“Elía kom eers en sal alles herstel.”
(Mat. 17:11, OAV)
Ons is besig met die boek Maleagi se Ou-Testamentiese kulminasie van waarskuwings aan die Levitiese priesterskap en Israel, en die interessante verband met Johannes die Doper en die gees van Elia.
God se voleindiging van die verbond met Israel en sy diensdoenende priesters sal ingelei word deur “die gees van Elia” (Mal. 4:5-6). Daarna hoor God se verbondsvolk, Israel en die Leviete, kortom – níémand, meer die stem van God nie. As God deur Johannes die Doper dan vir die eerste keer in 430 jaar weer praat, sê Hy kragdadig: “Bekeer julle, want die koninkryk van die hemele het naby gekom.” (Mat 3:2). Die koninkryk van Israel word vervang met die koninkryk van God. Dit word ook bevestig deur Jesus, die verwagte Messias, Hý tot wie die ganse geskiedenis van Israel opgebou het, as Hy vir die eerste keer praat, en dit ook sý presiese eerste woorde is: “Van toe af het Jesus begin om te preek en te sê: Bekeer julle, want die koninkryk van die hemele het naby gekom.” (Mat 4:17).
Die woordjie wat hier vir “bekeer” gebruik word, is metanoeō, wat beteken “to change one’s mind” (Thayer), in die sterk sin van reformeer. Johannes die Doper en Jesus die Christus het ‘n nuwe Reformasie ingelei. Bruxy Cavey stel dit raak: “Jesus … have successfully replaced religion with himself” (The End of Religion, p. 146). Híérvan sal Johannes die Doper die voorloper of wegbereider word.
In die lig van die geskiedenis van Elia en Elisa en die geestelike vader- en seunskap tussen hulle, word dié verbondsverhouding die gestelde standaard van die nuwe verbond.
Wanneer Jesus oor Johannes die Doper praat, ken Hy aan hom die hoogste posisie toe in die volle voorafgaande vierduisend jaar van die Ou Testament. Vanaf Adam tot en met nou, sê Jesus, was daar niemand groter van geestelike statuur en belangrikheid as Johannes die Doper nie. Jesus verklaar hierdie man se woorde as gesanksioneerde Godspraak.
Maleági het geprofeteer dat die gees van Elia hierdie nuwe bedeling (in die gestalte van Johannes die Doper) sal inlei, en dat dit hoofsaaklik sal gaan oor geestelike vaderskap, miskien dié belangrikste verantwoordelikheid wat enige priesterdom móét fasiliteer, in God se eie woorde – “Ek sal vir hom ‘n vader wees, en hy sal vir My ‘n seun wees.” (2 Sam. 7:14). [Lees weer Dag 363 oor hierdie onderwerp.]
Johannes die Doper verteenwoordig ten diepste die daarstelling van ‘n nuwe priesterskap. Daarom is dit so duidelik dat die laaste twee verse van Maleági die hele vooropstelling van die gees van Elia in Johannes die Doper voorafgegaan. Miskien is die belangrikste mandaat van die gees van Elia dié woorde van Jesus in Mat. 17:11 – “Elía kom eers en sal alles herstel.”
Wat dit presies beteken, sal in die volgende Mannas deeglik uitgetrap word.
- Sela: Probeer verstaan wat presies beteken dit dat Johannes die Doper Elia is wat sou kom (Mat. 17:11).
- Lees: 64-66
- Memoriseer: 64:4
- Delf dieper: Luister na Hein Holm se cd-lering: Nie meer verslaaf aan ‘n vaderlose sisteem nie