“Hy het my beklee met die klere van heil, … in (‘n) mantel”
(Jes. 61:10, OAV)
In die vorige Manna is uitgewys dat daar ‘n verskeidenheid gevalle voorkom waarin daar in die Bybel gepraat word van “die gees van …”, en daar is toe verduidelik dat hierdie genitiefs-konstruksie nié impliseer die Heilige Gees word vervang nie, maar dat die uitdrukking dui op ‘n geestelike mantel.
Om die konsep van mantels te verstaan, is die geskiedenis van Elia en Elisa voorop, maar alvorens ons daaraan aandag kan gee, moet ons eers ‘n breë agtergrond skep.
‘n Mantel is die geestelike gesag en salwing wat gepaard gaan met ‘n bepaalde geestelike roeping. Dwarsdeur die Skrif word die lotgevalle van mense in terme van hulle klere uitgespel. Klere het in die Skrif ‘n belangrike simboliese waarde. In Dictionary of Biblical Imagery (Ryken, R; Wilhoit, JC & Longman III, T. reds.) word dit só verduidelik: “the literal investing and divesting of garments becomes overtly metaphoric of spiritual states” (p. 319).
Die heel eerste verwysing na bekleding, eintlik die gebrek daaraan, word vroeg al in Genesis voorgehou. Mens en Mannin, word eksplisiet in Gen. 2:5 uitgespel, “was altwee naak, die mens en sy vrou, maar hulle het hul nie geskaam nie”. Ná die sondeval, lees ons in Gen. 3:7, “gaan altwee se oë oop, en hulle word gewaar dat hulle naak is; en hulle het vyeblare aanmekaargewerk en vir hulle skorte gemaak”. Die naaktheid dui as simbool op geestelike gebrek en ontbloting (Deut. 28:48; Eseg. 16:39; 23:29). Van toe af het die volgende Skrif uit Jes. 59:6 die waarmerk van die mens se geestelike bekleding geword: “Hulle weefsels deug nie vir klere nie, en met hulle voortbrengsels kan niemand hom toemaak nie; hulle werke is onheilswerke, en die daad van geweld is in hulle hande.” Ons klere het ons besoedeling as mens weerspieël (Open. 3:4; Sag. 3:3-6). Hierdie “kleed … wat deur sonde bevlek is” (Jud. 1:23), vertoon die mens se gevalle toestand – “ons het almal geword soos ‘n onreine, en al ons geregtighede soos ‘n besoedelde kleed” (Jes. 64:6). In Ps. 109:29 word dit mooi verbeeld: “Laat my teëstanders beklee word met smaad en hulle toedraai in hul skande soos in ‘n mantel.”
Om hierdie rede word die mens aangemoedig om “wit klere” te bekom, “dat jy jou kan aantrek en die skande van jou naaktheid nie openbaar word nie” (Open. 3:18).
Dit is veelseggend dat die voorgenoemde Skrif uit Open. 3:18 vervolg met: “Ek raai jou aan om van My te koop … salf om jou oë te salf, sodat jy kan sien …” Deel van ons geestelike naaktheid is ook onteenseglik geestelike blindheid. In Mat 6:22-23 sê Jesus immers: “Die lamp van die liggaam is die oog. As jou oog dan reg is, sal jou hele liggaam verlig wees. Maar as jou oog verkeerd is, sal jou hele liggaam donker wees. As dan die lig in jou donkerheid is, hoe groot is die donkerheid nie!” Die mens het in die tuin van Eden ook sy geestelike insig verloor, en het daarom nodig om “verligte oë van julle verstand” (Efes. 1:18) te verkry “sodat julle kan weet wat die hoop van sy roeping … is”, “so that you may know what is the hope to which he has called you” (CENT).
