Dag 1040-1042

 

“Dit is een liggaam en een Gees …”

(Efes. 4:4)

 

Die eenheid van gelowiges kan nóóit kan geskied deur wat hulle glo en deur hoe hul prakties aan hul geloofservaring beslag gee deur rituele of idiosinkratiese kerklike tradisies nie. Belydenisskrifte, dogma, wat ook al daardie geloofsoortuigings voorhou as hul verstaan van geloofsfunksionering kan selde ‘n grondslag vir eenheid of eensgesindheid bied.

In die vorige Manna is dertien verskillende beskouing van eenheid voorgehou, maar dit het geblyk dat elk op absoluut wankelbare argumente gebou is. Dit is derhalwe belangrik dat ons die dertien stellingnames uit Bybelse perspektief evalueer.

            In oorkoepelende Bybelse konteks gesien, is die eerste probleem dat gemeen word dat eenheid gesetel is in statute wat gelowiges reguleer ten opsigte van posisie in die kerk. Dit mag nooit wees nie. Die pous is nie, soos byvoorbeeld die Rooms-Katolieke kerk meen, die hoof van alle geestelike gesag nie. In Protestantse en Charismatiese bewegings is die sinode, die kerkleiers, die pastoor of die dominee eweneens nié die hoof of uitvoerende gesag nie – slegs Jesus die Christus is die Hoof van die gemeente. Efes. 1:21 stel dit so: “        En Hy het alle dinge onder sy voete onderwerp en Hom as Hoof bo alle dinge aan die gemeente gegee …”, en Kol. 1:18 – “ En Hy is die Hoof van die liggaam, naamlik die gemeente …” Dit wys dus die terminale fout uit van die hiërargiese eenheid.

Die “algemene Christelike kerk” maak aanspraak op konfessionele eenheid. Uiteraard kan ‘n mens ‘n baie breë konsensus so probeer bewerkstellig, maar dan net op algemene hoofstroomleringe. Die leer van die Drie-eenheid word byvoorbeeld baie wyd aanvaar as ‘n ononderhandelbare belydenis, maar dit is ‘n begrip wat nie eens in die Bybel voorkom nie, en eksplisiet deur die wet van Moses én Jesus as Messias weerlê is (Deut. 6:4; Mark. 12:29) – “die Here, onse God, is ‘n enige Here”.

Denominasionele eenheid is eweneens ‘n onBybelse begrip. Die Skrif praat nooit van lokale gemeentes wat oor lang afstande deur ‘n oorkoepelende leierskap beheer word nie. Paulus skryf nooit aan ‘n lokale gemeente nie, maar altyd aan territoriale gemeentes, byvoorbeeld die briewe aan die gemeente van Efése, of Galsië, of Korinthiërs. Ook in Openbaring 2-3 word die briewe gerig aan gemeentes in bepaalde gebiede: Smirna, Sardis en Laodicense, onder andere. Daar kan derhalwe nie enige eenheid lê in ‘n geestelike franchise nie.

In ‘n groot mate is seksionele eenheid bloot konfessionele eenheid wat effens meer inklusief as denominasionele eenheid is, met ander woorde dit vorm ‘n soort No Name Brand wat net oor grense heen sekere geloofsfranchises binne dieselfde pakket bemark. Byvoorbeeld: Debonaires, Wimpy en Mugg & Bean het elk ‘n aparte markidentiteit, maar word deur dieselfde maatskappy besit. Die vier Gereformeerde kerke: NG, Hervormde, Gereformeerde en AP-kerkgroeperinge val almal binne die seksionele eenheid van die sogenaamde susterskerke.

Maar die Afrikaanse Protestante kerk het weggebreek en hul afgeskei van die dogmatiese eenheid van die seksionele eenheid van Gereformeerde kerke deur bepaalde aspekte van die leer anders te interpreteer as hul franchise-broers. Dit is duidelik dat sodanige eenheid hoogs twyfelagtig is, want die dogmatiese eenheid is altyd afhanklik van die interpretasie van gemeenskaplike geloof, en dit kan baie beïnvloed word deur byvoorbeeld politieke of kulturele beskouings en so meer. Ons lees byvoorbeeld in Hand. 23:6-8 dat “Paulus geweet het dat die een deel uit Sadduseërs en die ander uit Fariseërs bestaan” het, en hoe hy eintlik ‘n twis tussen hulle geïnstigeer het “want die Sadduseërs sê dat daar geen opstanding is nie, ook geen engel of gees nie; maar die Fariseërs bely albei”. Die belydenis van Jahwe het albei groepe ‘n seksionele eenheid ten grondslag, maar van dogmatiese eenheid was daar geen sprake nie.

