Dag 1020-1021

 

 

“en toe hy by die ingang van die stad kom, was ‘n weduwee

juis besig om daar houtjies bymekaar te maak”

(1 Kon. 17:10, OAV)

 

Die feit dat Elia spesifiek na ‘n weduwee en haar weeskindseun toe gestuur word, is ook van groot belang as ons iets van geestelike vaderskap en die verkryging van mantels wil verstaan.

God het in Jesus Christus sy Ewige Vaderskap volgens sy ewige voorneme (Efes 3:11) laat gestalte kry. Dit beteken dat nét hulle wat uit Jesus (weer)gebore word, deel van die “Goddelike saad” of nageslag kan wees (1 Pet. 1:23). Dit bring ‘n nuwe geslagslyn in ná Jesus (Mat. 1:17), ‘n nageslag wat Hom as Vader sou leer ken.

Dus soos Efes. 1:4-5 dit stel, het “Hy ons in Hom uitverkies voor die grondlegging van die wêreld om heilig en sonder gebrek voor Hom in liefde te wees, deurdat Hy ons voorbeskik het om ons as sy kinders vir Homself aan te neem deur Jesus Christus”. Hierdie ewige voorneme setel in (geestelike) vaderskap en seunskap.

God spreek profeties hierdie diep begeerte van Hom vir die eerste keer uit in 2 Sam. 7:14 – “Ek sal vir hom ‘n vader wees, en hy sal vir My ‘n seun wees.” Hierdie woorde word die eerste keer in die ganse geskiedenis tussen God en mens gebruik wanneer Yahweh Hom aan Dawid verbind. Geestelike seunskap word hier voorgehou as die absolute voorwaarde van heerskappy, soos dit byvoorbeeld later aan Dawid se seun, Salomo, gesê is in 1 Kron. 22:10: “Hy sal vir my Naam ‘n huis bou, en hy sal vir My ‘n seun wees, en Ek vir hom ‘n Vader; en Ek sal die troon van sy koningskap oor Israel bevestig tot in ewigheid.” Daarmee saam gaan ook God se durende “goedertierenheid”, of soos die Message dit raak stel: “I will never remove my gracious love from him as I did from the one who preceded you.” – 1 Kron. 17:13.)

Geestelike vaderskap leer ons om die hart van die Vader te verstaan, en dit is die hartklop van die ganse geestelike realm, want dit reflekteer die Vaderhart van God. Elia is die prototipe wat ons daarvan moet leer. Baie belangrik om te verstaan, is dat die gees van Elia hierdie nuwe bedeling van die nuwe verbond sal inlei (Luk. 1:17), en dat dit hoofsaaklik sal gaan oor geestelike vaderskap, miskien dié belangrikste verantwoordelikheid wat enige priesterdom móét fasiliteer. Geestelike vaderskap vorm die wesensaard van die nuwe verbond. Êrens het ons as die eietydse kerk hierdie kernbeginsel totaal verloor, en teruggeval op die Levitiese sisteem van priesters (dominees, pastore, en so meer, nié vaders nie). 1 Kor 4:15  -“After all, though you should have ten thousand teachers (guides to direct you) in Christ, yet you do not have many fathers.”

Alle mense wat uit die eerste mens, Adam (1 Kor. 15:45), gebore is, het die duiwel as vader (Rom. 5:12), en is gebore uit die natuur wat gestalte kry deur die saad van die slang (Gen. 3:15; Mat. 3:7; Mat. 13:38; Hand. 13:10). Dit is ‘n aaklige realiteit, maar dit is helaas absoluut waar, selfs van pasgebore babatjies (Job 14:4). Jesus stel dit in Joh. 8:44 (CEV) soos volg: “Your father is the devil, and you do exactly what he wants. He has always been a murderer and a liar. There is nothing truthful about him. He speaks on his own, and everything he says is a lie. Not only is he a liar himself, but he is also the father of all lies.”

In hierdie lig is dit duidelik te verstane hoekom dit so belangrik is dat ‘n nuwe priesterskap van vaders ons moet vader daarin om God die Vader te verstaan. Satan het met die sondeval iets verskriklik reggekry – hy het ons verwyder van die hart van die Vader, en dit het alle mense ‘n fatale vaderswond toegedien. Dit het selfs met Jesus aan die kruis gebeur. Onthou: Jesus IS God (Joh. 10:30) – sy vader kan Hom nie verlaat nie, maar dit was tog presies Jesus se ervaring: “En die negende uur het Jesus met ‘n groot stem uitgeroep en gesê: Eloï, Eloï, lamma sabagtáni? wat, as dit vertaal word, beteken: My God, my God, waarom het U My verlaat?” (Mark. 15:34).

