“Pe. U maak u hand oop
en versadig alles wat lewe met welbehae.”
(Ps. 145:16, OAV)
In Manna 1030 is ‘n geheimenis rondom die manna in die woestyn verduidelik deur te verwys na die Joodse rabbi’s se Midash Rabbah (p. 303) oor die boek Eksodus, waar dit spesifiek kommentaar lewer oor Ps. 145:16 hierbo en uitwys dat die vers nié sê dat “alles wat lewe” versadig met voedsel nie, maar met welbehae (“favour”). Dit beteken dat God aan elkeen gee wat sy uniek-eie behoefte of begeerte is.
As mens die vers naslaan in die Bybel, word hy voorafgegaan deur die Hebreeuse letter pe, want die Ps. 145 is ‘n gedig met ‘n spesifieke Hebreeuse versvorm, naamlik die akroestiek.
J.A. Motyer verduidelik die lemma “Acrostic,” in The New International Dictionary of the Bible (p. 12) soos volg: “In the common form of acrostic found in Old Testament Poetry, each line or stanza begins with a letter of the Hebrew alphabet in order. This literary form may have been intended as an aid to memory, but more likely it was a poetic way of saying that a total coverage of the subject was being offered — as we would say, ‘from A to Z.’”
Ek glo dat dit meer is as bloot ‘n geheuebrug in orale poësie, en dat die rykdom van elke Hebreeuse letter as ‘t ware ‘n stemvurk word van die wyer geestelike resonansie van die vers. In die lig van alles wat in Manna 1030 gesê is oor hierdie versreël, is die implikasies van die letter Pe besonder insiggewend. Onthou – ons het ‘n duidelike tipologiese verband gevind tussen die manna in die woestyn en die Bruid se rhemawoorde (en dus haar korporatiewe salwing), en hierdie vers het die rabbi’s gebruik om te verduidelik dat God in alle behoeftes voorsien van hulle wat in hul posisie in Christus is. (Sien ook die vorige Manna.)
Die letter pe word piktoraal voorgestel deur ‘n mond, en word simbolies geassosieer met die volgende begrippe: “word, saying expression”, spesifiek dan die rhema-woord (Arndt & Gingrich: A Greek-English Lexicon of the New Testament). Daar is geskrywe in Matt. 4:4 – “Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord (= rhema) wat deur die mond van God uitgaan.” In Deut. 8:3 word daar ‘n direkte verband tussen die rhema-woorde en die manna gelê: “En Hy het jou verootmoedig en jou laat honger ly en jou die manna laat eet wat jy en jou vaders nie geken het nie, om aan jou bekend te maak dat die mens nie van brood alleen lewe nie, maar dat die mens lewe van alles wat uit die mond van die HERE uitgaan.”
Waarom is dit van belang vir ons? Onthou Matt. 26:64 se ontsettend belangrike uitspraak van Jesus – “Maar Ek sê vir u almal: Van nou af sal u die Seun van die mens sien sit aan die regterhand van die krag van God en kom op die wolke van die hemel.”
Jesus sal sit aan die “regterhand van die krag van God”. Ons weet God het per definisie nie ‘n fisiese regterhand nie, want Hy is Gees (Joh. 4:24). Die metafoor van God se regterhand kan verklaar word as die setel van sy heerskappy (Ps. 45:9; 60:5; 80:17; 110:1; Jes. 28:2). Maar hier word dit eksplisiet gestel – die regterhand van die krag van God. Die woordjie vir “krag” in Grieks hier is dunamis, wat beteken: “force, miraculous power”, ook “ability, abundance, meaning, might” (Strongs). [Vergelyk met die masskrif hierbo.] Dit word gewoonlik in die Nuwe Testament gebruik om te dui op die werking van die Gees van God, soos dit in die bekende Hand. 1:8 staan: “maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom” (sien ook bv Luk. 4:14; Rom. 15:13). Die Gees bring krag mee, amper soos die dinamo (wat afgelei is van dié Griekse woord) wat in beweging kom en lig genereer. Die Gees is soos ‘n dinamo wat krag opwek; die krag is die gevolg van die Heilige Gees se werking. Die Heilige Gees is die Bron van die krag, maar is nie die krag self nie.
