Dag 1013

 

“hy sal die hart van die vaders terugbring tot die kinders,

en die hart van die kinders tot hulle vaders”  

(Mal.4:6, OAV)

Ons het ver paaie en diep verhulde weë oopgeloop in die vorige Mannas. Oorkoepelend is ons nog besig met die uitspraak van Jesus oor hoe moeilik dit vir ‘n ryk man is om in die koninkryk van God te kom, en die analoë vergelyking wat Hy tref met ‘n kameel deur die oog van ‘n naald. Dit het ons gebring by Johannes die Doper wat die mantel van kameelhaar van Elia gedra het. ‘n Verskeidenheid gevalle waarin daar in die Bybel gepraat word van “die gees van …” is uitgewys, en daar is toe verduidelik dat hierdie genitiefskonstruksie nié impliseer die Heilige Gees word vervang nie, maar dat dit dui op ‘n geestelike mantel.

In Mannas 1010-1012 het ons uigekom by die wesensaard van mantels, en op ‘n verrassende manier by die wolk van getuies. Dis in die wolk, die salwingsvuur van die korporatiewe Christus, dat die onsienlike God (1 Tim. 1:17) “duidelik waarneembaar verskyn” (Num. 14:14)! Hierdie geheimenis hoort eers tuis in die derde dimensie, en sal later volledig daar behandel word.

Die mooiste tipologiese voorbeeld van mantels en die gepaardgaande geestelike outoriteit word gevind in die verhaal van Elia en Elisa. Hierdie verhaal het sinoniem geword met roeping en die gepaardgaande outoriteit wat benodig word vir die uitvoering daarvan, wat in geestelike taal mantels genoem word. Mantels word altyd oorgedra in ‘n verhouding tussen geestelike vaders en geestelike seuns. (Onthou – omdat daar in die nuwe verbond volgens Gal. 3:28 “nie meer man en vrou” is nie, “want julle is almal een in Christus Jesus”, is ‘vaders’ en ‘seuns’ generiese terme van outoriteit, en nie van geslag nie. Vroue kan dus ook vaders en seuns wees.)

Geestelike vaderskap en die oordrag van mantels het te make met die vasstaande uitspraak dat op Jesus se skouer (“die heerskappy is op sy skouer” – Jes. 9:6) daar deurgaans vermeerdering plaasvind (vers 7). Dit korrespondeer met Jesus se belofte in Joh. 14:12 –  “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie in My glo—die werke wat Ek doen, sal hy ook doen; en hy sal groter werke doen as dit …”

In die volgende twee Mannas gaan ons kyk na die ontsagwekkende prominensie wat die Skrif gee aan geestelike vaderskap. Die Ou Testament word afgesluit daarmee (Mal. 4:5-6) en die Nuwe Testament begin daarmee as Johannes die Doper inbeweeg (Mat. 3:1-2) as dié verteenwoordiger van die ou era, maar ook die een wat die nuwe era moet inlei (Mat.11:11). Ons gaan allereers let op die tipologiese patroon soos gesetel in die verhouding tussen Elia en Elisa, maar nét voor dit moet ons ‘n ewige geheimenis naspeur.

 

  • Sela: Is jy geestelik gevader?
  • Lees: 10-13
  • Memoriseer: 11:16 (Probeer die tipologie met Israel en Christus uitlees.)
  • Delf dieper: Luister na Tom Gouws se cd-lering: Herontdek die Goddelike geheimenis van Vaderskap en Seunskap