Behoort drome enigsins ‘n rol te speel in gelowiges se lewe?

 

BYBELBAAK 42

Job 33:14-18 spel die belangrikheid van drome as ‘n wyse van kommunikasie uit waarmee God met mense praat. Uit Num 12:6, Hos. 12:10 en Hand. 2:16 blyk dit duidelik dat God op hierdie wyse met ons praat. Deurgaans het die Nuwe-Testamentiese skrywers hul lering en openbaring aan drome en visoene gekoppel, soos Paulus dit dan ook in 2 Kor. 12:1 verdedig deur te sê: dat hy “sal kom tot gesigte en openbaringe van die Here”. Dit is belangrik om geestelike drome te onderskei van natuurlike drome. Die beginsel in Pred. 5:3 sê dat baie drukte bring drome voort, met ander woorde as jy enige druk ervaar, is die kans groot dat jy daaroor sal droom – dis ‘n natuurlike proses om die tumult in jou binneste te verwerk (sien Jes. 29:8). Jy MOET egter in die rus van God wees (Heb. 4:10) om enigsins jou drome geestelik te interpreteer. As jy met ander woorde ontstel is oor finansiële druk, moet jy nie jou natuurlike drome daaroor vertrou nie. As jy wel finansiële nood het, maar rustig op God wag vir strategie, sal Hy bes moontlik met jou praat deur ‘n geestelike droom. Geestelike drome is ‘n wyse waarop God met jou praat en kan ‘n paar moontlike redes ten grondslag hê. Dit kan gaan oor onmiddellike sake en gepaardgaande opdragte (Hand. 16:9-10); dit kan rigtinggewend wees rondom persoonlike en praktiese sake (Gen. 31); dit kan profeties wees ten opsigte van toekomstige gebeure en dispensasies (Gen. 37:9-11); dit kan wees om geestelike waarhede en wetmatighede te kommunikeer (Hand. 10:10-16); dit kan oor persoonlike roeping gaan (1 Kon. 3:5; Gen. 41:1-8); dit kan waarskuwend wees (Gen. 20:3-7; Mat 2:12; 27:19); dit kan strategies wees (Rigt. 7:13; Matt. 1 & 2); dit kan oor die lotgevalle van volkere gaan (Gen. 15; Dan. 4), en so meer. Omdat drome maklik geroof word (Job 20:8), is dit baie belangrik dat ons ‘n regte ingesteldheid daar rondom sal ontwikkel – neem jou drome as geestelike persoon ernstig op (1 Kor. 2:14-15). Vra God eksplisiet om só met jou te praat. Hou ‘n joernaal langs jou bed waarin jy onmiddellik as jy wakker word die droom kan neerskryf. Gód gee die interpretasie van drome en visioene. Soos Daniël (2:17-18) moet ons na God toe gaan om die geheimenis van drome te ontsyfer. Maak soos Gideon, wat, toe hy luister na die uitleg van ‘n droom, die interpretasie by God gaan toets het (Rigt. 7). Die eerste beginsel by geestelike droomuitleg is Spr. 28:5: ”die wat die HERE soek, verstaan alles”. Drome is simbolies, en die meeste van die tyd (95%) persoonlik van aard. As jy van ander persone droom, gaan dit nie noodwendig oor hulle en iets wat God vir hulle wil sê deur jou droom nie (baie misleiding vind so plaas) – persone in jou droom verteenwoordig dikwels iets baie spesifiek rondom/vir JOU. Vra jou dus af: wat verteenwoordig hierdie persoon in my lewe? Met die loop van tyd ontwikkel jy ‘n persoonlike droomsimboliek. Ek het ‘n ernstige probleem met enige droomsimboliek-woordeboek wat vaste betekenisse aan sekere items, kleure, en so meer, heg. Die Bybel gee dikwels simboliese betekenisse, maar vir jou kan dit ‘n totaal ander betekenis dra. Vra God vir die betekenis – dit is immers Hý wat met jou probeer kommunikeer!

Dr. Tom Gouws