BYBELBAAK 76
Die uil is jammerlik genoeg in baie geloofs- en bygeloofstradisies ‘n simbool of teken van ongeluk en dood. Onkundiges het deur die opbou van folkloristiese oorleweringe onskuldige diere soos slange, skerpioene en uile gedemoniseer. Ten spyte daarvan dat die Bybel uile as onrein om te eet beskou, word hulle simbolies wel geassosieer met demoniese aktiwiteite (in Jes. 13:21 word hulle bv. saam met “veldduiwels” genoem). Hulle word geassosieer met puinhope (Ps. 102:6) miskien omdat daar meer muise skuil. Daar steek geen waarheid in die assosiasie van uile met die sogenaamde “wagters” nie. Die meeste informasie oor hierdie demoniese verband wat gelê word, het geen Bybelse substansie nie. Wagters of bodes (soos in Dan. 4) is ‘n woord wat as sinoniem vir goeie en slegte engele in van die apokriewe Bybelboeke (veral Henog) gebruik word. Daar is mense wat die begrip koppel aan die engele van Gen. 6 wat gemeenskap met aardse vroue gehad het en die reuse (of nefelim) voortgebring het (later bekend as die nasie van Enak – Num. 13:33), maar hulle dra bes moontlik ‘n totaal ander (tipologiese/simboliese/geestelike) betekenis, want engele is onteenseglik geestelike wesens (Heb. 1:14), en as daar destyds gemeenskap en saadvermenging tussen fisiese-vleeslike mense en nie-materiële geestelike wesens kon wees, waarom is daar vandag nie óók steeds reuse van dié aard nie? Maar dan, op die keper beskou – wát het die twee enigsins met mekaar te doen? Ek kry nie die uil se kloutjie by die engel se oor nie! Christene huldig dikwels sulke onsinnige oorleweringe wat geen basis in die fisiese of geestelike realms het nie. Terug by die onwelkome waker in Silverlakes – dit is bes moontlik nét ‘n effens verwarde uil.
Dr. Tom Gouws