“onder een hoof in Christus … verenig—
in Hom in wie ons ook ‘n erfdeel ontvang …”
(Efes. 1:10b-11a, OAV)
Eenheid setel nét in die Bruid in Christus. In die vorige lering is dit uitvoerig verduidelik, maar daar is belowe dit sal in hierdie Manna prakties verdiskonteer word.
As die Bruid volgens Efes. 2:10a (NJB): “God’s work of art, created in Christ Jesus” is, is die woordjie wat in Grieks daarvoor gebruik word “poiēma”, wat benewens ‘gedig’ etimologies ook dui op iets wat bewustelik gemaak is (daarom vertaal baie vertalings dit as “workmanship”, of in Afrikaans “maaksel”, of beter: “masterpiece”). Die doelbewuste konstruksie van die poiēma, of dan: gedig, is DIE BRUID, die een wat “lede van sy liggaam, van sy vlees en van sy bene” (Efes. 5:30) is. Daardie “lede” van Christus is elkeen ‘n uniek-eie, onvervangbare kunstig gemaakte (Ps. 139:15) woord in die gedig, wie Jesus is. Die volheid van Wie Jesus is, het Hy uitgedeel in ‘n menigvuldige hoeveelheid “onvervangbare woorde” wat elkeen iets van Hom, die Hoof, openbaar, en aan sy Vorm gestalte gee.
In sy slotgedig ‘glief’ uit die digbundel Stigmata (p. 83) verwoord die digter Tom Gouws hierdie waarheid poëties in die opening- en slotstrofe soos volg:
in die begin was die Woord ’n ontsnapstroom van dermiljoene asemteue
uit die Oerbron bars iedereen met ’n sidderende eiesinnigheid
in die mondgrot van God het elke kepie klank sigself uit die Geheue
uitbasuin en meteories voortgeplant met diepsnydende identiteit
alles versny tot die oerkoolstofspoor van klip en been
ons word bedink en uitgekerf as mistieke hiëroglief
uit ons hande spruit stigmata van God se grein en geen
lapidêre woorde seergeliefd weer ín die Rots geglief
Die woordjie “lapidêr” in die slotreël beteken: woorde wat in klip of rots ingesny word; hier dan is die WoordRots Jesus vol seergeliefde woorde wat elkeen iets, ‘n onderdeel, van die lewe van die Rots besit (Rom. 5:10; Joh. 1:4). Die woorde het nét identiteit in Hom, uit wie hulle gekonsipieer is. In Hom alleen bestaan hule “diepsnydende identiteit”.
As ‘n mens hierdie verstaan, is die begrip ‘eenheid’ geweldig eenvoudig om te verduidelik. Al die rhemawoorde moet hul eie identiteit van Sy lewe IN hulle vind, en die res van die Liggaam moet geleer word wat elkander se identiteit is. Daarin alleen is eenheid. Niemand het saam met die hoëpriester op die Heilige Versoendag in die Allerheiligste ingegaan nie; maar wanneer hy daar was, het hy die totale volk verteenwoordig. Presies dieselfde is met elke rhemawoord die geval – die verantwoordelikheid om alleen deur die voorhangsel “translate” te word [hier spesifiek as “deurgelate” woord bedoel – dis ‘n soewereine daad van God, wat met die uitverkorenes alleenlik gebeur]. In die derde dimensie is al die ander woorde in hom/haar vervat. Dít is die enigste moontlike ware eenheid – in die Christus.
Die Bruid word dus “onder een hoof in Christus … verenig— in Hom in wie ons ook ‘n erfdeel ontvang …” (Efes. 1:10b-11a). Hierdie “erfdeel” is jou uniek-eie identiteit in Christus – jou rhemawoord. Daarbinne is die totale erfdeel wat jy verder moet ontvang, inbegrepe. Die vers sê voorts: “Hom in wie ons ook ‘n erfdeel ontvang het nadat ons vantevore daartoe verordineer is ooreenkomstig die voorneme van Hom wat alles werk volgens die raad van sy wil”. Uitverkorenheid is nie ‘n begrip wat in die eerste of tweede dimensie tuishoort nie, maar in die derde dimensie. (Lees asseblief weer Manna 515-517 en 518-520.) As jy as gelowige in die tweede dimensie geroep word tot Bruidskap, is dit in die woorde van Hoogl. 2:8-10: “Hoor, my beminde, kyk, daar kom hy! Hy spring oor die berge, hy huppel oor die heuwels. My beminde lyk soos ‘n gemsbok of soos ‘n jong takbok. Daar staan hy agter ons muur! Hy kyk deur die vensters in, hy speur deur die tralies heen. My beminde begin toe en sê vir my: Staan op, my vriendin, my skone, kom dan tog!” Daarop moet jy reageer, KIES, en OPSTAAN (in jou roeping). Dit is dan waarna Jesus verwys in Matt. 22:14 – “Want baie is geroep, maar min uitverkies.” Daar is baie wat nié die uitnodiging aanneem nie.
