“eendragtiglik uit een mond …”
(Rom. 15:6, OAV)
In vorige Mannas het ons gelet op die betekenis van mantels, en gebruik die mantel van Elia as prototipe. In die naspeur van sy ontvouende roeping het ons by verskillende fasette in die formering van die mantel stil gestaan, en vir die laaste paar by die betekenis van die begrip ‘salwing’. Ons het laas gefokus op Ps. 133, wat eksegeties ondersoek is rondom salwing en “hoe goed en hoe lieflik is dit dat broers ook saamwoon”. Ons het gesien dat God DAAR sy seën gebied. Hieruit volg twee aspekte van belang wat vra om verdere toeligting:
- die misverstand oor “eenheid” in die Liggaam; en
- waar is die “DAAR” waar God sy seën gebied?
Daar is deur die eeue, ook vandag, ‘n geweldige klem op die belangrikheid van “eenheid” in die Liggaam van Christus. In verskeie dorpe en stede het ek eersterangse ervaring daarvan dat die pastore, dominees en bedienaars ten alle koste tog in eenheid moet loop. Baie ekumeniese geleenthede (waar ons dan “interkerklik” byeenkom) het met die beste van intensies geskied, maar het nooit lank gehou nie. Tydens die geleenthede is daar vermy om oor kontensieuse onderwerpe te praat, soos byvoorbeeld die doop, en net te fokus op maatskaplike probleme in die lokale gemeenskap, gemeenskaplike aksies (bv die “Wêreldbiddag vir mans/vroue, bidbyeenkomste vir reën of politieke stabiliteit), en so meer. Maar kort voor lank was daar ‘n noodwendige leringsonderonsie, of een Gereformeerde dominee kla van sy ledemate het hul laat doop by die Pinksterkerke en hy het ‘n probleem met die hersirkulering van skape, en alles meer in dier voege. Kort voor lank het die interkerklike groepie as gevolg van dringende ander sake elders maar ‘n stil dood gesterf, totdat die volgende welmenende geestelike leier voel daar móét eenheid in die Liggaam kom, en dan is daar ‘n herhalingspoging om dit weer te laat werk.
‘n Verklaring van pous Benedictus XVI op 10 Julie 2007 het groot opskudding wêreldwyd veroorsaak. Hy het dit duidelik gestel dat daar net een ware Kerk van Jesus Christus bestaan, naamlik die Rooms-Katolieke Kerk, en dat alle ander kerke slegs Christelike gemeenskappe is. Hierdie “gemeenskappe” word genoem “the separated brethren” en hulle moet oorreed word om na die “een ware Kerk” terug te keer.
Hierdie ingesteldheid vind ons dikwels ook by ‘n groot verskeidenheid kerklike groeperinge. Dit is egter ‘n noodwendigheid dat so iets verregaande publiek verkondig word, want baie geloofsgemeenskappe het ‘n meerderwaardigheid oor hul lering, belydenis, dogma, rituele, institusies, en so meer. Uiteraard glo hulle dit is – soos die Gereformeerde geloofsbelydenis vir voornemende lidmate dit stel – “die volkome leer van die saligheid”.
In Manna 175 is reeds uitgespel dat die Woord baie duidelik is daaroor dat ons almal slegs ten dele ken en ten dele profeteer; ons sien deur ‘n spieël in ‘n raaisel (1 Kor. 13:9 & 12). Dit beteken dat niemand die totale waarheid in pag het nie, en dat ons almal in een of ander opsig tog maar dwaal. Daar lê ‘n vertroosting daarin, soos Job (12:16b) dit stel: dat “syne is die verdwaalde en hy wat laat dwaal”! Ons het hoop dat daar ‘n tyd gaan kom waar selfs die dwase nie meer sal dwaal nie (Jes. 35:8). Dit vra van ons om heeltyd leerbaar te bly en onderdanig aan mekaar in die vrees van God te wees (Efes. 5:21). In die volgende Manna meer.
- Sela: Waarin lê ware eenheid?
- Lees: 22-23
- Memoriseer: 22:28 (let op die waarskuwing!)
- Delf dieper: Luister na Tom Gouws se lering: Onderskei die Gees van Waarheid en die gees van dwaling.