As gevolg daarvan het die korporatiewe mensdom ‘n afgryslike wond wat hy in die sondeval opgedoen het, veral deur die uitdrywing uit die tuin van Eden (Gen. 3:24). Die woordjie “uitdryf” in die oorspronklike taal beteken: “expatriate or divorce, to be tossed, to be thrust out”. Die mens se eenwording met God is van hom ontneem, en hy is van die Vader se boesem weggeskeur deur die mag van sonde, erger as ‘n atoombom. Dit het die mens wees gelaat en ‘n korporatiewe wond van die weeskind in hom nagelaat. Neem ook in ag dat die Hebreeuse woordjie ook “divorce” beteken, wat die mens ook in die staat van alleenheid, of dan weduweeskap, laat. Die mens het die gees van die wees en die weduwee geërf. Job 4:19-21 spel die desperaatheid van die mens se weerloosheid so raak uit: “Hoeveel meer by hulle wat kleihuise bewoon, van wie die grondslag in die stof is, wat fyngedruk word soos ‘n mot. Tussen môre en aand word hulle verpletter; hulle kom vir ewig om sonder dat iemand daar ag op gee. Word hulle tentlyn nie losgeruk in hulle nie? Hulle sterwe, en dit sonder wysheid.”

Die model van Sy vaderskap wat God aan die mens wou voorhou in die wêreld van aardse vaders het helaas nie gebeur nie. In Tom Gouws se drama Nag van die lang messe sê die hoofkarakter Braam: “My pa was ‘n dominee. En vir my was, is God ‘n dominee. Hy was die hele week ‘n misterie – geslote agter pastoriedeure, ure lank, net met ‘n gedempte gefluister. Elke aand met huisbesoek by ander kinders wat hy aan die wang geknyp het. Hy het sy opstandingsoomblikke gehad Sondae om nege. Vir ‘n uur kon ek na my pa kyk in sy wit das en swart toga en die vreemde kanseltaal wat hy gepraat het. God is nou nog vir my vreemd.” In die kultusfliek Fight Club sê een van die hoofkarakters: “Our fathers were our models for God. If our fathers bailed, what does that say about God?”

Die ganse mensdom sit met die gees van die weeskind en die weduwee. In die jare wat ek betrokke was by die restorasie van mense deur berading en bevryding is dit loshande dié saak wat die grootste verwonding veroorsaak: vaderskap, óf die gebrek daaraan, óf die misverstaan daarvan. Daarom is dit te verstane dat die diepste worteloorsaak van die gees van vrees in gelowiges is dat ons nie God as Vader leer ken het nie. Vrees maak dit onmoontlik om lief te hê – 1 Joh. 4:18 – “Daar is geen vrees in die liefde nie; maar die volmaakte liefde dryf die vrees buite, want die vrees sluit straf in, en hy wat vrees, het nie volmaak geword in die liefde nie.” ( Die titel van die boek van die Moslemvrou wat tot geloof in Jesus gekom het, Bilquis Sheik, vat die diepste drumpelvrees vir God treffend saam: I dare to call Him Father.

Terug by Elia. In 1 Kon. 17:10 staan daar: “en toe hy by die ingang van die stad kom, was ‘n weduwee juis besig om daar houtjies bymekaar te maak”. Dié weduwee het ‘n weeskindseun, lees ons in vers 12. Tipologies verstaan, vind Elia die weduwee in die poort van die stad. ‘n Verrekening met die gees van die wees en die weduwee IN JOU is absoluut noodsaaklik om toegang te verkry tot die Liggaam van Christus, dáár waar jy vader- en seunskap leer. Interessant genoeg is sy besig om houtjies te sprokkel om mee vuur te maak. Hout is in die Skrif altyd simbool van vleeslikheid (Job 13:28; 2 Tim. 2:20), en vuur van die verterende karakter van God (Heb. 12:29; Jes. 66:15), hier spesifiek gemanifesteer as die Vader. ‘n Voorwaarde vir die ontvangs van jou mantel is dat jy die gees van die weduwee en die weeskind in jou moet hanteer.

 

  • Sela: Hanteer die gees van die weduwee en die weeskind in jou
  • Lees: 35-40; Ps. 74 en Ps. 79
  • Memoriseer: 74:2
  • Delf dieper: Luister na Hanno Pienaar se cd-lering: Om die gees van die wees en die weduwee in

my te hanteer