Uitverkiesing word die beste verduidelik aan die hand van 1 Pet. 1:2 – “uitverkore volgens die voorkennis van God die Vader”. Omdat God buite tyd is, het Hy geweet wie sou hul eie lewens neerlê (Matt. 16:24) en kies om God se agenda te volvoer (Hand. 13:36).
Paulus se verduideliking van die rol en funksie van die vyfvoudige bediening (sien Manna Dag 647-649) – dié wyse waarop God “captivity captive” neem (Efes. 4:12 & 8) – word voorafgegaan deur ‘n ernstige appél tot eenheid: “(Julle moet) ernstig strewe om die eenheid van die Gees te bewaar deur die band van die vrede. Dit is een liggaam en een Gees, soos julle ook geroep is in een hoop van julle roeping; een Here, een geloof een doop, een God en Vader van almal, wat oor almal en deur almal en in julle almal is.” (Efes. 4: 3-6). In vers 7 verduidelik hy dan hoe dié eenheid moontlik is in die geweldige verskeidenheid van die Liggaam: “Maar aan elkeen van ons is die genade gegee volgens die mate van die gawe van Christus.” Sódoende bewerk Hy “dat Hy alles tot volheid kan bring” (vers 10).
Hierdie “gawe van Christus” = die vyfvoudige bediening = die hand van God, bewerk die eenheid deur “die heiliges toe te rus vir hulle dienswerk, tot opbouing van die liggaam van Christus, totdat ons almal kom tot die eenheid van die geloof en van die kennis van die Seun van God, tot ‘n volwasse man, tot die mate van die volle grootte van Christus” (verse 12-13). Die ABP-vertaling stel dit raak: “the measure of the stature of the fullness of the Christ”.
As elke rhemawoord in God se gedig in sy identiteit in Christus beweeg, is die Liggaam in eenheid.
In hierdie proses leer die Liggaam mekaar ag, erken en dien. Die hoofstuk in Efesiërs waarin al bogenoemde voorkom, begin met hierdie ideaal: “Ek vermaan julle dan, ek, die gevangene in die Here, om te wandel waardig die roeping waarmee julle geroep is, met alle nederigheid en sagmoedigheid, met lankmoedigheid, terwyl julle mekaar in liefde verdra en ernstig strewe om die eenheid van die Gees te bewaar deur die band van die vrede.” (Efes. 4:1-3). In die derde dimensie noem ons dit korporatiewe vaderskap – “subjecting yourselves one to another in the fear of Christ” (Efes. 5:21, ASV). Sodoende groei daar toleransie, ruimte, begrip vir die andersheid van die lede van die Liggaam, want elkeen van ons moet leer om die Christus deelagtig te word voordat ons self tot volheid in Hom kan kom.
Dit is hoe hierdie leërmag van Joël 2:7-9 tipologies van die Bruid voorgehou word: “Soos helde hardloop hulle, soos krygsmanne klim hulle op die muur, en elkeen gaan sy eie koers; hulle verander nie van pad nie. En die een druk nie die ander nie; elkeen gaan sy eie pad; en tussen wapens deur val hulle; maar hulle bly in gelid. Hulle oorval die stad, hulle hardloop op die muur, hulle klim in die huise, hulle dring by die vensters in soos ‘n dief.”
Nou kan daar in eenheid beweeg word ten spyte van noodwendige nakoming van enige van die dertien teoretiese dinge wat vroeër in die Manna as ononderhandelbaar vir sogenaamde eenheid voorgehou is. Dit is ook veral nié eenheid-in-verskeidenheid nie, want nie net is die Hoof almal se hoof nie, maar ook “as die wortel heilig is, dan die takke ook” (Rom. 11:16).
