Dag 4

 

 

“Here, wat wil U hê moet ek doen? (Hand 9:6, OAV)

Saulus was dwarsdeur Israel ‘n navolgenswaardige godsdienstige mens. (Kyk bietjie na sy uitsonderlike godsdienstige credentials in Fil 3:4-6.) Hy het die wet streng onderhou en as Fariseer ywerig hom ingestel om sy godsdiens uit te leef en te beskerm. En toe het hy eendag, heeltemal onverwags, ‘n ervaring met die Lewende God, en sy godsdiens val soos skille van sy oë af (Hand 9:18). En skielik beteken al sy godsdienstige getrouheid tot op daardie stadium van sy lewe vir hom totaal niks nie. Niks. Trouens, hy sê in Fil 3: 8 dat hy alles moes prysgee en dit as drek beskou. Thayer verduidelik die woordjie “drek” soos volg: “any refuse, as the excrement of animals, offscourings, rubbish, dregs … things worthless and detestable”. Dis ‘n beskrywing wat bepaald nie doekies omdraai nie.

Vir die mens wat nog nie ‘n ontmoeting gehad het met die Lewende God nie, is alle godsdienstige aktiwiteite en rituele gewoonweg drek. Die wêreld is vol mense wat geleenthede bied om God deur allerlei rituele, programme en aktiwiteite te dien, maar dit het niks met God te doen nie. Godsdiens voed aan die boom van kennis van goed en kwaad – in godsdiens is daar mooi dinge wat lekker proe – die goeie deel – maar nes die vrugte van die kwaad – bring dit net dood voort (Gen 2:17). Dit het die reuk van verganklikheid. Godsdiens vereis voortdurend selfverbetering. 

Saul was soos die jong Samuel: “Maar Samuel het die HERE nog nie geken nie; ook was die woord van die HERE nog nie aan hom geopenbaar nie.” (1 Sam 3:7). Die openbaring van Jesus Christus kom as jy hoor hoe roep Hy jou. Met Saulus het dit só gebeur: “En toe hy op sy reis naby Damaskus kom, omstraal hom skielik ‘n lig van die hemel af; en hy val op die grond en hoor ‘n stem vir hom sê: Saul, Saul, waarom vervolg jy My? En hy sê: Wie is U, Here?” (Hand 9:3-5).

As jy Hom hoor roep, word jy uitgenooi om Hom te volg, sodat jy kan leer “om Hom te kan kan ken” (Fil 3:10). En jou eerste vraag wat jý dan vra, is: Here, wat wil U hê moet ek doen?

  • Sela: Maak baie seker dat jy Sy roep gehoor het en dat jy nie net in ‘n sisteem van godsdienstigheid verval het nie. En vra die vraag; Here,wat wil U hê moet ek doen? 
  • Lees: Gen 4; Ps 4; Joh 4
  • Memoriseer: Joh 4:23-24
  • Vir dieper delf: Luister na Tom Gouws se cd-lering oor: Die gees van selfverbetering in die vernuwingskerk.