Wat is die oorsprong van depressie, en mag Christene medikasie daarvoor gebruik?

 

BYBELBAAK 70

 

Baie mense sukkel met neerslagtigheid, maar dít is gekoppeld aan omstandighede, en moet nie depressie genoem word nie. Depressie is ‘n komplekse en gevarieërde geestestoestand wat die gevolg is van ‘n unieke kombinasie van genetiese faktore, neurochemiese toestande, omgewinginvloede, sekere gebeurtenisse in die verlede, veral van traumatiese aard, asook lewenstyl. As depressie nié deur ‘n chemiese wanbalans in die brein veroorsaak word nie, is daar dikwels ‘n wortelwond of oorspronklike wond wat depressie meebring. Dit is altyd van die uiterste belang dat ‘n persoon wat dink dat hy/sy aan depressie ly deeglike mediese hulp vir die siektetoestand kry. Die gevaar is egter dat as die psigologiese redes vir die depressie nie grondig hanteer word nie, jy nét van chemiese medikasie afhanklik is, en sal daar nie op die lang termyn genesing uitspruit (Jes. 58:8) nie. Dit is ‘n feit dat chemiese wanbalanse in die brein depressie kan veroorsaak, en dit moet deur ‘n professionele persoon hanteer word. Maar – dit is van groot belang dat die natuurlike, eksterne faktore wat depressie kan aanbring allereers sover prakties moontlik hanteer moet word. Verskeie aspekte van ons moderne leefwyse dien as snellers van ‘n dormante of ontwikkelende siek mediese toestand: swak eetgewoontes, blootstelling aan chemiese medisyne en toksiese voedsel, gebrek aan oefening en ‘n gesonde lewenstyl, stres, onvoldoende rus, en so meer. Al hierdie eksterne faktore moet eers deeglik hanteer word alvorens daar na ‘n pil vir die probleem gegryp word. Al hierdie eksterne rolspelers in die vestiging van ‘n depressietoestand bring mettertyd ‘n fisiese impaktering van die delikate balans in die liggaam mee, en dit kan volgens die nuutste navorsing selfs DNS-mutasies veroorsaak wat die depressietoestand op sellulêre vlak vestig. Eksterne faktore wat depressie kan veroorsaak, is: aangeleerde hooploosheid (“the sense of being trapped and unable to remedy an intolerable situation”) en volgehoue stres. Drie ander wat op die lysie is, is eintlik vrugte van depressie, en nie die wortel nie: negatiewe gedagtes, (onderdrukte) woede en ‘n diepgesetelde skuldgevoel. Al drie hierdie is/kan simptome wees van ‘n depressietoestand, maar is nie die oorsaak daarvan nie. Verwerping en mishandeling kan bepaald ‘n wortelwond wees, en ‘n mens sou by die lysie enige vorm van trauma kan plaas, of molestasie/verkragting, en so meer. Trauma as sodanig is só wyd interpreteerbaar dat al die moontlike oorsake daarvan moeilik gelys sou kon word as oorsake van depressie. God se belofte vir depressielyers lê in 2 Sam. 23:5 – “Want is my huis nie so by God nie? Want Hy het ‘n ewige verbond vir my daargestel wat in alles gereël en verseker is; want al my heil en alle welgevalle, ja, sal Hy dit nie laat uitspruit nie?”

Dr. Tom Gouws