As gevolg van hierdie organiese eenheid in Christus is gelowiges “nie meer kinders … wat soos golwe geslinger en heen en weer gedryf word deur elke wind van lering, deur die bedrieëry van die mense, deur sluheid om listiglik tot dwaling te bring (nie); maar, terwyl ons in liefde die waarheid betrag, in alles sou opgroei in Hom wat die Hoof is, naamlik Christus, uit wie die hele liggaam—goed saamgevoeg en saamverbind deur die ondersteuning wat elke lid gee volgens die werking van elke afsonderlike deel in sy mate—die groei van die liggaam bevorder vir sy eie opbouing in liefde.” (Efes. 4:14-16).
Énige ander prinsiep eerder as eenheid in Christus veroorsaak “verdwaasdheid van (die) gemoed” (vers 17), bring verduisterdheid voort “in die verstand” en maak die persone “vervreemd van die lewe van God deur die onkunde wat in hulle is vanweë die verharding van hulle hart” (vers 18-19). In hierdie opsig, sê Paulus, word gelowiges dan net soos “die heidene” (vers 17) “wat ongevoelig geword het en hulle oorgegee het aan die ongebondenheid om in hebsug allerhande onreinheid te bedrywe” (vers 19). Paulus eindig dan hierdie on-een-igheid deur as slotsom te stel in vers 20: “Maar julle het (die) Christus nie so leer ken nie …” [Interessant dat telkens wanneer daar in die Nuwe Testament verwys word na Christus, is dit sonder ‘n lidwoord, terwyl dit in die oorspronklike teks bykans deurgaans daarmee verskyn, soos byvoorbeeld verskeie vertalings wel weergee, byvoorbeeld die Apostolic Bible Polyglot en A Conservative Version.]
Dit is waar wat Frank Viola in sy boek God’s Ultimate Passion oor hierdie gedeelte sê: “Speaking the truth in love is proclaiming to one another the reality of our high and holy calling.” (p. 230).
In Fil. 2:1-5 word die omvang van hierdie eenheid IN CHRISTUS netjies omlyn: “As daar dan enige troos in Christus is, as daar enige vertroosting van die liefde, as daar enige gemeenskap van die Gees, as daar enige innige tederheid en ontferming is, maak dan my blydskap volkome deur eensgesind te wees en dieselfde liefde te hê, een van siel, een van sin. Moenie iets doen uit selfsug of uit ydele eer nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself. Julle moet nie elkeen na sy eie belange omsien nie, maar elkeen ook na die ander s’n. Want hierdie gesindheid moet in julle wees wat ook in Christus Jesus was.”
Sef. 3:9 het dit profeties mooi gedetermineer: “Want dan sal Ek aan die volke rein lippe toebring, sodat hulle almal die Naam van die HERE sal aanroep en Hom met ‘n eenparige skouer sal dien.” Die “vermeerdering van die heerkappy” (Jes. 9:7) is op hierdie (eenparige) skouer (Jes. 9:6).
Die feit dat dit nog nie gebeur het nie, is die enigste rede waarom daar weinig gemanifesteerde krag in die Liggaam van Christus is. In Joh 15:7 spel Jesus dit uit: “As julle in My bly en my woorde in julle, sal julle vra net wat julle wil hê, en julle sal dit verkry.” Die woorde waarvan hier sprake is, is rhema-woorde. As ons deur hierdie woorde gevader word, en hulle in ons woon, soos ons in Hom woon, sal groter werke doen. Joh. 14:12 bly steeds die grootste aanklag teen die kerk: “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie in My glo—die werke wat Ek doen, sal hy ook doen; en hy sal groter werke doen as dit, omdat Ek na my Vader gaan.”
Dit alles beteken ek kan in gemeenskap gaan met die res van die Liggaam wat anders dink en glo as ek – die blote kennis van hierdie openbaring is nie noodsaaklik om in jou roeping of in eenheid te loop nie! In elke groepering in die breër Liggaam is daar persone wat God “in gees en in waarheid” (Joh. 4:24) dien. Selfs die afvallige moordenaar aan die kruis het in sy laaste oomblikke sy volledige skeppingsdoel en roeping in een sin volvoer (Luk. 23:42), en is met Jesus ge-translate na die paradys, ofte wel: die derde dimensie. Sela.
- Sela: Verduidelik aan iemand hoe is eenheid in die Liggaam moontlik.
- Lees: 46-48; Joël 1-3; Daniel 1-3
- Memoriseer: Joël 2: 7-9 (wat ‘n allerheerlike sinchronisasie!)
- Delf dieper: Luister na Tom Gouws se cd-lering: Die Doping tot die Laaste Reformasie – onderskei die ware Liggaam van Christus