BYBELBAAK 80
Dis vir my verblydend dat jy in die laerskool al Bybelbaak lees! Jou vraag dui alreeds aan dat jy goeie insig het, en duidelik ook geestelik baie meer volwasse is as jou portuurgroep. Daar is eintlik twee vrae. Eerstens: mag ek iets doen wat my ouers nie goedkeur nie? Kol. 3:20 is duidelik daaroor: “Kinders, julle moet jul ouers in alles gehoorsaam wees …” Selfs al is ouers soms nie reg in hul oordeel nie, is dit steeds belangrik om na hulle te luister. Jy het ook die voordeel om vir hulle te bid om tot insig te kom oor dinge waarin jy voel hulle dalk onredelik kan wees. Tweedens: Die boekreeks met Harry Potter as hoofkarakter verkoop miljoene kopieë en volwassenes is verheug daaroor dat kinders hierdeur weer aan die lees kom. Tog is daar ernstige besware teen wat genoem word towery en die anti-christelike gebeure in die reeks. Kritici noem dit selfs ‘n ensiklopedie van Satanisme, maar dit is bietjie vergesog. Die persoon wat oor satanisme wil leer, kan op makliker maniere op die internet daarvan te wete kom as om die avonture van Harry as ‘n postmoderne wiz-kid te volg. Verbeelding en fantasie help kinders om simbolies te identifiseer met die goeie. Jong lesers ervaar ’n groot behoefte aan die belewing van die avontuurlike, misterieuse, spannende situasies, gevaar en risiko’s. Daar is ook ‘n belangstelling in vreemde lande en ontdekkingsreise. Die vreemdheid van die towerwêreld en die ontdekkings wat Harry in hierdie wêreld maak, help die leser om hom in hierdie avonture uit te leef. Deur te identifiseer met die karakters word geleer om onvoorspelbaarheid en verandering kreatief te verwerk, morele keuses te maak en emosionele probleme te oorkom. Die Harry Potter-reeks help lesers oor hoe om mag te hanteer, veral die gevoel van magteloosheid wat volwassenes soms veroorsaak. Harry raak heelwat relevante temas aan, bv. die outoritêre mag van ouers en opvoeders, die hantering van ontluikende seksualiteit, en dood en sterflikheid. Harry leer algaande ‘n dissipline wat deel uitmaak van sy vorming en ontwikkeling tot volwassenheid. Die waardes wat in die boeke na vore kom, is die stryd tussen goed en kwaad, die belangrikheid van spanwerk, die gevolge van oortredings en antisosiale gedrag, individuele en kollektiewe morele verantwoordelikheid en die gelykheid van die geslagte. Die tekste slaag daarin om denke te stimuleer en nuwe vrae te genereer. Harry Potter leer waardes van morele moed, vergifnis, eerlikheid, beskeidenheid, mededeelsaamheid en eenvoud in ‘n tegnologiese en elektroniese wêreld bevestig en om die verwondering oor die lewe te behou. Besorgde Christen-ouers kan die boeke as ‘n geleentheid gebruik om hul kind te begelei en toe te rus om die toenemende aanvaarding van pagan praktyke in ons kultuur te leer onderskei en hanteer. My gunsteling skrywer, G.K. Chesterson, verduidelik dat sy reis na die Christelike geloof begin het met fantasieverhale wat hom geleer het die wêreld is “precious but puzzling, coherent but mysterious, full of unseen connections and decisive truths”. Leerders behoort aan hierdie soort literatuur blootgestel behoort te word, omdat hulle wel ‘n vermoë het om te onderskei tussen werklikheid en fantasie. Hulle beleef dikwels die fantasiewerklikheid meer ordelik as die werklikheid omdat hulle weet dat dit nie deel van hulle eie werklikheid is nie. ‘n Gebrek aan kennis van die fantasiegenre, asook ‘n vrees vir die onbekende, veroorsaak dat fundamentalistiese groepe aanspraak daarop maak dat die Harry Potter-reeks satanisties is. Connie Neal se ‘The Gospel according to Harry Potter’ is ‘n ewewigtige beskouing wat ouers oor die boekreeks kan gerusstel. Twee grootse Christelike skrywers van fantasieliteratuur, J.R.R. Tolkien en C.S. Lewis, se werke kan veral in die genre aanbeveel word. Laastens: wees gerus, anders as wat vroeër geleer is: deur die boeke te lees, of die flieks te kyk, kan demone nie net in die leser/kyker inkom nie: “Daar is niks wat van buite af in die mens ingaan wat hom onrein kan maak nie; maar die dinge wat van hom uitgaan, dít is die dinge wat die mens onrein maak.” (Mark. 7:15).
Dr. Tom Gouws