Jy moet ook die altaar van akasiahout maak; vyf el moet die lengte wees en vyf el die breedte—vierkantig moet die altaar wees—en drie el sy hoogte.” (Eks 27:1, OAV)
Die eerste spesifikasie rondom die brandofferaltaar is dat dit van akasiahout gemaak moes word. Akasiahout is ook gebruik om die ark van die tabernakel, die reukofferaltaar en die tafel met toonbrode, asook houtpanele en pilare, te vervaardig.
Die akasia is ‘n groot, hoë doringboom met ‘n growwe geriffelde bas. In die Hebreeus staan dit bekend as shittah, “from its scourging thorns”. Die worteloorsprong daarvan is shotet (“to pierce; to flog; a goad”), wat afgelei is van die woord showt (“lash, scourge, whip”). Die “hout”-gedeelte van die begrip “akasiahout” verwys in die Hebreeus na “to carve, fabricate or fashion”. Die doringboom moes deur ‘n bepaalde proses van verwerking gaan alvorens dit geskik was om in die tabernakel gebruik te kan word.
Voor ons na die ander kwaliteite en eienskappe van die akasia gaan kyk, wil ons net eers stil staan by hierdie belangrike simboliese gegewe. Dorings is deel van die vloek wat die mens met die sondeval geërf het: “En aan die mens het Hy gesê: Omdat jy geluister het na die stem van jou vrou en van die boom geëet het waarvan Ek jou beveel het om nie te eet nie—vervloek is die aarde om jou ontwil; met moeite sal jy daarvan eet al die dae van jou lewe. Ook sal dit vir jou dorings en distels voortbring …” (Gen 3:17-18). Wanneer Yahweh die eerste keer aan Moses verskyn, is dit – insiggewend – in ‘n doringbos: “Daarop verskyn die Engel van die HERE aan hom in ‘n vuurvlam uit ‘n doringbos. En toe hy weer sien, brand die doringbos in die vuur, maar die doringbos word nie verteer nie!” (Eks 3:2). Ons weet dat die wesensaard van God is “’n verterende vuur” (Heb 12:29), “an all-consuming fire” (ISV), ‘n “all-burning fire” (BBE), “a destructive fire” (CEV), “a destroying fire” (GNB), waarom brand die doringbos nie uit nie? Selfs in die natuurlike realm het dit nie gebeur nie (en dit is presies wat Moses “nuuskierig” laat nader staan het, sê Eks 3:4). Waarom gebeur dit só bo-natuurlik en wat sê sit?
As die dorings dan dui op die vloek wat uit die aarde én die mens (wat uit die aarde geskep is) spruit, dui dit onteenseglik op ons vleeslike, sondige natuur. Uiteraard is ‘n boom simbool van vlees, en dorings is simbool van die vloek van sonde, dus is die doringboom ‘n baie mooi voorbeeld van vervalle vlees wat die dood deelagtig is. Daarom praat Paulus ook in Gal 6:8 van “Hy wat in sy vlees saai, sal uit die vlees verderf maai”.
Teen die verwagting in, is die vuur in die doringbos glad nie ‘n negatiewe begrip nie! Deut 33:16 benoem met lofprysinge die “welbehae van Hom wat in die doringbos gewoon het”. Hand 7:30-31 praat van “die vuurvlam van ‘n doringbos”, wat die vuur en die doringbos as ‘t ware metafories een laat word! Waarom brand die dorings dan nie? Waarom bewoon God dit? Dit dan, ten spyte daarvan dat twee verwysings uit Jesaja spreek van hóé onverbiddelik God handel met ongeregtigheid. Jes 9:18 stel dit só: “Want die goddeloosheid brand soos vuur; dit verteer dorings en distels en steek die digte takke van die bos aan die brand, sodat hulle in ‘n rookpilaar opstyg.” En Jes 27:4 stel dit onomwonde sterk: “Kry Ek doring of distel, in oorlog sou Ek daarop aanval, dit alles saam verbrand.”
Soos gewoonlik lê die sleutel in die Nuwe Testament, maar met die rugsteun van ‘n profetiese belofte in Jes 10:17 – “En die Lig van Israel sal ‘n vuur wees, en sy Heilige ‘n vlam; en dit sal sy distels en sy dorings verbrand en verteer op een dag.” Die Nuwe-Testamentiese gedeelte is in ‘n gesprek van Jesus met die Sadduseërs, waarin Hy hulle probeer leer oor die staat van die lewe hiernamaals, en dan spesifiek verwys na Moses en die brandende doringbos: “En wat die dode betref, dat hulle opstaan—het julle nie gelees in die boek van Moses, in die gedeelte oor die doringbos, hoe God vir hom gesê het: Ek is die God van Abraham en die God van Isak en die God van Jakob nie? God is nie ‘n God van dooies nie, maar ‘n God van lewendes.” (Mat 12:26-27).