            Ekumeniese eenheid kan baie wyd geïnterpreteer word. Dit word gedryf deur intergeloofdialoog en ‘n geloofspluralisme wat hoop op eenheid deur gedeelde spiritualiteit. Dikwels het dit baie breë gemeenskaplikhede ten grondslag, byvoorbeeld gebed. Die gebeds-inisiatiewe van Graham Powell op werkersdag elke jaar is ‘n goeie voorbeeld daarvan. Die geloofsbeweging van mans, Promise Keepers, wat mans weer die koning, priester en profeet van sy huis wil maak, is byvoorbeeld ook gebaseer op geloofsgemeenskaplikhede, en kies om alle botsende belange ter wille van eenheid te vermy.

Die Suid-Afrikaanse regering se  National Interfaith Council of South Africa waarbinne pastoor Ray McCauley van die Rhema Bible Church ‘n toonaangewende rol speel, het byvoorbeeld verteenwoordigers van Christelike kerke, sinkretistiese kerke wat voorvadergeeste aanbid, Jode, Moslems, Hindoes, die B’hai-geloof, en andere, as deel daarvan. Soos die Vrymesselaars kan enige persoon sy/haar god aanbid. Helaas word dit deur die Bybelse God Yahwe en sy Seun, Jesus Christus, verbied –  “Jy mag geen ander gode voor my aangesig hê nie.” (Eks. 20:3). Paulus se uitspraak in 1 Kor. 5:9-11 spel dit onteenseglik uit: “Ek het julle in my brief geskrywe om nie met hoereerders om te gaan nie— dit wil sê, nie die hoereerders van hierdie wêreld of die gierigaards of rowers of afgodedienaars in die algemeen nie, want dan sou julle uit die wêreld moet uitgaan— maar nou skryf ek aan julle om nie om te gaan met iemand wat, al staan hy as ‘n broeder bekend, ‘n hoereerder is of ‘n gierigaard of ‘n afgodedienaar of ‘n kwaadspreker of ‘n dronkaard of ‘n rower nie; met so iemand moet julle selfs nie saam eet nie.”

Strukturele eenheid het grootliks wegbeweeg van die sigbare geestelike manifestasie en lê klem op groeperinge of gildes of genootskappe wat ‘n breë godsdienstige toleransie het. Die hoofklem van diégene wat strukturele eenheid voorstaan, is nie geestelik van aard nie, maar sosiaal, kultureel, politiek en so meer. Streng gesproke is dit al so ver verwyderd van die ander groeperinge, dat dit uitgelaat kan word.

Die mistieke of onsigbare eenheid word ondervang deur die verskillende groeperinge en hul individue wat elk geestelike legitiemheid vind in hul eie mistieke benadering tot God, en ‘n kosmiese eenheid nastreef. Die gevaar is grootliks dat verskeie godsdienste deur hierdie tipe benaderings in saamgeweef probeer word onder die dekmantel van persoonlike geestelike groei of geestelike verdieping. Dit gaan nie soseer oor die God/godheid wat aanbid word nie, maar oor die proses van byvoorbeeld meditasie waardeur verligting ervaar word. Baie Nuwe Era-godsdienste volg hierdie weg. ‘n Voertuig soos meditasie gee jou as ‘t ware toegang to ‘n geestelike kosmoskweekhuis waarbinne jy dan eksponensiaal geestelik groei en met al die res van beoefenaars mistiek verenig word. Op ‘n webwerf waar dit verduidelik word, word die mistieke eenheid van hierdie benadering baie raak opgesom: “Thousands of people around the world are joining together to aid in the work of transmitting these powerful spiritual energies for the benefit of humanity and the construction of a new world based on Brotherhood, Sharing and Justice.”

Weer eens is dit ‘n benadering waarbinne “verleidende geeste” (1 Tim. 4:1) toegang tot die naiëwe Christengelowiges kan verkry.

            Sakramentele eenheid beroep hulle op iets wat nie eens in die Bybel by dié naam genoem word nie. Word iemand wat ritualisties deel het aan sakramente en rites (selfs onwetend, soos met die babadoop, of wanneer ‘n ongelowige uit bygeloof deel het aan die nagmaal) sonder dat dit enigsins ‘n waarheid is vir die persoon wat dit ondergaan, deel van die Liggaam van Christus? Onmoontlik. Eenheid kan derhalwe per definisie nie lê in sakramente nie, inteendeel. In Manna 929-931 is uitvoerig daarop gewys dat die ooruiging dat sakramente ‘n Bybelse verordening is, nie strook met die Bybel nie, in wese ‘n mite is. Dit nullifiseer sakramentele eenheid noodwendig.

