
BYBELBAAK 6:
In hoofstukke 4 en 5 van sy boek Skadu’s van die toekoms posisioneer Rick Joyner veel van wat in die “eindtyd” moet gebeur ook in terme van Israel. Hy waarsku teen die gevaar van die sogenaamde “vervangingsteologie”; hy noem Israel “die bakermat van die kerk”. Rom. 9-11 word heeltyd voorgehou as die grondslag van ‘n teologie wat die natuurlike Jood en Israel ‘n onaantasbare posisie bied. Hy sê: “Dit kan net op die Jode van toepassing wees volgens die vlees, want in hierdie teks is duidelik dat onderskeid gemaak word tusen hulle en nie-Joodse gelowiges.” (p. 74). Die brief aan die Romeine bied egter in totaliteit ‘n radikaal presies teenoorgestelde beredenering oor die Jood se posisie in die nuwe verbond, ook ten opsigte van die natuurlike en geestelike Israel se aansprake. In Rom. 1:16-17 maak Paulus dit duidelik dat die “evangelie van Christus” is vir elkeen wat glo, eerstens vir die Jood, maar ook vir die nie-Jood. In Rom. 2:11 spel hy uit dat God geen mens (of volk) bo ‘n ander “uitverkies” nie. In Rom. 2:28:28-29 gee hy die Nuweverbonddefinisie van wie ‘n Jood is: NIE een wat dit in die vlees is nie, maar wat dit in die gees is deur wedergeboorte. Hierdie word die definisie van Joodskap vir die res van die brief! In Rom. 3:9 spreek Paulus sy volksgenootjode aan en spel dit eksplisiet uit: “Het ons enige voorrang? Hoegenaamd nie!” In vers 29 sê hy dan ook dat Jode en heidene almal aan God toebehoort, wat Abraham die vader van “ons almal” (Rom. 4:16) maak. In Rom. 9:4-8: “Hulle is Israeliete aan wie die aanneming tot kinders behoort … hulle is NIE almal Israel wat uit Israel is nie … Ook nie omdat hulle Abraham se nageslag is, is hulle almal kinders nie. Dit wil sê, nie hulle is kinders van God wat die kinders van die vlees is nie …” In Rom. 9:27 haal Paulus vir Jesaja aan en stem saam: net ‘n oorblyfsel van die biologiese Jode sal gered word, dié wat deur Jesus Christus verlos is. Uit die Jode sal dus net ‘n oorblyfsel gered word – ons noem hulle Messiaanse Jode (Rom. 11:5). Die olyfboom waarin ons ingeplant is (:17-18), is nie Israel nie, maar Christus, die Gesalfde! Israel as volk se verblinding oor die Messias is as gevolg van ‘n verharde hart; dit is duidelik nie op ALLE Jode van toepassing nie, anders sal geeneen van hulle tot bekering KON kom nie! Trouens, AL die eerste Christene was Jode, want die evangelie was vir 3 en ‘n half jaar NET aan Jode gebring (Rom. 1:16; Matt. 15:24). Met die voltrekking van Daniël se presiese profetiese uitspeling van God se verbond met “Israel na die vlees” (1 Kor.10:18), wat tot ‘n einde kom in die herfs van 34 n.C. met die dood van Stefanus, breek die “volheid van die tyd aan” waarvoor God sy Seun gestuur het (Rom. 11:25-26) om vir Israel na die gees redding te laat kom, almal – Jood én heiden.
Dr. Tom Gouws