“Want net soos die liggaam een is en baie lede het,
en al die lede van die een liggaam, al is hulle baie,
een liggaam is, so ook Christus.”
(1 Kor. 12:12, OAV)
Daar is in die vorige Manna ekstensief gekyk na al die argumente oor wat eenheid kan behels. Onteenseglik het dit getoon dat daar helaas geen eenheid van gelowige kan wees in enige van dié benaderings tot eenheid nie.
Tog praat die Skrif deurgaans van die konsep dat gelowiges een moet wees! Wat presies word daarmee bedoel, en hoe moet dit bereik word? Kájafas, die hoëpriester in Jesus se leeftyd, het met diep insig (“dit het hy nie uit homself gesê nie” – Joh. 11:51) gekonstateer dat Jesus se koms ten doel gehad het “om die verstrooide kinders van God tot ‘n eenheid saam te voeg” (Joh. 11:52).
Dat dit van die allergrootste belang is, is absoluut duidelik uit God se totale bloudruk van alles wat op aarde moet gebeur, soos dit in Efes. 1:10 uitgespel word: “om die volheid van die tye te reël, met die doel om alle dinge wat in die hemele sowel as wat op die aarde is, onder een hoof in Christus te verenig—“. Hier word God se doelstelling met die ganse geskape heelal vasgemaak:
- “alle dinge” sal verenig word
- “onder een hoof”: Jesus
- “in Christus”.
Ons verstaan teen dié tyd al uit vorige leringe dat daar “‘n vermeerdering van die heerskappy” (Jes. 9:7) begin het wat ontvou het uit die “een God, die Vader uit wie alles is” (1 Kor. 8:6). Uit God die Vader het die Seun vermeerder (Ps. 2:7); uit die Seun het die Christus vermeerder: “Want Hy wat heilig maak, sowel as hulle wat geheilig word, is almal uit Een; om hierdie rede skaam Hy Hom nie om hulle broeders te noem nie …” (Heb. 2:11). Maar ten spyte daarvan dat “wie die Here aanhang [“cleaving to” – ABP], een gees met Hom (is).” (1 Kor. 6:17), is daar ‘n eksplisiete voorwaarde vir eenwording: “totdat ons almal kom tot die eenheid van die geloof en van die kennis van die Seun van God, tot ‘n volwasse man, tot die mate van die volle grootte van Christus” (Efes. 4:13). As dít gebeur, word alle dinge weer IN die Christus (terug)versoen met God – Hand. 3:21 noem dit “die wederoprigting van alle dinge”. Dán, spel 1 Kor. 15:28 dit uit: “En wanneer alles aan Hom onderwerp is, dan sal ook die Seun self Hom onderwerp aan die Een wat alles aan Hom onderwerp het, sodat God alles in almal kan wees.”
As ons nou in Open. 17:14 lees van almal wat “teen die Lam oorlog voer”, spel Johannes dit uit: “die Lam sal hulle oorwin want Hy is die Here van die here en die Koning van die konings en die wat saam met Hom is, geroepe en uitverkore en getrou”. Die Bruid is allereers geroep, dan uitverkore, dan getrou bevind om – as “vrou van die Lam” (Open. 21:9) -alle dinge met God te versoen. Waarmee die res van die wêreld besig is, alle “volke en menigtes en nasies en tale” wat op die waters van “humanity” sit (Open. 17:15), word deur God gebruik om sy Bruid te posisioneer EN TE LAAT ONTVOU IN HULLE GODDELIKE IDENTITEIT IN CHRISTUS. Daarom verklaar Open. 17:17 – “Want God het dit in hulle harte gegee om sy bedoeling uit te voer en een bedoeling uit te voer, en hulle heerskappy aan die dier te gee totdat die woorde van God volbring is.”
Totdat die woorde van God volbring is? Ja – hierdie woorde wat volbring moet word, is die rhema, die Bruidwoorde uit die baarmoedermond van God! The Complete WordStudy Dictionary verklaar die woordjie “volbring” soos volg: “teléō; contracted telṓ, fut. telésō, from télos (G5056), end, goal. To make an end or to accomplish, to complete something, not merely to end it, but to bring it to perfection or its destined goal, to carry it through.”
