Dag 1049-1051

 

“Wat het ek met u te doen, man van God! U het na my gekom om my ongeregtigheid in gedagtenis te bring

en my seun dood te maak!”

(1 Kon. 17:18, OAV)

Vir ‘n groot aantal Mannas het ons op ‘n noodwendige syspoor moes loop om die betekenis van salwing en gepaardgaande eenheid te verstaan, maar dis noodsaaklik dat ons terugkeer na die hooftema onder die loep. Tans is ons besig met die ontvouing van die gees van Elia IN ons, en algaande verstaan ons meer van hoe mantels in die algemeen gestalte kry en gelowiges bemagtig om te doen waarvoor God hulle geroep het. Ons volg Elia as prototipe om die proses van sy mantelvorming en uitspruitende outoriteit te kan verstaan.

In Manna 1028 het ons laas die spoor van Elia verlaat by die gedeelte van die wonderteken van die vermeerdering van die meel en die olie: “die meel in die pot het nie opgeraak en die olie in die kruik nie minder geword nie, volgens die woord van die HERE wat Hy deur die diens van Elía gespreek het” (1 Kon. 17:16). Ons het daarna na die tipologiese betekenis van meel en olie gekyk en op ‘n ekskursie gegaan om “dying to self”, salwing en eenheid in die Liggaam van Christus beter te verstaan.

As ‘n mens besef dat alles in die ou verbond gegee is vir ons in die nuwe verbond tot lering en stigting (2 Tim. 3:16), en spesifiek, soos Rom. 15:4 sê: “Want alles wat tevore geskrywe is, is tot ons lering tevore geskrywe, sodat ons deur lydsaamheid en bemoediging van die Skrifte hoop kan hê”, is dit belangrik dat ons die geskiedenis van Elia uitpluis om ons mantelvorming (wat daarop geskoei is) beter te verstaan.

Die verhaal loop soos volg: “Ná hierdie dinge het die seun van die vrou, die eienares van die huis, siek geword; en sy siekte was baie ernstig, totdat daar geen asem meer in hom oorgebly het nie. Toe sê sy vir Elía: Wat het ek met u te doen, man van God! U het na my gekom om my ongeregtigheid in gedagtenis te bring en my seun dood te maak! Maar hy antwoord haar: Gee jou seun vir my. En hy het hom van haar skoot af geneem en hom opgedra na die bo-kamer waar hy self gewoon het, en hom op sy bed neergelê; en hy het die HERE aangeroep en gesê: HERE my God, het U selfs oor die weduwee by wie ek as vreemdeling vertoef, ‘n onheil gebring deur haar seun te laat sterwe? Daarop het hy hom drie maal uitgestrek oor die kind en die HERE aangeroep en gesê: HERE my God, laat die siel van hierdie kind tog in hom terugkeer. En die HERE het Elía verhoor; en die siel van die kind het in hom teruggekeer, sodat hy weer lewendig geword het. Daarop neem Elía die kind en bring hom af uit die bo-kamer in die huis en gee hom aan sy moeder; en Elía sê: Kyk, jou seun lewe! En die vrou sê vir Elía: Nou weet ek dit dat u ‘n man van God is en dat die woord van die HERE in u mond waarheid is.” (1 Kon. 17:17-24).

Elia is nou prototipies ingeskakel in die salwing van die Christus (wat by ons korrespondeer met die “doping in Christus” – “want julle almal wat in Christus gedoop is, het julle met Christus beklee” (Gal. 3:27). Om met Christus beklee te wees, beteken om ‘n mantel (van ‘n salwing) te dra. Sela.

Hieruit vloei voort dat sy salwing sal doen wat die Gesalfde se salwing voor bedoel was: “Die Gees van die Here HERE is op My, omdat die HERE My gesalf het om ‘n blye boodskap te bring aan die ootmoediges; Hy het My gestuur om te verbind die gebrokenes van hart, om vir die gevangenes ‘n vrylating uit te roep en vir die geboeides opening van die gevangenis; om uit te roep ‘n jaar van die welbehae van die HERE en ‘n dag van die wraak van onse God; om al die treurendes te troos; om vir die treurendes in Sion te beskik dat aan hulle gegee word sieraad vir as, vreugde-olie vir treurigheid, ‘n gewaad van lof vir ‘n verslae gees; sodat hulle genoem kan word terebinte van geregtigheid, ‘n planting van die HERE, tot sy verheerliking. En hulle sal die ou puinhope bou, die verwoeste plekke uit vroeër dae weer oprig en die verwoeste stede weer nuut maak wat woes was van geslag tot geslag.” (Jes. 61:1-4).

