Dag 1007-1008

 

“die belofte van my Vader”  

(Luk. 24:49, OAV)

 

Mannalesers moet aan hulle oor knoop waar ons in ons ontvouende openbaringspad onsself bevind – ons is besig met die uitspraak van Jesus dat dit makliker vir ‘n kameel is om deur die oog van ‘n naald te gaan as vir ‘n ryk man om in die koninkryk in te gaan. Dit het ons gebring by Johannes die Doper, “a man dressed up as a camel”, en wat dit beteken dat Johannes as manifestasie van die gees van Elia die ou verbond kom afsluit het en ‘n nuwe dispensasie ingelui het. Ons is tans besig om die manifestasie van die gees van Elia te ondersoek.

Voor ons egter verder gaan, is dit van belang om die bedoeling van die vaste uitdrukking “die gees van” te presiseer. Dikwels is daar by gelowiges verwarring daaroor, want wanneer daar gepraat word van “die gees van …” lyk asof dit iets is wat die Heilige Gees vervang.

Dít is egter nie so nie. Kom ons lé net bietjie fondasie ten opsigte van die Heilige Gees self. Daar is veel al in die Mannas geskryf oor die werkinge en die manifestasies van die Gees van God, maar ons het min gegrondves oor die wesensaard van die Gees. Hierdie agtergrond sal noodsaaklik wees om iets te verstaan van die begrip “die gees van” wat frekwent in die Bybel voorkom.

Ons het in die vroeëre Mannas die onderskeid tussen siel en gees verduidelik (Dag 6-7), ook dat in die tuin van Eden die mens se gees gesterf het (Dag 48-49), en dat dit beteken dat sy geesdimensie dormant geword het in die geslagte daarna. Ook die onderskeid tussen  lewensasem, of ruach, en Gees (Dag 235), is getref. Gaan lees dit weer ter agtergrond.

Johannes die Doper sluit ‘n epog van die mens se geskiedenis op aarde af. In Mat. 11:11 maak Jesus hierdie belangrike taksering: “Voorwaar Ek sê vir julle, onder die wat uit vroue gebore is, het daar nie een opgestaan wat groter is as Johannes die Doper nie; maar die kleinste in die koninkryk van die hemele is groter as hy.” Van die hele Ou-Testamentiese tyd is Johannes die Doper die grootste! Hy is met ander woorde groter as ons geloofsvader Abraham; hy is groter as Moses, vir wie God sy vriend genoem het en aan wie die wet toevertrou is; hy is groter as Dawid, die geliefde van God, aan wie die belofte gegee is dat op sý troon daar tot in ewigheid iemand van sy nageslag sal sit! Johannes die Doper was groter as al die getroue profete, selfs groter as Simson en Salomo (Dag 560-562) wat elkeen in die Ou Testament reeds die openbaring van die Christus gehad het! Hoe kan dit wees?

Daar is net een enkele rede hiervoor. Anders as enigeen voor hom, Adam uitgsluit, het Johannes die Doper die Gees van God IN hom gehad. Al die ander kón nie die Gees in hulle gehad het nie, want hule geesfakulteit wat die Gees moes ontvang, was dormant. Ons lees dat oor Johannes die Doper geprofeteer word in Luk. 1:15 – “want hy sal groot wees voor die Here. En wyn en sterk drank sal hy nooit drink nie, en hy sal vervul word met die Heilige Gees reeds van die skoot van sy moeder af.” Deur ‘n soewereine daad van God het Hy besluit om hierdie voorloper van die nuwe epog met die Gees van God IN hom te verseël.

Hoe het dit gebeur? Luk. 1:41 gee die antwoord: “En toe Elisabet die groet van Maria hoor, het die kindjie in haar skoot opgespring; en Elisabet is vervul met die Heilige Gees.” Die geroepe voorloper móés die Messias (in die baarmoeder van Maria) herken uit die voortyd, wat ‘n bestaan in die geesrealm was/is. Dit gebeur op hierdie vreemde, selfs aweregse wyse, “want só pas dit ons om alle geregtigheid te vervul” (Mat. 3:15), verduidelik Jesus dit later aan Johannes die Doper. Wat interessant is, is dat Elisabet en Sagaria as ‘t ware die “wa van Israel”, (2 Kon. 2:12) die biologiese voertuig, is waarmee die gees van Elia arriveer in hierdie nuwe epog! Ons weet van sy ouers: “En hulle was altwee regverdig voor God en het in al die gebooie en regte van die Here onberispelik gewandel.” (Luk. 1:6). Hulle gees, siel en liggaam is, soos 1 Thes. 5:23 sê, “volkome heilig (ge)maak”. Elisabet is vervul met die Heilige Gees, en insgelyks haar seun in haar skoot! In Luk. 1:67  lees ons: “En Sagaría, sy vader, is vervul met die Heilige Gees …” Di gebeur sodat hy die profetiese sirkel kan volvoer wat Hanna geprofeteer het voor die konsepsie vsn Samuel.

