Dag 1029

 

“olie uit die klipharde rots”

(Deut. 32:13, OAV)

Ons is besig om te kyk na die simboliese betekenis van olie en salwing, en het in die vorige Manna ‘n duidelike verstaan gekry dat die begrip “salwing” nie soseer uit die Heilige Gees ontspring nie, maar uit Jesus Christus, die Gesalfde.

Om hierdie rede staan daar dan ook in Deut. 32:13 in die lied van Moses – “ Hy het hom laat ry op die hoogtes van die aarde, en hy het die opbrings van die veld geëet; en Hy het hom heuning uit die rots laat suig en olie uit die klipharde rots …” Daardie Rots, verduidelik 1 Kor. 10:4, is Christus, waaruit water ( = die Heilige Gees) gekom het, maar later ook olie (= die salwing)!

‘n Mooi voorbeeld om dit te illustreer, is Saul. In 1 Sam.10:1 word verduidelik hoe Samuel die kruik met olie geneem het en dit op Saul se hoof uitgegiet het, hom gesoen en gesê het: “Het die HERE jou nie gesalf as vors oor sy erfdeel nie?” Die woordjie wat spesifiek hier gebruik word, “vors” (“nâgı̂yd/nâgid”), is ver verwyderd van die woordjie wat in Hebreeus vir “koning” (“melek”) gebruik word. Die wortelwoord van “vors” is baie interessant: “nâgad”, wat onder andere beteken: “to manifest; declare; speak” (Strong). Ons weet die Christus word gemanifesteer as hulle “unveil” word! Dus was hierdie salwing wat Saul ontvang het, duidelik deel van die salwing van die Gesalfde, met ander woorde deel van die salwing van Christus.

In 1 Sam. 10:11 word berig hoe Saul toe hy saam met die profete kom, begin profeteer het. Dit dui op korporatiewe Geesfunksionering, maar in 1 Sam. 11:6 lees ons “die Gees van God het oor Saul vaardig geword”. Duidelik is daar hier ‘n onderskeid te tref tussen die salwing enersyds  en die werking van die Gees in ‘n persoon andersyds.

Oor Dawid word berig dat Samuel ‘n opdrag kry om hom te salf (1 Sam. 16:12). Die volgende vers sê dan: “Samuel neem toe die horing met olie en salf hom te midde van sy broers, en die Gees van die HERE het van dié dag af en verder oor Dawid vaardig geword.” Hier is daar duidelik ook twee aksies te onderskei, alhoewel dit anders as met Saul met dieselfde salwingsgeleentheid plaasgevind het, dog moet dit onderskei word.

Dat dit definitief die geval is, is weer duidelik uit wat met Saul daarna gebeur. 1 Sam. 16:14  onthul dat ná Saul se ongehoorsaamheid het “die Gees van die HERE … van Saul gewyk”, maar toe Dawid geleentheid kry om hom op Saul te wreek, is hy kategories oor Saul se status as gesalfde: “Mag die HERE my bewaar dat ek so iets aan my heer, die gesalfde van die HERE, sou doen om my hand teen hom uit te steek; want hy is die gesalfde van die HERE.” (1 Sam. 24:6). Die herhaling in een spreekbeurt benadruk onteenseglik die klem op die salwing.

Omdat Jesus die Christus nog nie fisies geïnkarneer het in die Ou-Testamentiese tyd nie, was alle salwing ‘n heenwysing na die komende Messias/Gesalfde. Daarom dat Dan. 9:25 profeteer dat die ganse geskiedenis van Israel (derhalwe alle salwings ook) opbou “tot op ‘n Gesalfde”.

 

  • Sela: Het jy doping met die Gees ontvang en het jy die salwing ontvang? Kan jy daartussen onderskei?
  • Lees: 3:37-5:22
  • Memoriseer: 5:21
  • Delf dieper: Luister na Tom Gouws se cd-lering: Die Menorah as Tipologie van Salwing en Lig in jou