Dag 1586-1587

 

“…in die boekrol is dit van My geskrywe …”

 (Heb. 10:7, OAV)

 

Ons het in die vorige Manna geleer daar in die ewigheid ‘n verbond gesny is, wat hoofsaaklik gehandel het oor die volvoering van die algehele en oorkoepelende doel van God met alle dinge (Ef. 1:10). Daardie ewige verbond is in die voortyd tydens ‘n byeenkoms of vergadering, met hierdie spesiale agenda, gesluit. Daardie agenda spel God se plan in twee hoofagendapunte uit: die skeppingsdoel van die Seun as Eersteling van alle dinge, en die daaruitvoortvloeiende gestaltegewing van die Liggaam van Christus. In Heb. 10:7 & 5 verklaar Jesus: “Kyk, Ek kom—in die boekrol is dit van My geskrywe—om u wil te doen, o God … U het vir My ‘n liggaam berei.”. Hier word die twee agendapunte van die ewige verbond in die vergadering van die voortyd uitgespel.

Jesus se bereidwilligheid om hierdie agenda van God ten koste van sy fisiese lewe deur te voer, verklaar duidelik die Skrif in Heb. 5:8 – “Hy, al was Hy die Seun, het gehoorsaamheid geleer uit wat Hy gely het”. En veral maak die profetiese vooruitskouing van Jes. 53:10 in hierdie lig geweldig sin: “Maar dit het die HERE (= God) behaag om Hom (= Jesus) te verbrysel; Hy het Hom krank gemaak; as sy siel ‘n skuldoffer aangebied het, sal Hy ‘n nakroos sien …” Dit gaan oor die herstel van al die verlore seuns wat die vaderhuis verlaat het, en uiteindelik deur diep ontbering terugverlang na die Vaderhuis met die baie wonings (Joh. 14:2). God het deur hierdie ontsagwekkende proses van bloed, pyn en sweet gegaan om te verseker die seuns kom weer huis toe. Hy het dit moontlik gemaak dat die verloopte seuns wat uit die ewigheid geval het, ‘n weg kan vind om terug te keer. Daardie Weg is deur sy Seun, Jesus, moontlik gemaak (Joh. 14:6). Daar is helaas geen ander Weg as Hy nie. Sodoende verseker God dat Hy verseker ‘n “nakroos” sal verkry (die ACV vertaal dit as: “he shall see his seed”; die AMP: “He shall see His [spiritual] offspring”; die TYN: “he shall see seed of long continuance”).

MAAR, en dit is ‘n ontsaglike belangrike punt wat ons moet vasmaak. Voor hierdie vergadering gehou is, voor die agenda vasgestel is, voor die besluit gemaak is, voor God se volmaakte plan voorgehou is, voor Jesus ingestem het om die Middelaar te wees, voor die notule – wat bekend sou staan as die Boek van die Lewe van die Lam (Op. 13:8; 21:27), die boekrol waarvan Heb. 10:7 hierbo praat – goedgekeur is, voor Jesus in die voortyd gekruisig is (Op. 13:8), voor dit alles móés daar in die hemele ‘n kosmiese kataklisme plaasgevind het waardeur die seuns van God uit die hemele geval het. Wat presies het dan gebeur?

In Manna Dag 1166-1171 is daar uitvoerig geskryf oor hierdie val uit die ewigheid, maar die rede daarvoor, selfs die status quo wat daarvorens presies plaasgevind het, is nog nie na behore ontrafel nie. In die volgende Manna gaan ons probeer ons uitvind wat die Woord te sê het oor wat eintlik in die voortyd gebeur het.

  • Sela: Wat sou jy sê kon in die voortyd gebeur het wat veroorsaak het dat die Bruid van Christus

uitgeval het?

  • Lees: 1 Kor. 14-16
  • Memoriseer: 1 Kor. 15:12-14 (baie belangrik vir hierdie lering)
  • Delf dieper: Luister na die cd-lering van Tom Gouws: Alle dinge: ‘n Verkenning van die Voortyd

uit die Skrif