Hierdie roeping is dan inderdaad ook ‘n bekleding, met ‘n groot verskeidenheid inweefsels en attribute, soos wat uit hierdie volgende Skrifte duidelik blyk (elke Skrif moet na regte bestudeer word om die omvang van die aard van geestelike mantels beter te verstaan – dit doen ons later):
- “en sy priesters sal Ek met heil beklee, en sy gunsgenote sal vrolik jubel” (Ps. 132:16)
- “Ontwaak, ontwaak, beklee jou met sterkte, o Sion, trek jou sierlike klere aan, o Jerusalem, heilige stad!” (Jes.52:16)
- “Ek is baie bly in die HERE, my siel juig in my God; want Hy het my beklee met die klere van heil, my in die mantel van geregtigheid gewikkel—soos ‘n bruidegom wat priesterlik die hoofversiersel ombind, en soos ‘n bruid wat haar versier met haar juwele.” (Jes. 61:10)
- “Ook het Ek jou beklee met veelkleurige klere en vir jou skoene van robbevel gemaak, en Ek het jou gehul in fyn linne en jou oordek met sy.” (Eseg. 16:10)
- “As God dan die gras van die veld, wat vandag daar is en môre in ‘n oond gegooi word, so beklee, hoeveel te meer vir julle, kleingelowiges?” (Matt. 6:30)
- “Maar beklee julle met die Here Jesus Christus, …” (Rom. 13:14)
- “want julle almal wat in Christus gedoop is, het julle met Christus beklee” (Gal. 3:27)
- “en julle met die nuwe mens moet beklee wat na God geskape is in ware geregtigheid en heiligheid” (Efes. 4:24)
- “en julle jul met die nuwe mens beklee het wat vernuwe word tot kennis na die beeld van sy Skepper” (Kol. 3:10)
- “Beklee julle dan, as uitverkorenes van God, heiliges en geliefdes, met innerlike ontferming, goedertierenheid, nederigheid, sagmoedigheid, lankmoedigheid.” (Kol. 3:12)
- “En beklee julle bo dit alles met die liefde wat die band van die volmaaktheid is.” (Kol. 3:14).
In hierdie lig kry bykans al die spesifieke bekledinge in die Ou Testament tipologiese betekenis (1 Kor. 10:11; Rom. 15:4). Slegs ‘n paar word ter illustrasie voorgehou:
- Die mantel wat Jakob aan sy seun Josef gegee het en waarvan ons in Gen. 37 lees, is duidelik ‘n geestelike mantel van verskeie salwinge (vandaar die veelkleurigheid – vers 32). Uit die profetiese woord oor Josef (Gen. 49:22-26 en Deut. 33:13-17), asook deur na die verloop van sy lewe te kyk, is dit ‘n uitsonderlik belangrike mantel van staatmanskap, finansiële vermeerdering, landbou, en so meer.
- Die priesters se uitsonderlike bekleding in Eks. 28 is duidelik ‘n priesterlike mantel wat volg op ‘n priesterlike salwing. (Sien weer Manna Dag 27-28.)
- Saul het Dawid die geveg in sý pantsermantel probeer laat veg, maar Dawid kon dit nie dra nie (1 Sam. 17:38-39), en moes sy salwing van El Gibbor (“die Here is ‘n Krygsman” – Eks. 15:3; Jes. 9:6; Jer. 32:18) ontvang en derhalwe ‘n mantel van nederigheid en Goddelike outoriteit dra om die Filistyn te verslaan (1 Sam. 17:45).
- Ester het haar “koninklik aangetrek” (5:1), met ander woorde haar mantel opgeneem en haar salwing (2:12 – “balsem”) gebruik om ‘n volk te verlos. Haar koninklike mantel is deur God beskik “that thou mightest be ready in such a time as this” (Est. 4:14, DRB).
- In Jes. 22:20-21 lees ons van die mantel wat Éljakim ontvang het en wat duidelik ‘n salwing van koning- en vaderskap ingehou het.
Ons lees van Johannes die Doper in Matt. 3:4 – “En hy, Johannes, het ‘n kleed gedra van kameelhare en ‘n leergord om sy heupe …” Hierdie bekleding het ‘n baie pertinente mantelgeskiedenis. Wanneer Jesus in Mat 11:7-9 vir die skare aangaande Johannes sê: “Wat het julle uitgegaan om in die woestyn te aanskou? … ‘n Man met sagte klere aan? Kyk, die wat sagte klere dra, is in die huise van konings. Maar wat het julle uitgegaan om te sien? ‘n Profeet? Ja, Ek sê vir julle, ook baie meer as ‘n profeet!” Hierdie uitspraak lê ‘n baie pertinente verband tussen die klere wat Johannes die Doper gedra het en sy profetiese salwing en mantel. (Soos Jesus sê, is dit egter méér as net ‘n profetiese mantel; dit is onder andere ook ‘n mantel vir reformasie – luister na die cd-lering wat dit in groot detail verduidelik: Die Doping tot die Laaste Reformasie – onderskei die ware Liggaam van Christus.)
