“En Elía…”
(1 Kon. 17. 1, OAV)
Soos belowe, kom ons nou by dié tipologies-prominenste verhouding van geestelike vaderskap en seunskap in die Skrif, naamlik die verhouding tussen Elia en Elisa.
Ons lees vir die eerste keer in die Bybel van Elia in 1Kon. 17:1, en sy verhaal ontvou in die daaropvolgende hoofstukke. Hier word hy voorgestel met ‘n volledige afkomsregister: “En Elía, die Tisbiet, uit Tisbe in Gílead”. (Die tipologiese belangrikheid van hierdie plekke van afkoms is redelik volledig bespreek in Dag 1010-1012.)
Elia maak ‘n abrupte verskyning, amper net soos die ander profete: Ahía (1Kon. 11:29), Jehu (1Kon. 16:1), Semája (2Kron. 11:2), Asárja (2Kron. 151), en later ook byvoorbeeld Johannes die Doper (Matt. 3:1), wat net eensklaps ‘n dringende teenwoordigheid word in die omgewing waar hul “unveil” word. (Dit word op ‘n vreemde manier bykans dubbeld geaksentueer deurdat die woordjie “Tisbiet” ook vertaal kan word as “vreemdeling” of “swerwer”!) Hierdie opeenvolging van kragtige manne wat die woord van God sonder vrees van teenspraak gespreek het, wat geen aannemer van persoon was nie, en wie se lewenswyse en optrede gedui het daarop dat hulle “men of violence” is “(which) take it by force” (Matt. 11:12, ASV).
Daarbenewens is hulle toegerus met kragdadige genadegawes, wat die apostatiese volk en regeerders gedwing het om te weet wat God se perspektief is. In hierdie opsig is die betekenis van Elia se naam reeds ‘n dramatiese stelling: “Yahweh is my God.”
Eweneens dramaties en meesprekend van hierdie kragdadige geestelikheid is die openingsin waarmee hy bekend gestel word: “So waar as die HERE, die God van Israel, leef, voor wie se aangesig ek staan, daar sal geen dou of reën in hierdie jare wees nie, behalwe op my woord!” Jakobus skryf oor hierdie aanspraak van Elia in hoofstuk 5 verse 17 en 18 – “Elía was ‘n mens net soos ons, en hy het ernstig gebid dat dit nie moes reën nie, en dit het op die aarde drie jaar en ses maande lank nie gereën nie; en hy het weer gebid, en die hemel het reën gegee en die aarde het sy vrug laat uitspruit.”
Om in staat te wees om natuurverskynsels soos reën en dou toe te sluit in die skatkamers van God (Deut. 32:34; Job 38:22; Ps. 135:7), en die hele aarde, dus “regverdiges én onregverdiges” (Mat. 5:45), onder dieselfde aksie te laat ly, is merkwaardig. Interessant dat die uitspraak enersyds gegrond is op die outoriteit van wie God is en dat Hy leef, en andersyds op die outoriteit van Elia. Die profeet het presies geweet wat sy identiteit in God is, en dit in werking gestel.
‘n Aspek wat ons in die lig van die ontvouende openbaring rondom die begrip “woord” moet uitlig, is die moontlike betekenis van hierdie Hebreeuse woordjie dabar nié as sy dinamiese Hebreeuse woordekwivalent “logos” nie, maar as “rhema”. Die manifestasie van die Bruid kon eers geskied ná die manifestasie van Jesus in vleeslike gestalte, en wel toe die Bruid uit sy sy gestalte gekry het. Die hele verstaan van logos en rhema, van Jesus en sy Christus, is dus noodwendig ‘n Nuwe-Testamentiese fenomeen. Die woordjie “woord” in die Ou Testament is dus nie so ‘n klinkklaar verdeling soos in die Nuwe Testament nie. Die Hebreeuse dinamiese ekwivalent van “logos” in die Ou Testament is “dabar”, en vir “rhema” is dit “millah” of “omêr”. Tog dra albei die woorde die gene van die ander, omdat beide Jesus en sy Christus nog in ‘n pre-inkarnasiestaat was met die gebruik van die woordjie “woord”.
Dus – bes moontlik kan ons Elia se uitspraak bepaald lees as ‘n vooropstelling van sy woord in God se gedig: “daar sal geen dou of reën in hierdie jare wees nie, behalwe op my woord!” (Hierdie argument is absoluut geldig in die lig van dit wat geleer is in Dag 967-970 oor sekere geloofshelde van die Ou Testament, wat duidelik die openbaring van die Christus gehad het, al was Jesus nog nie gebore nie!)
