets te vra, en dan net die Bybel êrens oop te maak, te kyk waar die Bybel oopval, wat ook al. Dis ‘n gevaarlike manier om met die Skrif om te gaan. Die Skrif val gewoonlik êrens in Psalms oop, want dit is die helfte van die Bybel, of dit val oop op plekke waar die Bybel in die middle platgestryk is om dit te laat platlê. So ‘n leeswyse sal nie deug nie. Toegegee, God kan natuurlik só ook met ons praat, maar ek glo dat dit geensins die norm kan wees nie. Hierdie tref-en-trap-metode dui dikwels daarop dat iemand dit doen omdat hy nie die stem van die Here kan hoor nie. Ons vra die Heilige Gees waar ons moet lees, en doen dit dan. Soms is dit wat jy hoor nie ‘n direkte antwoord op jou vraag nie. Bid dan nog en vra vir die Here verdere toeligting, maar onthou: soos ons vroeër verduidelik het oor die groot hoeveelheid inligting wat in die Bybel gedekodeer is, is dit wat God jou antwoord bes moontlik in die Skrifgedeelte verhul. Wat ek van die Here vra en ontvang in terme van Skrif, neem ek altyd ernstig op, al maak dit vir my geen sin nie – onthou die beginsel: verenig dit wat jy hoor met geloof. Moenie net op grond van die oënskynlike onvanpastheid van die Skrif dink jy het verkeerd gehoor nie! Bid daaroor dat God hierdie onverstaanbare Skrif sal realiseer in jou lewe en ten opsigte van wat jy van God gevra het. In die lees van die Woord gaan soek jy dikwels sonder om te weet waarna, en jy kry soms sonder dat jy presies weet wat jy gekry het!

Partykeer ontvang ‘n mens Skrifgedeeltes in jou gees wat nie bestaan nie. Byvoorbeeld: jy voel die Heilige Gees sê lees Ester 16. Daar is dan (helaas ☺) nie ‘n hoofstuk 16 in die boek Ester nie, maar vra die Heilige Gees verdure toerusting, en Hy kan bv vir jou sê lees elke hoofstuk van Ester se vers 16, of lees hoofstuk 1 en 6. Of jy voel jy moet Hag 2:27 lees, maar dié bestaan nie – vra die Here wat nou, en Hy kan jou lei om Hag 2:2 tot 2:7 te lees, byvoorbeeld. Moenie dink dat hierdie wyse om die hoor van die stem van die Heilige Gees in te oefen ‘n fasiele speletjie is nie – dit is ‘n kinderlike wyse om die Here te begin vertrou vir wat Hy sê en dit met geloof te verenig. Onthou Heb 11:6: “En sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag; want hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en ‘n beloner is van die wat Hom soek.”

 

  • Sela:  Oefen dit in om van God te hoor waar om die Bybel te lees. Link die Skrif hierbo met Ps 139: 4.
  • Lees: 1 Sam 17; Ps 139; Luk 14
  • Memoriseer:  As jy sou kans sien, Ps 139:1-17.
  • Vir dieper delf:  Op grond van Ps 139, lees Yancey & Brand se Fearfully and wonderfully made. Gebruik die boek om die ooreenkoms tussen die mens se fisiese liggaam en die Liggaam van Christus te ondersoek.