Dit is van groot belang dat ‘n mens die parallel raaksien met 2 Kon. 1:8, waar daar gevra word oor die identiteit van die profeet Elia – “En hulle antwoord hom: ‘n Man met ‘n harige mantel en omgord met ‘n leergord om sy heupe. Toe sê hy: Dit is Elía, die Tisbiet!” Geweldig veelseggend is dat Elia deurgaans genoem word: “Elía, die Tisbiet” (1 Kon. 17:1; 21:17 & 28; 2 Kon.1:3; 2 Kon. 1:8; en 9:36). Benewens dat dit volgens die apokriewe boek Tobias 1:2 waarskynlik ‘n aanduiding is van die plek waarvandaan Elia gekom het, sê Easton’s Bible Dictionary: “There is mention made of a town called Thisbe, south of Kadesh, but it is impossible to say whether this was the place referred to in the name given to the prophet.” Dit is nietemin belangrik om “Tisbiet” veral ook in sy tipologiese betekenis hier te verstaan.
Volgens Strong’s Hebrew Dictionary beteken “Tisbiet: “recourse”. Webster’s Dictionary verduidelik die woord soos volg: “. [L. recursus; re and cursus, curro, to run.] Literally, a running back; a return.] 1. Return 2. A going to with a request or application, as for aid or protection. 3. Application of efforts, art or labor. 4. Access. 5. Frequent passage.”
Hierdie relaas was nodig om uit te wys dat deel van Elia se naamgewing, dus ook identiteit, inhou dat dit recourse bied vir latere geslagte! Om hierdie rede is dit dan ook recourse dat Johannes die Doper dieselfde klere as Elia die Tisbiet gedra het, want Johannes het dieselfde salwing en mantel as Elia gedra!
Daarbenewens word daar ‘n verdere toevoeging tot Elia se afkoms in 1 Kon. 17:1 gemaak: “En Elía, die Tisbiet, uit Tisbe in Gílead …” Volgens The Complete WordStudy Dictionary beteken “Gilead” die volgende: “heap of a witness”. Sinonieme vir “heap” kan wees: agglomerate, cumulation, cumulus. Duidelik kan Gilead in hierdie lig dan ook beteken: wolk van getuienis, veral in die lig dat Gilead in die Skrif geassosieer word met salwing:
- “Is daar geen balsem in Gílead nie?” (Jer. 8:22a)
- “Gaan op na Gílead en gaan haal balsem, o jonkvrou, dogter van Egipte!” (Jer. 46:11a)
- As daar byvoorbeeld in 2 Sam. 2:4 verwys word na die salwing van Dawid as koning oor die huis van Juda, word daar in dieselfde asem van Gílead gepraat, al is dit in ‘n ander konteks!
Dikwels in die Skrif lees ons dat “die heerlikheid van die HERE in die wolk” verskyn (Eks. 16:10; ook 40:34-35, byvoorbeeld). God “verskyn in die wolk op die versoendeksel” (Lev. 16:2). Kyk dan wat staan in Num. 9:15-16: “En op die dag toe hulle die tabernakel opgerig het, het die wolk die tabernakel van die tent van die Getuienis oordek, en in die aand was dit oor die tabernakel soos ‘n gedaante van vuur, tot die môre toe. So was dit altyddeur: die wolk het dit oordek, en snags ‘n gedaante van vuur.” Tent van die Getuienis = “heap of a witness” = wolk van getuienis!
‘n Pragtige illustrasie hiervan is in Num.11:25 – “Daarop het die HERE neergedaal in die wolk en met hom gespreek; en Hy het van die Gees wat op hom (=Moses) was, afgesonder en op die sewentig oudstes gelê. En terwyl die Gees op hulle rus, het hulle geprofeteer …” Hierdie wys mooi vooruit hoe salwing en mantels oordra in die nuwe verbond – deur handoplegging. (Ons kom later in meer detail daarby uit.)
Dis in die wolk, die salwingsvuur van die korporatiewe Christus, dat die onsienlike God (1 Tim. 1:17) “duidelik waarneembaar verskyn” (Num. 14:14). In die volgende Manna meer!
- Sela: Probeer verstaan presies wat die wolk van getuies is.
- Lees: 1-9
- Memoriseer: 1:5, 7 & 12 (‘n Pragtige Skrif rondom roeping.)
- Delf dieper: Luister na Tom Gouws se cd-lering: Die Wolk van Getuies – Bemoediger van die Bruid