Dag 100

 

“For God has done what the Law could not do, [its power] being weakened by the flesh [the entire nature of man without the Holy Spirit]. Sending His own Son in the guise of sinful flesh and as an offering for sin, [God] condemned sin in the flesh [subdued, overcame, deprived it of its power over all who accept that sacrifice]” (Rom 8:3, AMP).

Met die sterfte van Christus het Hy, sê Heb 9:12, “met sy eie bloed, een maal ingegaan in die heiligdom en ‘n ewige verlossing teweeggebring”. As gevolg van die feit dat Jesus as substituut tot die kontrak toegetree het, is die wettiese voorskrifte van die verbond vervul en het die wettiese aspek van die verbond op Sinaï verval; dit word vervang met ‘n nuwe verbond. Daar is net een wyse waarop jy egter deel van hierdie nuwe verbond kan word, en dit is deur wedergeboorte. Ons moet die offer wat Jesus gebring het, aanvaar en dit met geloof verenig. Dan is Joh 1:12-13 waar: “Maar almal wat Hom aangeneem het, aan hulle het Hy mag gegee om kinders van God te word, aan hulle wat in sy Naam glo; wat nie uit die bloed of uit die wil van die vlees of uit die wil van ‘n man nie, maar uit God gebore is.” Hierdie wedergeboorte, noem Kol 2:11, “’n besnydenis wat nie met hande verrig word nie”. 

Nou is die weg tot God geopen en deur die sluiting van die nuwe verbond, is dit vir jou moontlik om ‘n lewende verhouding met God te kan hê. 

  Binne hierdie nuwe verbond, het jy NIKS meer te doen met die verbond van Sinaï nie. Rom 7:6 stel dit onomwonde: “Maar nou is ons ontslae van die wet waardeur ons gebonde was, aangesien ons dit afgesterf het, sodat ons dien in die nuwigheid van die Gees en nie in die oudheid van die letter nie.” 

Waarom word die wet Sondag na Sondag in tradisionele kerke oor die gelowiges gespreek as ons dan nie meer onder die wet is nie? Gal 5:4 maak hierdie ontstellende uitspraak: “Julle wat geregverdig wil wees deur die wet, is losgemaak van Christus; julle het van die genade verval.” Skrik! Inderdaad is dit so: as daar enigsins geregtigheid deur die wet is, dan het Christus tevergeefs gesterf (Gal 2:21)! Knoop dus asseblief Rom 10:4 aan jou hart: “Want Christus is die einde van die wet tot geregtigheid vir elkeen wat glo.”

 

  • Sela:  ‘n Godsdienstige lewe is ‘n lewe van wettiesheid, nie van verhouding met God nie. 
  • Lees: Rig 10; Ps 100; Hand 10 (En juig voor die Heer dat jy al by Dag 100 is ☺!)
  • Memoriseer: Hand 10: 34-35 
  • Vir dieper delf: Lees Hfst 7 in Arthur Pink se The divine covenants.