Die rhemawoord van Elia wat die reën en die dou terughou, word ironies juis die teendeel van Jes. 55: 9-11: “Want soos die hemel hoër is as die aarde, so is my weë hoër as julle weë en my gedagtes as julle gedagtes. Want soos die reën en die sneeu van die hemel neerdaal en daarheen nie terugkeer nie, maar die aarde deurvogtig en maak dat dit voortbring en uitspruit en saad gee aan die saaier en brood aan die eter; so sal my woord wees wat uit my mond uitgaan: dit sal nie leeg na My terugkeer nie, maar doen wat My behaag en voorspoedig wees in alles waartoe Ek dit stuur.” (Sien ook Matt. 4:4 en Joh. 6:63, waar in albei gevalle die woorde uit God/Jesus se mond “rhema” beteken.) Wat dus tipologies van Israel, Juda en die land weerhou is, is die salwing en seëninge wat DEUR ELIA se identiteit in Christus moes uitgevloei het.
Onthou hoe raak Amos 8:11 dit stel: “Kyk, daar kom dae, spreek die Here HERE, dat Ek ‘n honger in die land stuur, nie ‘n honger na brood nie en nie ‘n dors na water nie, maar om die woorde van die HERE te hoor.”
In 1Kon. 17:3 gee God vir Elia ‘n baie spesifieke opdrag: “Gaan hiervandaan weg en draai jou na die ooste toe …” Die woordjie “ooste” is egter hier nie ‘n aanduiding van rigting nie; die Hebreeus “qedem/qêdmâh” dui onder andere in sekere kontekste ook op die begrip “voortyd” (soos dit byvoorbeeld só in die Afrikaans vertaal is in Deut. 33:15). Die voortyd is eintlik ‘n kontradiksie in terme, want as iets vóór tyd is, bestaan dit noodwendig buite tyd. Daarom dat Briers Uys, in die lering hier onder genoem, dit verkiesliker noem “’n ander realiteit” buite chonostyd”, wat duidelik moet tuishoort in die ewigheid. Alle roepings en mantels het derhalwe uit hierdie “ewige Vader” (Jes. 9:6) se “ewige koninkryk” (Dan. 4:3; 7:27; 2Pet.1:11) gestalte gekry, daarom is “die genadegawes en die roeping van God … onberoulik” (Rom. 11:29).
Elia se mantel kry dus hier, al is dit implisiet, ‘n duidelike beskrywing! En hoe mooi pas dit nie by die wesensaard van mantels nie – onsigbaar (implisiet dus), maar ‘n duidelike teenwoordigheid!
God stuur Elia met ‘n spesifieke opdag: “steek jou weg by die spruit Krit wat oos van die Jordaan is” (1 Kon. 17:3). Die naam van die spruitjie was Krit, en in Hebreeus beteken dit “a cut”. Die wortelwoord daarvan dui op “verbond” (in die sin dat ‘n verbond “gesny” is aan die voorhuid, of dat diere in stukke gesny is en die verbondmakers in ‘n figuur 8 daartussen geloop het).
In ‘n tyd van droogte word God op grond van sy verbond met die profeet Sélf die fontein vir Elia, maar dit dui ook tipologies op die “geestelike water” wat uit die fontein van jou skeppingsdoel en roeping vloei (Hoogl. 4:12; Jes. 58:11). God stuur dan spesifiek kraaie om Elia te voed. Die kraai word in die Skrif dikwels in verband gebring met Goddelike voorsiening. Sien die volgende drie voorbeelde:
- “Wie berei vir die kraai sy spys as sy kleintjies roep tot God, ronddwaal by gebrek aan voedsel?” (Job 38:4)
- “Sing ‘n danklied tot eer van die HERE, psalmsing tot eer van onse God met die siter; wat die hemel met wolke oordek, wat vir die aarde reën berei, wat op die berge gras laat uitspruit, wat aan die vee hulle voedsel gee, aan die jong rawe as hulle roep.” ( 147:7 -9)
- “Die lewe is meer werd as die voedsel … Kyk na die kraaie, want hulle saai nie en hulle maai nie; hulle het geen voorraadkamer of skuur nie, en tog voed God hulle. Hoeveel meer is julle nie werd as die voëls nie!” (Luk. 12:24).
