Dag 1014-1015

 

Dit is een liggaam en een Gees, soos julle ook geroep is in een hoop van julle roeping; een Here, een geloof een doop, een

God en Vader van almal, wat oor almal en deur almal

en in julle almal is.”  (Efes. 4:4-6, OAV)

In die volgende Mannas wil ons kyk na dié tipologies-prominenste verhouding van geestelike vaderskap en seunskap in die Skrif, naamlik die verhouding tussen Elia en Elisa. Maar daar is allereers ‘n ewige geheimenis wat ons versigtig moet vooropstel.

Dikwels word in geloofsbelydenisse bepaalde “ononderhandelbare” geloofsuitings voorgehou, en dikwels sluit dit die leer van die Drie-eenheid in. Laat ons begin deur te sê dat die woord “Drie-eenheid” nêrens in die Skrif gebruik word nie. Dis bloot ‘n term wat teologies gebruik word as ‘n poging om die drie-enige God te beskryf. Die voorstanders van hierdie leerstelling maak dit duidelik dat die Drie-eenheid is een God wat uit drie Persone bestaan.

In Gen. 1:1, moet die eienaam God na regte vertaal word met Elohim (soos byvoorbeeld die IAV dit voorhou). Dit is ‘n meervoudige naamwoord wat streng gesproke “Gode” beteken. The Complete WordStudy Dictionary verklaar dit soos volg: “A masculine plural noun meaning God, gods, judges, angels. Occurring more than 2,600 times in the Old Testament, this word commonly designates the one true God.” In Afrikaans of Engels kry ‘n mens slegs twee vorme, naamlik enkelvoud en meervoud. In Hebreeus kry ‘n mens egter drie vorme: enkelvoud, tweeledig en meervoud. Tweeledig dui SLEGS op twee. In Hebreeus word die tweeledige vorm gebruik vir dinge wat in pare kom, soos byvoorbeeld oë, ore en hande. Die woord “Elohim” en die voornaamwoord “ons” is meervoudige vorme – definitief meer as twee – en moet dus uiteraard na drie of meer verwys.

In verskeie Mannas het ons die geheimenis van God as één Wese uit verskillende perspektiewe aangeraak (Dag 362, 429-431 en 518-520). [Dit kan weliswaar loon om weer daardeur te lees.] Al word God in Gen. 1:1 as die meervoudige Elohim voorgehou, is dit duidelik dat een van die wesenseienskappe van die lewende God is dat Hy enig is – daar is nie nog een soos Hy nie. Hy is, in Jesus se woorde in Joh. 5:44, ‘n “Theos monos”, ‘n enkel/alleen God”. Dit is ‘n Nuwe-Testamentiese verwoording van die bekende mitzvah van die Jode in Deut. 6:4 – “Hoor, Israel, die HERE onse God is ‘n enige HERE.” The Jewish Publication Society Bible vertaal dit soos volg: “HEAR, O ISRAEL: THE LORD OUR GOD, THE LORD IS ONE.”

Elke onderskeibare Manifestasie van Vader, Seun en Gees is onteenseglik God: Die Vader is God: Joh. 6:27; Rom. 1:7; 1Pet. 1:2; die Seun is God: Joh. 1:1, 14; Rom. 9:5; Kol. 2:9; Heb. 1:8; 1Joh. 5:20; die Heilige Gees is God: Hand. 5:3-4; 1Kor. 3:16.

Dis juis hiermee dat die Jode ‘n geweldige probleem het met die aansprake van Jesus dat Hy die Seun van God is, en insgelyks ‘n probleem het met die wesensaard van die Christelike geloof wat rondom sy Seun sentreer. In Joh 5:18 word dit uitgespel: “Hieroor het die Jode toe nog meer probeer om Hom dood te maak, omdat Hy … God sy eie Vader genoem het en Hom met God gelykgestel het.” In Joh. 10:33 word dit eweneens weer vir Hom gesê: “Die Jode antwoord Hom en sê: Dit is nie oor ‘n goeie werk dat ons U stenig nie, maar oor godslastering, en omdat U wat ‘n mens is, Uself God maak.” Dit word uiteindelik een van die hoofaanklagte (Matt. 26:63) teen Jesus: “Die Jode antwoord hom: Ons het ‘n wet en volgens ons wet moet Hy sterf, omdat Hy Homself die Seun van God gemaak het.” (Joh. 19:7).

As jy enig is, as daar nie nog een soos jy nie, is jy noodwendig eensaam. Dis belangrik om te verstaan dat God in sy Wese enig en derhalwe eensaam is. Sela.

