BYBELBAAK 81
Die bevryding van sondebewustheid is die basis van die ganse evangelie. 2Kor. 7:10 is ‘n kernskrif in dié saak: “Want die droefheid volgens die wil van God werk ‘n onberoulike bekering tot redding, maar die droefheid van die wêreld werk die dood.” Toe Jesus sy dissipels geleer het oor die Heilige Gees het Hy benadruk dat nét die Gees oortuig van sonde (Joh. 16:8), nié Satan nie – hy kla jou aan (Open. 12:10; Job 1:9; 2:5; Sag. 3:1-2). Baie gelowiges leef met ‘n skuldige gewete en ‘n gevoel van mislukking dat hul nie God se merk maak nie. Maar daardie oortuigings kom nié van die Heilige Gees af nie, maar van die teenstander! Dit is die wyse waarop hy jou probeer sif (Luk. 22:31)! Omdat die “brullende leeu” se tande by wyse van spreke by die kruis getrek is, is hy vir gelowiges niks minder of meer as ‘n tandelose bangprater nie. Hy werk nog aktief in ongelowiges, asook in die wêreld (1Joh. 5:19), maar hy is ook aktief in gelowiges vir wie hy in ‘n strik gevang het om sy wil te doen (2Tim. 2:26). Maar, ons móét onsself bewaar sodat die Bose géén vat op ons kan kry nie (1Joh. 5:18). Ons moet om van die Bose bewaar (Joh. 17:15; 2 Thess. 3:3), én verlos te word (Matt. 6:13). Wéét dat God jou strategie wil gee om jou uit te red uit die teenwoordige bose wêreld (Gal. 1:4) – ons moet standvastig in die geloof die lasterende dier teëstaan (1Pet. 5:8-9; Open. 13:6) wat “met wonders van die leuen en met allerhande verleiding” (2Thess. 2:9-10) ons van sonde wil oortuig. Baie gelowiges voel ná hul redding en wedergeboorte dat hul nie waardig is om ‘n kind van God genoem te kan word nie. Hul intense bewuswees van hul donker natuur en sondebewustheid blokkeer hul om nie effektief te kan bid en funksioneer nie. Hulle voel soos weeskinders, en nie soos geliefde seuns nie, en dit roof hul vrymoedigheid met hul Vader. Hulle kan kwalik hul geloof beoefen, want hulle word rondgeslinger (Deut. 28:29). Om verby Satan se aanklagte te kom, moet die gelowige homself deurgaans beroep op die feit dat Jesus verskyn het om jou persoonlike sonde weg te neem (1Joh. 3:5). Johannes die Doper se (h)erkenning van Jesus as Paasofferlam bly die mooiste proklamasie: “Dáár is die Lam van God wat die sonde van die wêreld wegneem!” Jesus het vir elke sonde, ongeregtigheid en oortreding (Ps. 51:2-3) gesterf, die verlede EN die toekoms s’n, en derhalwe elke garingdraad van jou donker natuur se demoniese mantel as sodanig hanteer en verander in ‘n mantel van heil (Jes. 61:10). Die grondsteen van redding en verlossing spel Rom. 10:9-10 klinkklaar uit: “As jy met jou mond die Here Jesus bely en met jou hart glo dat God Hom uit die dode opgewek het, sal jy gered word; want met die hart glo ons tot geregtigheid en met die mond bely ons tot redding.” In 1Joh. 1:9 word hierdie onwankelbare waarheid gegee: “As ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig.” 1Joh. 1:7 maak dit vas: “die bloed van Jesus Christus, sy Seun, reinig ons van alle sonde“. Let wel: ALLE SONDE. Alhoewel ons durend teen die sonde moet heers, leef ons nou uit ‘n ander identiteit van totale vryspraak en geregtigheid, onder ‘n Vader wat met ons swakhede medelye het (Heb. 4:14-15), en ons bly vergewe as ons steeds oortree en sondig (1Joh. 2:1-2), want 2Tim. 2:13 sal jou immer weer na Hom laat terugkeer: “As ons ontrou is, Hy bly getrou; Hy kan Homself nie verloën nie.”
Dr. Tom Gouws