Dag 102

 

“Ja, tot vandag toe, wanneer Moses gelees word, lê daar ‘n bedekking oor hulle hart.” (2 Kor 3:15, OAV)

In 2 Kor 3:14-15 maak Paulus hierdie belangrike uitspraak: “Want tot vandag toe bly by die lesing van die Ou Testament dieselfde bedekking sonder dat dit opgelig word, die bedekking wat in Christus vernietig word. Ja, tot vandag toe, wanneer Moses gelees word, lê daar ‘n bedekking oor hulle hart.” Alhoewel hy hier spesifiek van die Jode praat, is dit ook waar van baie gelowiges wat die Ou Testament sonder die onontbeerlike bril van die Nuwe Testament lees. Omdat Christus die voltooiing en vervulling van die ou verbond is, sal die Ou Testament, sonder Hom, ‘n sluier vorm wat jou lewegewende toegang daartoe weier. Jesus sê dit so in Joh 5:39-40: “Julle ondersoek die Skrifte, omdat julle meen dat julle daarin die ewige lewe het; en dit is dié wat van My getuig. En julle wil nie na My kom om die lewe te hê nie.” 

As jy sonder die Heilige Gees se Christus-bril lees, word die Ou Testament ‘n vangstrik van wette. Jes 28:10 & 13 wys profeties uit na die gevolge van hierdie wyse van die Woord van God lees: “Want dit is gebod op gebod, gebod op gebod, reël op reël, reël op reël, hier ‘n bietjie, daar ‘n bietjie … Daarom sal die woord van die HERE vir hulle wees gebod op gebod, gebod op gebod, reël op reël, reël op reël, hier ‘n bietjie, daar ‘n bietjie, sodat hulle kan heengaan en agteruit struikel en verbreek en verstrik en gevang word.” 

  Jy sal agteruit struikel en verbreek en verstrik en gevang word. In die KJV: “that they might go, and fall backward, and be broken, and snared, and taken”. Baie, baie gelowiges beland op geestelike doodloopstrate, selfs op sektariese dwaalweë, omdat hulle die Ou-Testamentiese skrifte verkeerd lees. Die sluier het hulle verstrik. Die groot hartseer is dat hulle dit nie eens weet nie (Hos 7:9).

Daar is selfs gelowiges wat van Nuwe Testamentiese lewensbeginsels formele wette maak, byvoorbeeld deur 1 Thes 5:16-22 wetties na te kom. Al word dit as opdragte gegee, is dit nie wette nie, maar lewensbeginsels wat natuurlikerwys vloei uit jou funksionering as geestelike mens. Daarom dat Paulus in Gal 3:3 so moedeloos sê: “Nadat julle met die Gees begin het, eindig julle nou met die vlees?”

  • Sela:  Die ‘eksterne’ wet is só diep ingesny in ons funksionering. Bid dat God jou daarvan sal bevry.
  • Lees: Rig 12; Ps 102; Hand 12
  • Memoriseer: Ps 102:13 & 16 (in Eng asb).
  • Vir dieper delf: Luister na Tom Gouws se cd-lering: Gee terug die beroofde en geplunderde volk.