Nou verstaan ons beter wat presies is die konteks waarbinne die kernpassasie in die Skrifte rondom eenheid gesitueer het, hier waar Jesus sy eerste hoëpriesterlike gebed bid: “En Ek is nie meer in die wêreld nie, maar hulle is in die wêreld; en Ek kom na U toe. Heilige Vader, bewaar in u Naam die wat U My gegee het, sodat hulle een kan wees net soos Ons. Toe Ek saam met hulle in die wêreld was, het Ek hulle in u Naam bewaar. Oor die wat U My gegee het, het Ek gewaak; en nie een van hulle het verlore gegaan nie, behalwe die seun van die verderf, sodat die Skrif vervul sou word … Maar Ek bid nie vir hulle alleen nie, maar ook vir die wat deur hulle woord in My sal glo— dat almal een mag wees net soos U, Vader, in My en Ek in U; dat hulle ook in Ons een mag wees, sodat die wêreld kan glo dat U My gestuur het. En Ek het hulle die heerlikheid gegee wat U My gegee het, sodat hulle een kan wees, net soos Ons een is. Ek in hulle en U in My, sodat hulle volkome een kan wees; en dat die wêreld kan weet dat U My gestuur het, en hulle liefgehad het net soos U My liefgehad het.” (Joh. 17:11-12 & 21-23).
‘n Mens mis nogal die voorwaardes van eenheid wat in hierdie gedeelte eksplisiet uitgestip word. Kom ons hef dit uit en koppel die onderdele in ‘n puntsgewyse parafrase:
- Dié wat bewaar moet word, wat een moet wees soos Jesus en God Een is, is aan Jesus gegee, met ander woorde is (uitver-) gekies. [Onthou – hier word van die dissipels gepraat: Joh. 15:16 – “Julle het My nie uitverkies nie, maar Ek het julle uitverkies en julle aangestel om vrug te gaan dra en dat julle vrug kan bly …”] Die dissipels (Judas uitgesluit) moes die prototipiese “een” word.
- Diegene wat deur die eeue tot geloof gekom het as gevolg van die evangelie wat allereers aan die dissipels (later apostels) toevertrou is [“vertrou dit toe aan getroue manne wat bekwaam sal wees om ook ander te leer” – 2 Tim. 2:2], moet ook bewaar word en een word in die Eenheid waarbinne die Vader en die Seun Een is.
- Die enigste wyse waarop dit kan gebeur, is “dat hulle ook in Ons een mag wees”. Onthou egter – God het Homself in Jesus laat ontvou, en Jesus het Homself in die Christus laat ontvou; dus beteken die uitdrukking “in Ons” niks anders nie as “IN CHRISTUS”! Gal. 8:23 spel dit presies so uit: “julle is almal een in Christus Jesus”. [Let wel die onderskeid tussen “Christus Jesus” en “Jesus Christus” (uitvoerig verduidelik in Dag 848-850 en Dag 935).] Die Liggaam van Christus is die volledigheid van die Christus van God (Luk. 9:20). Tweeduisend jaar gelede was die openbaring van die Hoof daar (1 Kor. 11:3; Efes. 1:10 & 22; 4:15; 5:23; Kol. 1:18; 2:20 & 19), maar die Liggaam van daardie Hoof het ontwikkel deur al die eeue totdat eendag “ons almal kom tot die eenheid van die geloof en van die kennis van die Seun van God, tot ‘n volwasse man, tot die mate van die volle grootte van Christus” (Efes. 4:13). Die Weymouth-vertaling van Efes. 1:22-23 stel dit baie raak: “God has put all things under His feet, and has appointed Him universal and supreme Head of the Church, which is His Body, the completeness of Him who everywhere fills the universe with Himself (deur die Christus – my invoeging).”
- Eenheid is dus nét moontlik in Christus.
- Ontsettend belangrik – die merker van hierdie eenheid is heerlikheid: “En Ek het hulle die heerlikheid gegee wat U My gegee het, sodat hulle een kan wees, net soos Ons een is.” Heerlikheid, weet ons teen hierdie tyd, is nie geestelike hoendervleis of mistieke transe nie. Heerlikheid is allereers ‘n karakteristiek van Yahweh – Hý alleen is “die God van die heerlikheid” (Hand. 7:2); derhalwe – “aan U behoort … die heerlikheid tot in ewigheid” (Matt. 6:13). Die “God van onse Here Jesus Christus, die Vader van die heerlikheid” (Efes. 1:17), laat ontvou sy wesensaard dan in sy Seun – Jesus is die afskynsel van God se heerlikheid en Hy is die afdruksel van sy God se wese, spel Heb. 3:1 dit uit. Hierdie heerlikheid van die Seun is die vooropgestelde wesensaard wat Jesus dan ook aan sy dissipels en almal wat deur hulle sal glo, wil ontvou: “Vader, Ek wil dat waar Ek is, hulle wat U My gegee het, ook saam met My sal wees, sodat hulle my heerlikheid kan aanskou wat U My gegee het, omdat U My liefgehad het voor die grondlegging van die wêreld.” (Joh. 17:24). As Paulus dan in Rom. 5:2 praat van “ons roem in die hoop op die heerlikheid van God”, spel hy later in geen onseker terme nie uit presies wat is dié hoop: “Christ in you, the hope of the glory” (Kol. 1:7, ABP)!