Daarom is dit so vreemd dat van alle moontlike name wat God vir Homself kan kies, kies Hy die naam “Vader” (2Sam. 4:17). Die naam Vader impliseer noodwendig nageslag, verhouding. Daarom kom die versgedeelte oor Jesus wat “begotten” is (Joh. 3:16) nie minder nie as 4 keer voor in die Skrif: “Ek wil vertel van die besluit: Die HERE het aan My gesê: U is my Seun, vandag het Ek self U gegenereer.” (Ps 2:7). Die res van die drie herhalings vorm die matriks van die nuwe verbond: Hand 13:33, Heb 1:5 en 5:5 en wys die twee Figure uit as Jehova-God en sy Seun Jesus.

Voor tyd en skepping bestaan het, het die Enige God ‘n besluit geneem en in Homself ingebuig en uit sy Wese self ‘n Seun gebaar/voortgebring/”begotten” (Joh. 1:18). Hierdie intimiteit spreek uit Joh. 17, waar Jesus met sy Pa praat, en verwys na “die heerlikheid wat Ek by U gehad het voordat die wêreld was”. God het ‘n Seun “gegenereer”, vir een baie belangrike rede – “Hy het ‘n geslag van God gesoek” (Mal 2:15)! Hierdie geheimenis is ‘n geestelike wetmatigheid wat grens en eeu oorspan, en dit is ‘n verborgenheid waarop die ganse skepping gegrond is.

Die water-metafoor is die beste om die wesensaard van God se meervoudige eenheid te verduidelik – vloeistof, stoom en ys is almal vorme van water. Die Vader, Seun en Gees is nie verskillende vorme van God nie, elkeen van hulle is God op sigself, net in ‘n ander manifestasie.

Uiteraard, soos Efes. 5:32 dit in ‘n ander konteks sê: “Hierdie verborgenheid is groot”, maar dis een van die vele verborgenhede waarvan die Skrif praat. Paulus sê in Kol. 2:2 – “om die verborgenheid te leer ken van God en die Vader en van Christus”. As ons hierbo geraak het aan die verborgenheid van God, lei dit noodwendig na die verborgenheid van die Vader, wat die generatiewe en bemagtigene beginsel is van vaderskap en seunskap in die wydste sin bedoel. En dan is dit noodwendig óók gekoppel aan die verborgenheid van Christus! God se vaderskap het ingehou dat Hy deur sy Seun vermeerder is, en die konsep van Christus het ingehou dat die Seun vermeerder is tot “sy Christus” (Op. 11:15; 12:10), of dan tot sy Bruid (Op. 21:9).

Ons weet egter die natuurlike gaan die geestelike vooraf – 1Kor. 15:46 stel dit só: “Die geestelike ewenwel is nie eerste nie, maar die natuurlike; daarna die geestelike.” Om die geweldige geestelike verborgenheid van God en Christus te verstaan, word dit in die natuurlike realm uitgespeel. Hiervan is die verhouding tussen Elia en Elisa die patroon (lees ook: pa + troon) wat in die Bybel voorgehou word tot ons lering (2Tim. 3:16). Ons moet onthou wat Rom. 15:4  uitspel: “Want alles wat tevore geskrywe is, is tot ons lering tevore geskrywe, sodat ons deur lydsaamheid en bemoediging van die Skrifte hoop kan hê.” As Jak. 5:17 dan boonop dit eksplisiet stel: “Elía was ‘n mens net soos ons”, “human just like us” (Msg), benadruk dit sy tipologiese waarde vir ons.

Die misterie van die inkarnasie van die gees van Elia in sy geestelike seun, Elisa (2Kon. 2:12), en die inkarnasie van die gees van Elia deur Elisa in sy geestelike seun Joas (2Kon. 13:14), en deur die geslagslyn via Sagaria tot by sy seun Johannes die Doper, het in die Nuwe-Testamentiese bedeling ‘n korporatiewe salwing geword onder die Hoofskap van Jesus (Matt. 14:8; Kol. 1:18). Die primêre hoofdoel van hierdie salwing of mantel word uitgespel in Matt. 17:11 – “Elía kom eers en sal alles herstel” Geestelike en korporatiewe vaderskap is die grondslag van hierdie herstelproses.

 

  • Sela: Wat sou die hertel van alle dinge impliseer?
  • Lees: 14-22
  • Memoriseer: 15:19
  • Delf dieper: Luister na Tom Gouws se cd-lering: In sy Pa-Troon