“Die wet was dus ons tugmeester na Christus toe …”(Gal 3:24, OAV)
Elkeen wat gebore word, wandel dus tot en met sy/haar wedergeboorte noodwendig onder die bedeling van die wet. Gal 3:23 verduidelik dit só: “Maar voordat die geloof gekom het, is ons onder die wet in bewaring gehou …” Die woordjie tugmeester word deur verskillende vertalings dimensioneel belig – die wet word genoem: “our teacher” (CEV), “a servant” (BBE), “our custodian” (EMTV), “our guardian” (ESV), “our schoolmaster” (KJV), “a trainer” (LITV), “a tutor-slave” (WNT) en “our child-conductor” (YLT)! Almal legitieme en mooi toeligtings, maar my boerevertaling sou dit eerder só verduidelik: die wet was ons drukgang na vryheid.
As jy op die plaas met beeste werk, dan is bosluise ‘n geweldige probleem – hulle beroof die diere van hul lewensbloed en –krag. Die boer kan elke dag gaan en elke bees noukeurig ondersoek en probeer om die bosluise af te kry, maar dis ‘n haas onbegonne taak. Dikwels bly die bosluis se vasgesuigde kop steeds agter as jy hom probeer aftrek – dis duidelik nie effektief nie. Die antwoord daarop, sal elke goeie boer jou kan sê, is om die beeste te dip. Dip is ‘n sterk vloeistof waardeur ‘n bees moet waad en wat dan al die bosluise laat vrek.
Beeste word een-een gedip, maar dit word voorafgegaan deur ‘n proses waardeur elke bees met ‘n drukgang (en dikwels ‘n elektriese skok-protter ☺) aangepor word om deur iets te gaan wat op die oog af absoluut skrikwekkend lyk.
In hierdie lig word Gal 3:27 vir jou geestelik meer visueel: “want julle almal wat in Christus gedoop is, het julle met Christus beklee”. Die dip kan sommer drie-in-een voorstel: bekering, wedergeboorte en doop (die eenstemmige getuienis van Gees, water en bloed – sien 1 Joh 5:8). Vóór dit is die wet die drukgang om ons te beweeg tot die life-changing ervaring.
Nadat jy deur die geestelike dip is, val die bosluise vanself af en kan jy vry gaan rondloop in die veld! Jy het geen drukgang meer nodig nie – “Maar nou dat die geloof gekom het, is ons nie meer onder ‘n tugmeester nie.” (Gal 3:25). Jy is inderdaad ontslae van die wet (Rom 7:6)!
- Sela: In watter mate is jou geloofsfunksionering nog steeds gebonde aan godsdienstige wette?
- Lees: Rig 11; Ps 101; Hand 11
- Memoriseer: Hand 11: 9 (baie belangrik vir vandag se lering!)
- Vir dieper delf: Lees Juan Carlos Ortiz se Living with Jesus today.