Dag 5

 

Want baie is geroep, maar min uitverkies.”  (Mat 22:14, OAV)

Miskien onthou jy nog die ou Hallelujalied:

Saggies en teer is die roepstem van Jesus – / Hy roep vir jou en vir my.

Hy staan en wag aan die deur van ons harte. /Hy roep, o sondaar, kom tuis.

Kom tuis, kom tuis. / Almal wat moeg is, kom tuis.

Saggies en teer is die roepstem van Jesus – Hy roep vir jou en vir my.

Hierdie roepstem van Jesus is volgens Open 3:20 by die deur van jou hart, die oorspronge van jou lewe (Spr 4:23). As jy Sy stem hoor, sal Hy binnegaan en met jou maaltyd hou. Ons het nou al geleer dat hierdie oproep na elkeen toe kom – derhalwe sê Jesus in die Skrif hierbo: baie is geroep. Maar helaas: min is uitverkies.

Uitverkiesing soos dit voorgehou word in die meeste van ons se geloofstradisie het ‘n verkeerde grondslag – dat God na willekeur kies wie Hom sal dien. Ons het al daarna verwys dat die mens se keuse vir God van die allergrootste belang is. En omdat God nie ‘n aannemer van persoon is nie (Hand 10:34-35), met ander woorde: almal is voor Hom gelyk, is die uitverkiesing bloot ‘n term wat dui op diegene wat self gekies het om God te dien. Omdat God alwetend is, het Hy uiteraard geweet wie Hom gaan kies, en “in Christus” (Ef 1:4) ons toe reeds uitverkies het. Dus is ons: “uitverkore volgens die voorkennis van God die Vader” (1 Pet 1:2). Met sy voorkennis (Hand 15:18) het Hy dié wat Hom gekies het, se name ingeskryf in die boek van die lewe (Open 20:12). Dus: baie is geroep, maar min het gereageer op daardie roepstem.

Dit wat God vir Jeremia in 1:5 sê, is derhalwe van almal waar: “Voordat Ek jou in die moederskoot gevorm het, het Ek jou geken …” Terwyl God besig was om die mens te skep, het Christus – as die Wysheid van God (1 Kor 1:24) – gespeel voor sy Vader se Aangesig en sy behae was in die mensekinders (Spr 8: 22-31)! Dus, volgens Rom 8: 29-30 het Hy “die wat Hy vantevore geken het (“foreknow”), die … het Hy ook geroep”. 

  • Sela: Verduidelik hardop aan iemand die hoofgedeelte hierbo.  Lees ook 2 Pet 1:10. Bid en maak jou roeping en verkiesing vas en bepaal waar jy vantevore gestruikel het omdat dit nie gedoen is nie. Dokumenteer dit in jou joernaal. Teken daarby.
  • Lees: Gen 5; Ps 5; Joh 5
  • Memoriseer: Joh 5:39-40
  • Vir dieper delf: Lees hfst 1 en 2 van Dr Willie Marais se boekie Moet elkeen ‘n datum hê? Sy beskouiing is 100% korrek, alhoewel dit lynreg teen die Heidelbergse Kategismus is.