Dag 155

“Laat die priesters, die dienaars van die HERE, tussen die voorportaal en die altaar ween.”

(Joël 2:17, OAV)

 

Een van die belangrikste vermoëns van die geestelike mens (1 Kor 2:15) is dat hy met sy geestelike oë (Hand 26:18) die koninkryk van God kan sien (Joh 3:3). Dit beteken ook dat hy in staat sal wees om die “werke van die die duisternis” (Rom 13:12; Efes 5:11) te kan onderskei. Die meeste gelowiges se geestelike oë is geslote ten spyte daarvan dat hulle in ‘n “worstelstryd … teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug” (Efes 6:12) is. Daarom slaan die meeste van hulle onseker met die vuis soos een wat in die lug slaan (1 Kor 9:26).

Ons moet besef dat een van Satan se primêre strategieë is om jou te verblind (2 Kor 4:4), en dat jy daarom nie die geestesvermoëns besit “om goed van kwaad te onderskei” (Heb 5:14) nie. Om hierdie rede is dit van die allergrootste belang dat jy in staat kan wees, “deur die gewoonte geoefen word” (Heb 5:14) “om die dinge waarop dit op aankom, te onderskei” (Fil 1:10).

Een faset hiervan is dat jy moet besef dat Satan dikwels met vervalsings werk. Die godsdienstige wêreld van ons tyd word ook gekenmerk aan die geweldige vervalsings en “gruwelike misleiding” (2 Tess 2:10, NV). Die bose een se primêre doel is misleiding, want deur onkunde (Efes 4:18) en gebrek aan kennis en onderskeiding gaan mense verlore (Hos 4:6). As gevolg van die volharding in ongehoorsaamheid sal God uiteindelik die ongehoorsames oorgee aan die dwaling, die namaaksel, die vervalsing, sodat hulle dit sal glo: “En daarom sal God hulle die krag van die dwaling stuur, om die leuen te glo, sodat almal geoordeel kan word wat die waarheid nie geglo het nie, maar behae gehad het in die ongeregtigheid.” (2 Thes 2:11-12).

In die voorhof, daar “tussen die voorportaal en die altaar” (Eseg 8:16), daar waar ons die eerste keer gekonfronteer word met die eerste altaar binne die geestelike realm van die koninkryk van God, is daar dikwels soveel misleiding dat ons moeilik die valse as die ware onderskei. Soveel goedgelowiges word dáár aan ‘n vals horings en altare gebind.

 

 

  • Sela: Bid dat God die gees van dwaling in jou lewe sal oopdek.
  • Lees: 2 Sam 8; Spr 12; Heb 6
  • Memoriseer: Heb 6:1-2
  • Vir dieper delf: Lees hfst 19 in Michael Esses se boek: Jesus in Exodus.