Die feit dat die gitswart vere ( = mantel) van die kraai in Hoogl. 5:11 gelyk gestel word aan die Bruidegom se swart hare ( = heerlikheid – 1 Kor. 11:14-17), maak dit duidelik dat ‘n mantel ook voorsiening moontlik maak – bykans soos die bakkie met manna wat in die ark van die tabernakel is, wat dui op voortdurende voorsiening (Eks. 16:33; Neh. 9:20; Heb. 9:4). Ons rhemawoord in God se gedig is soos “verborge manna” wat, saam verskyn “met ‘n wit keursteen … (waarop) ‘n nuwe naam geskrywe” (Open. 2:17) is (wat dui op jou identiek-eie roeping). Nie net sal ons leef van Jesus, die Brood van die Lewe (Joh. 6:33, 35, 48) nie, maar van die menigvuldige klein broodjies/wafeltjies/brokkies brood van die Christus! Dis soos Jesus in Joh. 6:58 sê: “Dít is die brood wat uit die hemel neergedaal het—nie soos julle vaders die manna geëet en gesterwe het nie; wie hierdie brood eet, sal tot in ewigheid lewe.”
In hierdie tyd van replenishment word Elia deur die salwing geleer (1 Joh. 2:27). Die kraaie het vir hom smôrens brood en vleis gebring, en saans brood en vleis, en hy het uit die spruit gedrink (1Kon. 17:6). Hierdie man drink nie meer die melk van die eerste dimensie nie (Jes. 28:9), nee; hy eet nou die brood van die tweede dimensie (Joh. 4:31-34) en die vleis van die derde dimensie (1Kor. 3:2; Heb. 5:12-13).
Dan droog die spruit deur Goddelike voorsienigheid op, en God gee aan Elia sy tweede opdrag: “Maak jou klaar, gaan na Sarfat wat by Sidon is, en bly daar; kyk, daar het Ek aan ‘n weduwee bevel gegee om jou te onderhou.” (1Kon. 17:9). Interessant – Sarfat beteken in Hebreeus: “refinery”, en “Sidon” beteken: “catching fish; fishery”. Ná die tydperk van afsondering waartydens die mantel bevestig en gegrondves is, moet die persoon wat die mantel ontvang het, begin beweeg daarin en uitreik na ander. Dit word uiteraard ‘n “refinery”, soos wat Mal. 3:2-4 dit voorhou: “Maar wie kan die dag van sy koms verdra? En wie kan standhou as Hy verskyn? Want Hy sal wees soos die vuur van die smelter en soos die loog van die wassers. En Hy sal sit: ‘n smelter en reiniger van silwer, en Hy sal die seuns van Levi reinig en hulle louter soos goud en soos silwer, sodat hulle aan die HERE in geregtigheid ‘n offer sal bring. Dan sal die offer van Juda en Jerusalem vir die HERE aangenaam wees soos in die ou dae en soos in die jare van die voortyd.” Dit wat God in die voortyd oor jou gedroom het, sal ontvouend gestalte kry in die geestelike mantel wat jy van God ontvang het.
Dikwels vra dit ‘n afhanklikheid van ander. Die weduwee is sy wat nie aan ‘n (ander) man verbind is nie, met ander woorde, soos prototipies verduidelik word in 2Kor. 11:2: “ek het julle aan een man verbind, om julle as ‘n reine maagd aan Christus voor te stel”.
Dit sal noodwendig lei tot die inweef in die koninkryk van God, en die Liggaam van Christus, wat albei dikwels met visvang en visnette vergelyk word (Matt. 4:19; 13:47; Eseg. 47:9-10; Luk. 5:10-11; Joh. 21:8-11). Die gemeenskap met die Liggaam is essensieel vir die funksionering en erkenning van ‘n salwingsmantel.
Die profetiese Skrif in Eseg. 47: 9-10 maak duidelik dat daar ‘n “dubbele stroom” sal wees, en dat dit sal strek vanaf Engédi (waar die bergbokke tipologies op die hoë berge van hul hoë roeping loop – Hab. 3:19; Hoogl. 8:14; Fil. 3:14), tot by Eglaim, wat beteken: “fountain of two calves”! Dis met ander woorde duidend op ‘n skeppingsdoel ( = fontein) wat oorgaan in ‘n dubbele salwing. In Elia se gehoorsaamheid aan die Gees van God, word sy mantel vermeerder vir sy geestelike seuns. Hierdie uitvloeisel van geestelike vaderskap bring mee dít wat Eseg. 47:9 profeteer: “alles sal lewe waar die stroom kom”, en algaande sal die kennis van die heerlikheid vermeerder (Jes. 9:7) totdat “die aarde sal vol word met die kennis van die heerlikheid van die HERE soos die waters die seebodem oordek” (Hab. 2:14).
- Sela: Verduidelik aan iemand wat ‘n mantel is.
- Lees: 23-31
- Memoriseer: 31:3, 31-34
- Delf dieper: Luister na Briers Uys se cd-lering: Maak die venster oop na die Ander Realiteit
in die Ooste.