- In Jes. 4:5 is profeties belowe: “Dan skep die HERE oor elke woonplek van die berg Sion en oor sy plekke van samekoms ‘n wolk bedags en rook met die glans van vuurvlamme in die nag; want oor alles wat heerlik is, sal daar ‘n beskutting wees.” Die transponering van God se heerlikheid na sy Seun, en die transponering daarvan na die Christus (tipologies: Sion), word “die heerlikheid van sy sterkte, wanneer Hy kom om verheerlik te word in sy heiliges en bewonder te word in almal wat glo” (2 Thes 1:9-10). Die verborgenheid van die heerlikheid van Christus word volgens Kol. 1:26 net “aan sy heiliges” bekend gemaak, nie aan alle gelowiges nie (verskeie Skrifte lê hierdie verband, bv. Efes. 4:12), en derhalwe is die heerlikheid net beskore vir die Bruid. Dit is derhalwe net die Bruid wat die eenheid kan vertoon.
- Die Bruid as Liggaam word ‘n Liggaam vol heerlikheid, dit wil sê – die Bruid het ‘n verheerlikte Liggaam! Dit gebeur as Jesus in die Christus verheerlik word (soos 2 Thes. 1:9-10 hierbo dit so mooi stel). Daarom word hierdie evangelie genoem “die evangelie van die heerlikheid” (1 Tim. 1:11). Deur hierdie evangelie roep Hy die Bruid “om die heerlikheid van onse Here Jesus Christus te verkry” (2 Thes.2:14). Nou reeds is die Bruid geroep “om gelykvormig te word aan sy verheerlikte liggaam volgens die werking waardeur Hy ook alles aan Homself kan onderwerp” (Fil 3:21). Duidelik moet ons’n totale hersiening doen van ons oorgelewerde denkbeeld van die verheerlikte liggaam, en allereers besef dit begin as ‘n korporatiewe Liggaam vol heerlikheid.
- Uit die Bruid word die evangelie van heerlikheid oor die aarde gebring: “Want die aarde sal vol word met die kennis van die heerlikheid van die HERE soos die waters die seebodem oordek.” (Hab. 2:14). Dit sal meebring dat “die koninkryke van die wêreld … die eiendom (word) van onse Here geword en van sy Christus …” (Open. 11:15). Dan sal Sag. 14:8-9 se belofte finaal gestalte kry: “En in dié dag sal daar lewende waters uit Jerusalem uitvloei, die een helfte daarvan na die Oostelike en die ander helfte daarvan na die Westelike See; somer en winter sal dit so wees. En die HERE sal Koning wees oor die hele aarde; in dié dag sal die HERE een wees, en sy Naam een.” Hallelujah! Ons kan net soos ons vader Dawid, op wie se troon die Bruid tans sit (Jer. 33:17), in sy heel laaste pryspsalm voor hy gesterf het, uitroep: “Geloofd sy die HERE God, die God van Israel, wat alleen wonders doen! En geloofd sy vir ewig sy heerlike Naam! En laat die hele aarde met sy heerlikheid vervul word! Amen, ja amen.” (Ps. 72:18-19).
Ja, Joh. 1:4 is waar: “die Woord het vlees geword en het onder ons gewoon—en ons het sy heerlikheid aanskou, ‘n heerlikheid soos van die Eniggeborene wat van die Vader kom—vol van genade en waarheid.” Eenheid setel nét in die Bruid in Christus. In die volgende lering word dit prakties verdiskonteer.
- Sela: Verduidelik aan iemand die transponering van heerlikheid.
- Lees: 40-45
- Memoriseer: 43:2 (wat ‘n allerheerlike sinchronisasie!)
- Delf dieper: Luister na Daniël Gouws se cd-lering: “Vandag, As die Here Kom …”