Maar die woordjie dunamis word nie net gebruik vir Geeswerking nie. In Matt. 6:13 leer ons dat die krag aan God behoort; die koninkryk van God kom met krag, nie met woorde nie (Mark 9:1; 1 Kor. 4:20); iemand soos Elia het in dié krag beweeg (Luk. 1:17); krag is iets wat jy besit en uit jou kan uitgaan (Mark 5:30; Luk. 6:19), dus SALWING; dié krag laat demone uitbeweeg en weggaan (Luk. 4:36); dit bring genesing (Luk. 5:17); dit bring mee dat niks jou kan skade doen nie (Luk. 10:19); dit laat wonders en tekens plaasvind (Hand 6:8); alle werk van die geloof word met krag volledig gemaak (2 Thes. 1:11); dit skenk alles wat tot die lewe en die godsvrug dien (2 Pet 1:3); die talente word uitgedeel volgens jou kapasiteit van krag (Matt. 25:15), en meer. Kortom – dit spreek van God se oop hand wat versadig met welbehae!
Bepaald is hierdie “krag van die onvernietigbare lewe” (Heb. 7:16) iets wat elkeen in die Bruid moet hê. Maar benewens dat ons dit ontvang deur die werking van die Gees van God, wat presies is dit?
Ons moet weet krag kom uit die “hoogte” (Luk. 24:49), met ander woorde uit die geestelike realm uit. Rom. 1:16 gee dan hierdie geheime sleutel: “die evangelie van Christus is die krag van God”. In die Mannas van Dag 518-520 en 575-577 (wat in breë trekke hier herhaal word ter wille van die noodsaaklike konteks) het ons die sluier so ietwat gelig rondom die Bruid van Christus wat voor die grondlegging van die wêreld uitverkies is.
Die Naam Jesus, of dan Yashua, beteken “Verlosser”, en dit is wat Jesus se skeppingsdoel was – “ jy moet Hom Jesus noem, want dit is Hy wat sy volk van hulle sondes sal verlos” (Matt. 1:21). As Jesus vir sy dissipels vra wie hulle dink Hy is, gebeur die volgende: “En Hy sê vir hulle: Maar julle, wie sê julle is Ek? En Petrus antwoord en sê vir Hom: U is die Christus. En Hy het hulle streng beveel om niemand van Hom te vertel nie.” (Mark 8:29-30).
Die “Christus” kan vertaal word met “Messias”, of dan: “Gesalfde”. Die konsep van salwing ten opsigte van koningskap (ook profeetskap) in die Bybel is deurgaans dat die hoof gesalf word (Eks. 29:7; 2 Kon. 9:3 & 6). As Johannes die Doper – as prototipe die “grootste” van die Ou Verbond – Matt. 11:11) se kop moes waai (Matt. 14:10), was dit om Jesus as hoof van die Liggaam sy regmatige plek te gee (Efes. 4:15; 5:23). Dis belangrik om Jesus en Christus nie te skei nie, maar te onderskei. Jesus is die vleesgeworde Seun van God; Christus is Jesus PLUS die Liggaam – die Hoof is gesalf en die salwing het oor die hele Liggaam geloop (Ps. 133:2). Christus = Jesus + “the corporate Bride”.
As ons dan in 1 Kor. 1:24 lees: “Christus is die krag van God”, dan voeg dit ‘n totaal nuwe dimensie aan die Skrif waarmee ons tans aan’t ontgin is: “Maar Ek sê vir u almal: Van nou af sal u die Seun van die mens sien sit aan die regterhand van die krag van God en kom op die wolke van die hemel.” Ons sou dit derhalwe met dinamiese betekenisekwivalente só kon lees: Van nou af sal u die Seun van die mens sien sit aan die regterhand van die gesalfde Christus van God.
Dit is nie ‘n vreemde stelwyse nie. In Luk. 9:20 spel Petrus dit presies só uit: “En Hy sê vir hulle: Maar julle, wie sê julle is Ek? En Petrus antwoord en sê: Die Christus van God!” Hierdie is ‘n eggo van die die profesie van Ps. 2:2 – “Die konings van die aarde staan gereed, en die vorste hou saam raad teen die HERE en teen sy Gesalfde …” Ook Dan. 9:25-26 profeteer oor hierdie Gesalfde/Christus van God.
Slotsom: die Seun van die mens [= Jesus] sit aan die regterhand van die gesalfde Christus van God! Inderdaad: He “raised us up together, and seated us together in the heavenlies in Christ Jesus” (Efes. 2:6, EMTV).
Terug by die maskrif en die Hebreeuse letter pe: Die Christus word metonimies nie net die mond van God nie, maar ook die hand van God op aarde. Deur die salwing word alles wat lewe met welbehae versadig.
- Sela: Verduidelik die konsep van die Christus aan iemand.
- Lees: 9-15
- Memoriseer: 9:3
- Delf dieper: Luister na Tom Gouws se cd-lering: Die Uitverkiesing: Jou woord verhul in Sy Woord