Charismatiese eenheid, wat eenheid moet bring deur die genadegawes (= die “charismata”), sluit per definisie baie gelowiges uit wat nié Pinkster- of Charismaties-georiënteerd is nie. Derhalwe kan daarin geen eenheid setel nie.

Dit is eweneens waar van die sogenaamde Gees-eenheid, wat daarop aanspraak maak daarop dat eenheid net in die geesrealm moontlik is deur die werking van die Heilige Gees. Inderdaad is dit die geval soos Efes. 2:18 uitspel: “deur Hom (= Jesus) het ons … die toegang deur een Gees tot die Vader”, en derhalwe: “Dit is een liggaam en een Gees …” (Efes. 4:4). Maar 1 Kor. 12:13 stel die volgende as voorwaarde tot wie tot die Liggaam van Christus behoort: “Want ons is almal ook deur een Gees gedoop tot een liggaam … ons is almal van een Gees deurdronge.”

Die eksplisiete voorwaarde om deel van die Liggaam te wees, is duidelik: om “deur een Gees gedoop (te word) tot een liggaam”. Die doping met die Heilige Gees is dus ononderhandelbaar. Maar hierdie eksplisiete voorwaarde sluit al die gelowiges uit wat in die eerste dimensie is. Alhoewel die Gees hulle duidelik tot bekering gelei het, het hul die Gees net “met mate” (Joh. 3:34). Gees-eenheid kan dus duidelik nie werklike eenheid bring nie.

[Ons sal op ‘n stadium die problematiek van wie presies die Liggaam van Christus is, moet uitpluis, maar vir eers net hierdie konteksstelling: Rom. 8:9 problematiseer tereg hierdie saak – “julle is egter nie in die vlees nie, maar in die Gees, as naamlik die Gees van God in julle woon. Maar as iemand die Gees van Christus nie het nie, dié behoort nie aan Hom nie.” Hier is dus duidelik ‘n onderskeid wat gemaak word tussen die “Gees van God” (wat met “doping in Jesus” ontvang word) en “die Gees van Christus” (wat met “doping in Christus” ontvang word. Genade om die geheimenisse van die derde dimensie te verstaan nadat die sluiers van die eerste twee dimensies verwyder is (2 Kor. 4:3-4), die sluiers/bedekkings “wat in Christus vernietig word” (2 Kor. 2:14). Daarom stel Paulus dit duidelik in Gal. 1:6-7: “Ek verwonder my dat julle so gou afvallig word van hom wat julle deur die genade van Christus geroep het, na ‘n ander evangelie toe, terwyl daar geen ander is nie; behalwe dat daar sommige mense is wat julle in die war bring en die evangelie van Christus wil verdraai.” Die openbaring van die Christus word net deur God gegee (Mat. 16:17), en ons word dienooreenkomstig “geroep … tot sy ewige heerlikheid in Christus”. Alhoewel ons weet dié uitverkiesing is vanweë die “voorkennis van God” (1 Pet. 1:2), is my en jou profetiese ondersoeking, navorsing en naspeuring (1 Pet. 1:10-11) daarvan die voorvereiste vir die openbaring! Die koninkryk van God noet met geweld bestorm en gegryp word (Mat. 11:12). “Bid, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal vind; klop, en vir julle sal oopgemaak word.  Want elkeen wat bid, ontvang; en hy wat soek, vind; en vir hom wat klop, sal oopgemaak word.” (Mat. 7:7-8).] Gees-eenheid is dus duidelik baie meer kompleks as wat dit gewoonlik gesien word, soos 2 Kor. 1:21-22 ook duidelik maak: “Maar Hy wat ons saam met julle bevestig in Christus en ons gesalf het, is God, wat ons ook verseël het en die Gees as onderpand in ons harte gegee het.”

            Eenheid-in-verskeidenheid is ‘n kompromiesiening rondom eenheid, en probeer die diveriteit van verskillende wesenseienskappe van geloofsgroeperinge onder een kollektiewe sambreel tuismaak sonder dat hulle hul identieke karakteraard en geloofseiesoortigheid verloor. As sommiges van die eenheidbeskouings dan inherente foute het, kan dié sambreelbegrip eweneens nie aanvaar word nie.

 

  • Sela: Verduidelik aan iemand die problematiek van die begrip “die Liggaam van Christus”.
  • Lees: 32-39
  • Memoriseer: 37:4
  • Delf dieper: Luister na Tom Gouws se cd-lering: Is ek besig om God se plan vir my lewe te mis?