BYBELBAAK 121
By God is daar nie ‘n aanneming van die persoon nie, soos Rom. 2:11 dit stel, met ander woorde: uit die oogpunt van God, hanteer Hy mense nie verskillend nie, en bevoordeel hy nie een persoon bo ‘n ander nie. God het sy oorspronklike reddingsplan aan die nasie Israel toevertrou het. Van al die volke op die aarde het Hy Israel uitgekies. Deut. 7:6-7 spel dit uit: “Want jy is ‘n volk heilig aan die HERE jou God; jou het die HERE jou God uitverkies om uit al die volke wat op die aarde is, sy eiendomsvolk te wees. Die HERE het ‘n welgevalle aan julle gehad en julle uitverkies, nie omdat julle meer was as al die ander volke nie, want julle was die geringste van al die volke.” Dit lyk op die oog af na bevoorregting, maar Israel se uitverkiesing was primêr om die koninkryk van God vir almal te laat kom. Met ander woorde: Israel as uitverkore nasie was die instrument om al die ander goddelose volke terug te bring tot verhouding met God. Dít was immers ‘n belangrike deel van die belofte wat God aan Abraham gemaak het: dat al die nasies van die wêreld in hom geseën sal word (Gen. 18:18). In die Talmoed word dit soos volg gestel: “The Jewish people went into exile only in order to make converts, meaning to teach the nations faith in the One God.” (Babylonian Talmud, Pesachim 87b.) Die evangelie van God word in hierdie sin uitgespel deur Petrus in Hand. 15:9 waar hy die Jode aanspreek: “En Hy het geen onderskeid tussen ons en hulle gemaak nie …” In Rom. 10:12 stel Paulus dit ook onomwonde: “Want daar is geen onderskeid tussen Jood en Griek nie; dieselfde Here tog is Here van almal en is ryk oor almal wat Hom aanroep.” Joh. 3:16 spel uit dat God “die hele wêreld” liefgehad het en derhalwe sy Seun gestuur het. Die evangelie van die Seun bewys ook geen bevoorregting in terme van uitverkiesing nie. Tit. 2:11 (Ampl) – “For the grace of God (His unmerited favor and blessing) has come forward (appeared) for the deliverance from sin and the eternal salvation for all mankind.” Die Message parafraseer dit eietyds só: “God’s readiness to give and forgive is now public. Salvation’s available for everyone!” Eenvoudiger as Rom. 3:22 kan dit nie – “die geregtigheid naamlik van God deur die geloof in Jesus Christus vir almal en oor almal wat glo, want daar is geen onderskeid nie …”
Dr. Tom Gouws