Hierdie “opdragte” is derhalwe ook jóú mandaat as gesalfde in Christus die Gesalfde! ‘n Mantel is nie daar vir jou eie koestering en geestelike aansien nie – dit is jou bemagtiging om op al vlakke en in alle domeine die wêreld met God te versoen.

Elia is gestuur na hierdie weduwee en haar seun toe om met iets in homself te deel, en as hy gehoorsaam sou wees, sou dit vir hulle ook vrymaak. Dít is die basis waarop geregtigheid werk. Hier leer ons ‘n baie belangrike faset van geestelike mantels – dit bring ‘n reaksie in die samelewing mee wat dikwels nie vir die persoon of diegene rondom hom aangenaam is nie. Die wêreld staan die verandering wat God deur hom/haar beoog, onteenseglik teen (2 Tim. 3:12), en selfs al baat hulle daarby, word jy beskou as die “beroerder van Israel” (1 Kon. 18:17), soos Agab Elia later beskuldig het.

Die Bruid word geroep om skuddinge mee te bring: “nou het Hy belowe en gesê: Nog een maal laat Ek nie alleen die aarde nie, maar ook die hemel bewe” (Heb. 12:26). Hierdie is reeds profeties belowe in die Ou Testament in Hag. 2:6-7: “Want so sê die HERE van die leërskare: ‘n Rukkie nog, ‘n kort tydjie, dan sal Ek die hemel en die aarde en die see en die droë grond laat bewe. Ek sal ook al die nasies laat bewe, sodat die skatte van al die nasies sal toevloei; en Ek sal hierdie huis met heerlikheid vervul, sê die HERE van die leërskare.” Die Bruid bewerk egter die skuddinge, nie om die wêreld te veroordeel nie, maar om ‘n meetsnoer van geregtigheid te word waardeur die wêreld tot beef sal kom hulle “fall short” of “miss the mark” (die definisie van sonde). Dit bring egter die evangelie van heerlikheid.

Let op wat byvoorbeeld van Noag gesê word in Heb. 11:7 – “Deur die geloof het Noag, toe hy ‘n goddelike waarskuwing ontvang het aangaande wat nog nie gesien was nie, met eerbiedige vrees die ark gereed gemaak tot redding van sy huisgesin, waardeur hy die wêreld veroordeel het en ‘n erfgenaam geword het van die geregtigheid wat volgens die geloof is.” Sonder dat Noag ‘n woord van veroordeling gespreek het, en deur net in geloof aan te gaan met wat God hom gevra het om te doen, met ander woorde deur net in sy skeppingsdoel te loop, het DIT die wêreld veroordeel.

Dít is ook een van die belangrikste doelstellinge van die gees van Elia: “om … die ongehoorsames tot die gesindheid van die regverdiges (te bring)” (Luk. 1:17). Dit is eweneens as gesalfdes die taak van die Bruid van Christus. Deur geregtigheid te vestig in die hemele en op die aarde, word die nuwe dispensasie van God se heerskappy gegrondves: “Terwyl al hierdie dinge dan vergaan, hoedanig moet julle nie wees in heilige wandel en godsvrug nie? — julle wat die koms van die dag van God verwag en verhaas, … Maar ons verwag volgens sy belofte nuwe hemele en ‘n nuwe aarde waarin geregtigheid woon.” (2 Pet. 3:11-13). Goddelike heerskappy is gegrondves in geregtigheid, niks anders nie: “Geregtigheid en reg is die grondslag van u troon …” (Ps. 89:14)

Sien dan hoe mooi verduidelik Jes. 9:7 dit in terme van nié net Jesus wat op die troon sit nie, maar elkeen in Christus wat óók op die troon sit (Efes. 2:6): “tot vermeerdering van die heerskappy en tot vrede sonder einde, op die troon van Dawid en oor sy koninkryk, om dit te bevestig en dit te versterk deur reg en deur geregtigheid, van nou af tot in ewigheid. Die ywer van die HERE van die leërskare sal dit doen.” Jes.16:5 stel dit eweneens baie raak: “En opgerig is deur goedgunstigheid ‘n troon, en daarop sit een in getrouheid in Dawid se tent, ‘n regter wat die reg soek en gou is in geregtigheid.”

Daardie een is jý.

