Dag 1

“Het ek jou nie kernagtige spreuke voorgeskrywe met raadgewinge en kennis, om jou bekend te maak waarheid … nie?” (Spr 22:20-21, OAV)

In die meeste Engelse Bybelvertalings word die eerste deel van die vers nie as “kernagtige spreuke” vertaal nie, maar as “excellent things”. Ander vertalings noem dit, interessant genoeg, “thirty sayings”, of dan ook: “three manner of ways” (DRB). The Message noem dit “thirty sterling principles – tested guidelines to live by”. Vandaar dan ook die mooi titel van die reeks.

Die woordjie “kernagtig” in die oorspronklike Hebreeus kan ‘n paar betekenisse hê. Dit kan 3 of 30 (of die vermenigvuldige veelvoude 300 of 3000) beteken, of “uitstekend”, selfs “prins of generaal van die derde rang” (dit is die een met die hoogste outoriteit). 

Met die herlees van Oswald Chambers se tydlose dagjoernaal, My utmost for His Highest, het ek een oggend ‘n opdrag van die Here gekry om ‘n soortgelyke, eietydse boek te skryf wat op ‘n kernagtige wyse bepaalde openbaringskennis, “excellent things”, aan die leser bied. Dié “tested guidelines to live by” moet gerig word daarop om die gelowige in staat te stel om in geestelike volwassenheid en outoriteit te begin leef, om derhalwe deur dié “sterling principles” ‘n prins of generaal van die derde rang (dit is: die hoogste rang) te word.

Die getal dertig in die Skrif dui op geestelike volwassenheid. Op dertigjarige ouderdom het Jesus se bediening begin, so ook Dawid s’n, en Josef s’n. Geestelike volwassenheid beteken dat jy in die derde dimensie begin leef het. (Later meer hieroor.)

Geestelike volwassenheid beteken dat jy nie meer net ‘n geestelike kind is nie (Joh 1:12), maar ‘n seun geword het (Rom 8:14). “So lank as die erfgenaam ‘n kind is, verskil hy niks van ‘n dienskneg nie, al is hy heer van alles; maar hy staan onder voogde en bestuurders.” (Gal 4:1-2). Dáárdie tyd is die tyd van geestelike volwassenheid – wanneer jy in die volle outoriteit van die Vader kan beweeg. 

  Ek bid dat hierdie studiereis met kernagtige waarhede jou daartoe sal begelei om Christus, die Wysheid van God (1 Kor 1:24), te leer ken, en die krag van sy opstanding in die derde dag (Fil 3:10; Hos 6:2).

  • Sela: Bedink en bid oor wat die eienskappe van ‘n geestelik volwasse persoon sal wees. Probeer deur die Heilige Gees bepaal waar jy staan in jou geestelike wandel en outoriteit.  
  • Lees: Gen 1; Ps 1; Joh 1
  • Memoriseer: Joh 1:4,12-13
  • Vir dieper delf: Luister na Tom Gouws se cd-lering oor: Staan op in jou skeppingsdoel.