BYBELBAAK 45
Die Rooms-Katolieke kerk glo Maria is die sogenaamde moeder van God, omdat sy as maagd Jesus – die seun van God wat ook God is – verwag en gebaar het. Maria was egter ‘n gewone mens, sondig en sterflik. Sy het bloot haar skeppingsdoel vervul (Luk. 1:38). Dit was ‘n enorme voorreg, en sy was bepaald begenadig vir dié ereposisie. Maar – dit maak nie van haar enigsins ‘n verlosser soos haar Seun Jesus (na die vlees) nie: “En die saligheid is in niemand anders nie, want daar is ook geen ander naam onder die hemel wat onder die mense gegee is, waardeur ons gered moet word nie.” (Hand. 4:12). In ‘n gedig van Elisabeth Eybers oor Maria stel die digterlike spreker telkens die positiewe belewenisse wat sy rondom die geboorte van Jesus ervaar het teenoor die ontsettende pyn wat Hy moes deurmaak om Sy taak te volvoer. Teen die einde van die gedig word die eens “begenadigde” nooi uit Nasaret “vrou van smarte” genoem, analoog aan “die man van smarte” (Jes. 53:3). Sy het in so ‘n mate met haar Seun geïdentifiseer dat sy as moeder een met Hom in sy lyding gevoel het. Inderdaad het die profetiese woorde van Símeon oor haar waar geword: “’n swaard sal deur jou eie siel gaan” (Luk. 2:35). Die woord wat daarvoor gebruik kan word, is medelye (‘compassion’). Hierdie woordjie, uit die Latyn, beteken: “to suffer with”. God het nie net Maria uitgekies vir dit wat sy gebied het in terme van die aangename en goeie dinge rondom die Messias nie. Sy is veral ook gekies om deurgaans deel te hê aan sy lyding, al was dit soms op ‘n afstand (Mark. 15:40). En deurentyd is sy dáár: as sy vol angs na Hom soek as Hy as kind wegraak (Luk. 2:48); by die kruisiging (Joh.19:25); by die graf (Matt. 27:61); eendragtig saam met die apostels in gebed (Hand. 1:14) vir die uitstorting van die Gees, ook daarna (Hand .12:12) – immer daar om solidariteit en medelye te demonstreer. Daarom noem Eybers haar tereg “vrou van smarte” – she certainly suffered with. Die evangelie van die koninkryk van God is geen ‘easy enterprise’ nie. Dis alles of niks – óf Christus kry in jou gestalte, soos in Maria, óf nié – soos Paulus gesê het: “my kinders, vir wie ek weer in barensnood is totdat Christus in julle ‘n gestalte verkry” (Gal. 4:19). Ons almal moet “deelgenote … aan die lyding” (2 Kor. 1:7) word, “sodat ek Hom kan ken en die krag van sy opstanding EN die gemeenskap aan sy lyde terwyl ek aan sy dood gelykvormig word” (Fil. 3:10). Hiervan is Maria bepaald ‘n wonderteken en prototipiese voorbeeld vir ons, maar helaas geen verlossersfiguur nie. Sy verdien geen minagting van enigeen weens die Rooms-Katolieke kerk se verkeerdelike verafgoding van haar nie. Hierdie vals posisie word demonies gedryf deur die prinsipaliteit genaamd die koningin van die hemele (‘the queen of heaven’ – Jer. 7:18; 44:17-25) wat haar gestalte, onder andere, gebruik om misplaaste outoriteit in die kerk te vestig.
Dr. Tom Gouws