Dink ‘n bietjie na oor hierdie woorde – Jesus is in gesprek met die Sadduseërs “die wat sê dat daar geen opstanding is nie” (Mark 12:18). Sy byhaal van die brandende doringbos is om te wys dat God lewe uit die dood moontlik maak – Hy is van altyd nog die God van die Opstanding! Hy verwys na die dooie voorvaders Abraham, Isak en Jacob, en sê dan dat God is nie ‘n God van dooies nie, maar van lewendes – dus LEWE hulle, al het hulle gesterwe! Die doringbos is dus enersyds die simbool van vleeslike natuur, sterflikheid en vloek, maar God se verterende vuur-teenwoordigheid DAARBINNE die doringbos laat dit ook die simbool van opstanding uit die dode word! Dít is die profetiese belofte van Jes 10:17 wat hierbo aangehaal is: “op een dag” (=die dag van die kruisiging wat die dag van die opstanding moontlik maak) sal God genoegsaam en volledig en vir altyd deel met die sondedorings wat in ons oë en in ons sye (daar waar ons uit Jesus as Bruid gehaal moet word) is (Num 33:55) en met al die vyande van die kruis wat soos die goddelose nasies (tipologies = afgode) “‘n vangnet en ‘n strik en ‘n angel in julle sye en dorings in julle oë” sal wees (Jos 23:13).
Hierdie opstanding vind nie eendag plaas eers as Jesus weer terugkom nie – dit is ‘n opstanding uit die dood TERWYL ons nog in die lewe is. Phil 3:11 (Ampl) verduidelik dit raak: “That if possible I may attain to the [spiritual …] resurrection [that lifts me] out from among the dead [even while in the body].” Dít gebeur as jy jouself by die koperaltaar neerlê om gekruisig te word. Die koperaltaar verteenwoordig nie net die kruisiging van Jesus nie, maar ook my en jou kruisiging. Die Skrif sê dit is ononderhandelbaar – jy moet jou kruis opneem: “Wie agter My aan wil kom, moet homself verloën en sy kruis opneem en My volg.” (Mark 8:34). Die Amplified ontvou die begrip “deny himself” as “forget, ignore, disown, and lose sight of himself and his own interests”, met ander woorde: doen die wil van God vir sy lewe (Heb 10:7). Daarom kan ons sê: “Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my.” (Gal 2:20).
As ons grond (liggaam/aarde/lewe) “die reën indrink wat dikwels daarop val, en nuttige plante voortbring ter wille van hulle vir wie dit ook bewerk word”, sal ons “deel aan die seën van God”. Maar as dit dorings en distels oplewer, deug dit nie en is naby die vervloeking—die einde daarvan is verbranding.” (Heb 6:7-8). Dié gedeelte word voorafgegaan deur die onrusbarende waarskuwing aan hulle wat nié in hulskeppingsdoel opstaan nie – “Want dit is onmoontlik om die wat eenmaal verlig geword het en die hemelse gawe gesmaak en die Heilige Gees deelagtig geword het, en die goeie woord van God gesmaak het en die kragte van die toekomstige wêreld, en afvallig geword het—om dié weer tot bekering te vernuwe, omdat hulle ten opsigte van hulleself die Seun van God weer kruisig en openlik tot skande maak.” Let wel: hul verloor nie hul redding nie, bloot hul hoë roeping in Christus.
Dis van só groot belang dat Jesus ‘n doringkroon gevleg is wat hom die totale waarde van die akasia toegevoeg het: die “scourging thorns”, “to pierce; to flog”, to “scourge, whip”. Maar daar, op die koperaltaar van die kruis, het hy vir eens en vir altyd met die mindset van dorings gedeal.
- Sela: Is jy al gekruisig?
- Lees: Spr 31; Pred 1-2
- Ondersoek die vervulling: Lees Spr 31:16 (Wenk: Mat 13:44; Joh 15).
- Delf dieper: Luister na Tom Gouws se cd-lering: Die vuurvlam van ‘n doringbos en jou doringkroon