“Want die wet …kan nooit … tot volmaaktheid lei nie.” (Heb 10:1, OAV)
Hierdie lering rondom die wet die laaste paar kere moet jy asseblief deurentyd koppel aan die tafel met toonbrode, die sentrale metafoor wat ons nou weke lank ondersoek. Baie belangrik rondom dit is dat die toonbrode ook “Bread of Presence” genoem word, en dit is belangrik vir die regte verstaan van ons in die nuwe verbond se posisionering ten opsigte van die Wet.
Die begrip Wet het vier vlakke van moontlike interpretasie. Eerstens dui dit op die Wet as die Tien Gebooie. Tweedens as die Tien Gebooie, met inbegrepe van al die Joodse uitbreidings daarvan. Derdens dui dit ook op die Pentateug, die eerste 5 boeke van die Bybel wat Moses geskryf het. En vierdens is dit ‘n versamelterm vir die hele ou testament (wat strek tot en met die opstanding van Jesus, wat dus bykans al die evangelies insluit).
Niks van die ou verbond het verbygegaan nie, maar dit moet in terme van Christus en die nuwe verbond verstaan word (Mat 5:17). Om hierdie rede het niks van die Ou Testamentiese Wet – in die wydste sin bedoel – dus verval nie, maar dit is deur Christus binne ‘n nuwe lewenshouding geïnkorporeer en geïnterpreteer. Dit wys op die uitnemender weg, ‘n nuwe en lewende weg (Heb 10:20).
Die beste hoe dit verduidelik kan word, is ten opsigte van die ontvouende manifestasie van God se teenwoordigheid. In die eerste dimensie (=buitehof) was dit soos met Moses en die braambos – die teenwoordigheid van God (Heb 12:29) het langs hom, buite hom gebrand (Eks 3:2). In die tweede dimensie (=Heilige) was die vuur OP die apostels (Hand 2:3). In die derde dimensie (=Allerheiligste) sal die Teenwoordigheid van God IN ons wees (Luk 3:14; Kol 1:27). As jy die Brood van sy teenwoordigheid eet, word dit geïnternaliseer – it’s no longer on top, it’s inside! Die Wet is derhalwe nie buite jou nie, maar in jou. “For as many as are led by the Spirit of God, they are the sons of God.” (Rom 8:14, NKJ).
Die “hemelbrood” (Ps 105:40) van die nuwe verbond staan teenoor die brood wat die Adam-generasie in die sweet van hul aangesig (=werke) moet verdien (Gen 3:19). Die priesterorde van die derde dimensie mag nie sweet (Eseg 44:18) as gevolg van dooie goeie werke (Heb 6:1; 9:14) wat die wet vereis nie!
- Sela: Dis baie belangrik dat jou denke vernuwe word ten opsigte van hierdie saak. Bid dat die Helper, die Heilige Gees, jou in die proses sal begelei sodat Heb 9:14 waar word in jou geloofslewe.
- Lees: Rig 15; Ps 105; Hand 15
- Memoriseer: Hand 15:16-17
- Vir dieper delf: Lees hfst 19 van Juan Carlos Ortiz se boek: Disciple.