Onthou – Samuel is God se antwoord op die mislukking van die priesterdom van Levi, wat nié gedoen het wat in Sy hart en siel is nie. Daarom belowe Hy in 1 Sam. 2:35 – “En Ek sal vir My ‘n getroue priester verwek wat sal handel soos dit in my hart en in my siel is, en Ek sal vir hom ‘n bestendige huis bou, sodat hy al die dae voor die aangesig van my Gesalfde kan wandel.” Hanna begin haar profesie dan ook só: “My hart jubel in die HERE, my horing is hoog in die HERE …” ” (1 Sam. 2:1). En dan eindig sy die profesie só: “Hy gee sterkte … en verhef die horing van sy gesalfde” (1 Sam. 2:10). Dít word vervul in Luk 1:67–69: “En Sagaría, sy vader, is vervul met die Heilige Gees en het geprofeteer en gesê: Geloofd sy die Here, die God van Israel, omdat Hy sy volk besoek het en vir hulle verlossing teweeggebring het, en ‘n horing van heil vir ons opgerig het …”

Daarom is dit nie vreemd nie dat Hanna PRESIES DIESELFDE GEDRAG VERTOON as diegene wat die dag met die uitstorting van die Heilige Gees die Gees ontvang het nie: “En toe sy lank gebid het voor die aangesig van die HERE en Eli op haar mond ag gee— want Hanna het in haar hart gespreek: net haar lippe het geroer, maar haar stem kon nie gehoor word nie—het Eli gedink dat sy dronk was. En Eli sê vir haar: Hoe lank wil jy jou soos ‘n dronk mens gedra? Sit jou wyn van jou af weg.” (1 Sam. 1:12-14). Vergelyk dit met Hand. 2:12-18: “En hulle was almal verbaas en radeloos en sê die een vir die ander: Wat kan dit tog wees? Maar ander het gespot en gesê: Hulle is vol soetwyn. Maar Petrus het opgestaan met die elf en sy stem verhef en hulle toegespreek: Joodse manne en almal wat in Jerusalem woon, dit moet julle weet, en luister na my woorde. Hierdie mense is tog nie dronk soos julle dink nie, want dit is nog maar die derde uur in die môre. Maar dit is wat deur die profeet Joël gespreek is: En in die laaste dae, spreek God, sal Ek van my Gees uitstort op alle vlees, en julle seuns en julle dogters sal profeteer, en julle jongelinge sal gesigte sien, en julle ou mense sal drome droom. En ook op my diensknegte en diensmaagde sal Ek in dié dae van my Gees uitstort, en hulle sal profeteer.”

Hulle wat met die Gees van God gedoop word, word gedoop uit die horing van die Gesalfde. Die Ou-Testamentiese prototipe hiervan is in 1 Kon. 1:39 – “En die priester Sadok het die horing met olie uit die tent geneem en Salomo gesalf …” (Onthou wie elk tipologies verteenwoordig – Salomo: Dag 44, 90 en 818-820, en Sadok: Dag 679-691, 734 en 923-925). Daarom kan Dawid, op wie se troon die gesalfdes sit, proklameer: “Maar U verhoog my horing soos van ‘n buffel; ek is met vars olie gesalf.” (Ps. 92:10)!

Nou verstaan ons hoekom – as Jesus na die Heilige Gees verwys – noem Hy die Gees: “die belofte van my Vader” (Luk. 24:49) en “die belofte van die Vader, wat julle, het Hy gesê, van My gehoor het” (Hand. 1:4).

 

  • Sela: Ondersoek self die manifestasie van die Gees van God in die Ou Testament.
  • Lees: Nahum 1-3; 2 Kon. 22-23; 2 Kron. 34-35
  • Memoriseer: Nahum 1:15a
  • Delf dieper: Luister na Tom Gouws se cd-lering: Die doping met vuur.