Christene deur die eeue het egter hulself met ‘n kleed van geperverteerde geregtigheid beklee, wat ‘n mens “eiegeregtigheid” kan noem, wat grootliks gebaseer is op hulle norme, waardes, etiek en algemene sin van wat reg en aanvaarbaar is. Dít is nié ware geregtigheid nie, eerder, soos die Message-vertaling van Fil. 3:9 dit raak stel: “some petty, inferior brand of righteousness that comes from keeping a list of rules when I could get the robust kind that comes from trusting Christ–God’s righteousness”. Gelowiges vergeet maklik van Jak. 4:12 –   “Een is die Wetgewer, Hy wat mag het om te red en te verderf. Maar jy, wie is jy wat ‘n ander oordeel?”

Die voorbeeld van ware geregtigheid kom van Jesus – “Ek het nie gekom om die wêreld te oordeel nie, maar om die wêreld te red.” (Joh. 12:47).

Terug by Elia en die weduwee en haar dooie seun. Omdat ons die verhaal tipologies lees, moet ons hierin sien dat Elia se potensiële vaderskapsmantel ten opsigte van hierdie vaderlose seun getoets word; daar moet bepaal word of dit gestalte sal kry.

Die seun is dood, lees ons, en ‘n mens voel dit is ‘n soort opstelling van God ter wille van Elia. ‘n Mens kan met redelike sekerheid ook sê soos Jesus oor die blinde seun gesê het: “Hy het nie gesondig nie, en sy ouers ook nie; maar die werke van God moet in hom openbaar word.” (Joh. 9:3). Dikwels in die evangelies takseer Jesus mense wat fisies gesterf het as dat hulle net slaap! Ons kry die mooi voorbeelde rondom die dogtertjie wat gesterf het, waarvan Jesus sê: “die dogtertjie is nie dood nie, maar sy slaap” (Matt. 9:24). Ook van sy vriend Lasarus: “Lasarus, ons vriend, slaap; maar Ek gaan om hom wakker te maak. Sy dissipels sê toe: Here, as hy slaap, sal hy gesond word. Maar Jesus het gespreek van sy dood, terwyl hulle gedink het dat Hy van die rus van die slaap spreek.” (Joh. 11:11-13).

Ook Paulus gebruik die metafoor in Efes. 5:14 – “Daarom sê Hy: Ontwaak, jy wat slaap, en staan op uit die dode, en Christus sal oor jou skyn.” Hierdie is ‘n geweldige belangrike formulering – al is jy gered, al is jy gedoop met water, Gees en vuur, al is jy dus wedergebore, slaap jy steeds in die eerste of tweede dimensie, ofte wel: jy is steeds dood, by wyse van spreke. Jy moet wakker word IN CHRISTUS! Rom. 13:11 stel dit onvergeetlik mooi: “En dit te meer, omdat ons die tydsomstandighede ken, dat die uur vir ons reeds daar is om uit die slaap wakker te word; want die saligheid is nou nader by ons as toe ons gelowig geword het.” Die saligheid is nou nader? Die Amplified noem dit “salvation (final deliverance)”. Elia moet bovertrek toe gaan sodat die poort tot sy ontvouende verlossing in Christus kan oopgaan. Hierdie is die derde dimensie – die Apostolic Bible Polyglot vertaal die bovertrek uit die Strong as “a higher part of the house, that is, apartment in the third story”! Om hierdie rede strek Elia hom ook “drie maal” oor die seun, waarop hy “wakker word”

Hierdie geskiedenis van geestelike vaderskap word mooi verduidelik deur Jesus in Joh. 5:24-25: “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie my woord hoor en Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe en kom nie in die oordeel nie, maar het oorgegaan uit die dood in die lewe. Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, daar kom ‘n uur, en dit is nou, wanneer die dode die stem van die Seun van God sal hoor; en die wat dit gehoor het, sal lewe.”

Die weduwee getuig dan: “Nou weet ek dit dat u ‘n man van God is en dat die woord van die HERE in u mond waarheid is.” Die ABP vertaal die woordjie woord hier as “rhema”! Elia het in sy identiteit in Christus opgestaan, die geestelike seun uit die dood na die lewe in die derde dimensie begelei, en so gestalte gegee aan sy Goddelike skeppingsdoel en roeping as ‘n geestelike vader.

  • Sela: Is jy geestelik gevader, en vader jy seuns geestelik?
  • Lees: Daniel 4-12
  • Memoriseer: 12:2-3 (wat ‘n allerallerheerlike sinchronisasie!)

Delf dieper: Luister na Tom Gouws se lering: Hoe ontvang ek die Gesalfde Saad van Christus