“Ek sal jou ver wegstuur na die gewone heidene”
(Hand. 22:21, OAV)
Die tipologies-prominenste verhouding van geestelike vaderskap en seunskap in die Skrif, naamlik die verhouding tussen Elia en Elisa, is tans onder die loep. In die vorige Manna was die klem egter nog nét op Elia se geestelike reis in die verwerwing van sy geestelike mantel.
Hier rondom 1 Kon. 17:9 kry Elia sy tweede opdrag van die Here: “Maak jou klaar, gaan na Sarfat wat by Sidon is, en bly daar; kyk, daar het Ek aan ‘n weduwee bevel gegee om jou te onderhou.” Interessant – Sarfat beteken in Hebreeus: “refinery”, en “Sidon” beteken: “catching fish; fishery”. Ná die tydperk van afsondering waartydens die mantel profeties bevestig en gegrondves is, moet die persoon wat die mantel ontvang het, begin beweeg daarin en uitreik na ander. ‘n Mens loop as ‘t ware ‘n mantel oop in die stap van jou skeppingsdoelpad. Dit word uiteraard ‘n “refinery”, soos wat Mal. 3:2-4 dit voorhou. Dit sal noodwendig lei tot jou inweef in die koninkryk van God, en die Liggaam van Christus (wat albei dikwels met visvang en visnette vergelyk word).
Pirke Eliezer, ‘n Joodse rabbi, het die Joodse oorlewering verwoord dat hierdie weduwee die profeet Jona se ma is (John Gill’s Exposition of the Entire Bible), maar dit is helaas nie die geval nie. Daar is ‘n ontsettend belangrike gegewe rondom die weduwee wat nié blyk uit die vertelling in 1 Kon. 17 nie – sy was nie ‘n Joodse weduwee nie. Hierdie informasie kry ons vir die eerste keer uit die mond van Jesus in die Nuwe Testament, in Luk. 4:25-26: “Maar Ek sê vir julle met waarheid, daar was baie weduwees in Israel in die dae van Elía toe die hemel toegesluit was drie jaar en ses maande lank, toe daar ‘n groot hongersnood gekom het in die hele land, en na nie een van hulle is Elía gestuur nie, behalwe na Sarfat in Sidon, na ‘n weduwee.” Die feit dat Jesus uithef dat Hy “met waarheid” dit sê, plaas geweldige klem op hierdie uitspraak dat die weduwee, “a stranger to the commonwealth of Israel” (Matthew Henry’s Commentary on the Whole Bible), God se keuse is waarheen die profeet moet gaan.
Lank voor Jesus se koms aarde toe, toe Israel nog die volk was waardeur God sy wesensaard as goeie God en Vader aan die heidene wou vertoon, het Hy al aangedui dat Sy hart vir alle nasies en volkere is. Dit wat Saulus uit die mond van Jesus gehoor het in Hand. 22:21, was nog altyd God se ingesteldheid: “En Hy het vir my gesê: Gaan heen, want Ek sal jou ver wegstuur na die gewone heidene.” Want so lief het God die wêreld gehad!
Maar, soos met Paulus, waar die Jode hul stem verhef het en geskreeu het: “Weg van die aarde met so ‘n mens, want hy behoort nie te lewe nie!” (vers 22), is “almal in die sinagoge met woede vervul toe hulle dit hoor” (Luk. 4:28) toe Jesus die ware toedrag van sake oor Elia en die heidenweduwee verduidelik. Die Jode het duidelik vergeet dit was immers ‘n belangrike deel van die belofte wat God aan Abraham gemaak het: dat al die nasies van die wêreld in hom geseën sal word (Gen. 18:18; 22:18; 26:4), die gewone heidene – ons!
- Sela: Wat het veroorsaak dat die Jode nie God se liefde vir ander nasies erken nie?
- Lees: 32-34
- Memoriseer: 32:38 &40 (let op die sinchronisasie)!
- Delf dieper: Luister na Izak van der Merwe se cd-lering: Die ewige verbond