Dag 1053-1054

 

“En geruime tyd daarna …”

(1 Kon. 18:1, OAV)

 

Ons lees in 1 Kon. 18:1-18 van die volgende fase in die ontvouing van die mantel van Elia. Let daarop dat vers 1 eksplisiet sê: “En geruime tyd daarna het die woord van die HERE in die derde jaar tot Elía gekom en gesê: Gaan heen, vertoon jou aan Agab, dan wil Ek reën gee op die aarde.” Mantels vat duidelik tyd om beslag te kry!

Baie gelowiges het ‘n bepaalde angstigheid oor hul roeping, en gun hulself nie tyd dat dit kan ontwikkel volgens God se tydskedule nie. Vir my is Jes. 28:16  altyd ‘n belangrike vermaner: “daarom, so sê die Here HERE: Kyk, Ek lê in Sion ‘n grondsteen, ‘n beproefde steen, ‘n kosbare hoeksteen wat vas gegrondves is; hy wat glo, sal nie haastig wees nie.”

Dit beteken egter nié dat jy nie deurgaans moet soek, soek, soek nie (Matt. 6:33). Baie gelowiges laat maar net God’s water oor God’s akker vloei – néé. Die Prediker (9:10) was reg oor hierdie saak: “Alles wat jou hand vind om te doen, doen dit met jou mag …” Immers: “want dit is God wat in julle werk om te wil sowel as om te werk na sy welbehae” (Fil. 2:13).

Maar moet asseblief nie te gou moedeloos word oor jy dink jou roeping kom nie aan die gang nie. ‘n Baba móét nege maande in die baaarmoeder gevorm word; daarvorens is die kind nie ten volle lewensvatbaar nie. As ‘n ontwikkelende skoenlapper uit sy kokon gehaal word voordat hy self daardeur kan breek, sal hy nie kan vlieg nie, en sal die kleure in sy vlerke nie so mooi helder vertoon nie. Die worsteling binne om uit te kom, is absoluut noodsaaklik vir die kleurvolheid van sy roepingsvaart!

In daardie tyd van soek is dit belangrik dat jy nie net op jou roeping fokus nie. Roeping en skeppingsdoel is slegs ‘n neweproduk van intimiteit. Dit gaan altyd in die eerste plek oor jou “eerste liefde” (Open. 2:4). In jou navolging van Hom beklee Hy jou met Christus.

Natuurlik is daar baie frustrasies op die pad van die ontdekking van jou skeppingsdoel, soos wat Gene Edwards byvoorbeeld uitgespel het in sy boek: The Highest Life: Living with the Indwelling Lord (lees rondom pp. 92-93). En ons verbruikerskultuur help ons nie daarmee nie. Ons voel ons mis uit as ons wag op iets, selfs al weet ons daar is sekere prosesse wat net met tyd regtig tot volvoering kan kom. (Goeie whiskey leer ons dit.)

In die gejaagheid van die moderne era, met die ooraanbod wat ons skielik toegang gee tot ‘n onbeperktheid van inligting, voel ons ons is nie genoegsaam onderlê in die essensiële aspekte van ons roeping nie. Maar wat die essensiële is, weet ons nie presies nie, en ons voel ons het boonop nie die tyd om uit te vind nie. Ons word stelselmatig ingeweef in ‘n samelewing waar fragmentasie, oorversadiging en oorbelading die norm is. Daar is te veel keuses, te veel om te doen, te veel mense om mee verhouding te hê, te veel om te sien, om na te luister, te lees, om op te vang, om te koop, te veel, te veel: “Each choice sprouts with its own questions. Might we? Could we? Should we? Will we? Won’t we? What if we had? What if we hadn’t? The forest of questions leads deeper and deeper into the dark freedom, then to the ever darker anxiety of seemingly infinite possibility.” (Os Guiness, The Call, p. 166).

Dit bring mee dat ons lewe dikwels korrespondeer met die ou liedjie van Bette Midler: “I don’t know where I’m going, but I’m going.” En helaas is dit dikwels going nowhere slowly.

Jesus was nooit frantic aan die rondhardloop om alles te doen wat gedoen kon word nie – Hy het immers ‘n ontsagwekkende groot roeping gehad wat Hy moes vestig binne ‘n baie kort tydjie, maar Hy het presies geweet wat om te doen en wat om te los. Hy het net een man by die bad van Betesda genees, nie die honderde ander hoopvolles nie. Hy het hom nie gesteur aan die node, eise, behoeftes van die menigtes wat hom gevolg het nie; Hy het die agterdogtige Saggeus wat daar ver van ‘n veilige afstand af die kat uit die boom wou kyk, uit die wildevy geroep en gevra om by hom spesifiek te gaan eet. Hy het waarlik beslag gegee aan dit wat Hy later in Joh 17:4 gebid het: “Die werk wat U My gegee het om te doen, het Ek volbring.”

In die aanslag van ‘n samelewing wat ons in ‘n alvinnigwordende wentelbaan indwing om tred te hou met die diktering van als wat nuut en dwingend is, verloor ons dikwels die essensie van ‘n wandel met God, en derhalwe met ons roeping.

Maar met dit alles gesê – gelowiges wag dikwels vir die “regte” tyd dat iets moet gebeur, terwyl die Nuwe-Testamentiese beginsel totaal anders is. In ‘n gedeelte wat gedokumenteer word in Joh. 7 praat Jesus met sy volgelinge oor Sy openbaarmaking – hulle kan nie verstaan dat Hy terughou en wag nie: “Want niemand doen iets in die geheim en soek tegelykertyd om in iedereen se mond te wees nie. As U hierdie dinge doen, vertoon Uself aan die wêreld.” (vers 4).. Maar dan sê Jesus hierdie ontsaglik belangrike woorde vir hulle – “My tyd is nog nie daar nie. Maar julle tyd is altyd daar.” (vers 6). Die NASB hou dit soos volg voor: “My time is not yet here, but your time is always opportune.”

Your time is always opportune … Roeping is nie iets wat eendag uitspeel nie – dit gebeur vandag, nou! Al neem dit ‘n “geruime tyd” om tot volvoering te kom, is dit geweldig belangrik dat jy nie eers eendag “reg” is vir die uitvoering van jou roeping nie. Dit gaan net oor vandag! Selfs in die Ou Testament is dit deurgaans as die beginsel gestel byvoorbeeld in Deut. 27:10 (een van menigvuldige voorbeelde) – “Daarom moet jy na die stem van die HERE jou God luister en sy gebooie en sy insettinge volbring wat ek jou vandag beveel.” Die frekwente herhaling hiervan in die boek Hebreërs bring ‘n vooropstelling van die belangrikheid van hierdie ingesteldheid:

  • “Daarom, soos die Heilige Gees spreek: Vandag as julle sy stem hoor, verhard julle harte nie soos in die verbittering, in die dag van die versoeking in die woestyn nie, waar julle vaders My versoek, My beproef het en my werke veertig jaar lank gesien het.” (Heb. 3;7-9).
  • “Maar vermaan mekaar elke dag so lank as dit vandag genoem word, sodat niemand van julle deur die verleiding van die sonde verhard word nie. Want ons het deelgenote van Christus geword, as ons net die begin van ons vertroue tot die einde toe onwrikbaar vashou; omdat daar gesê word: Vandag as julle sy stem hoor, verhard julle harte nie soos in die verbittering nie.” (Heb. 3:13-15).
  • “Want Hy het êrens van die sewende dag so gespreek: En God het op die sewende dag van al sy werke gerus; en nou hier weer: Hulle sal in my rus nie ingaan nie. Terwyl dit dan so is dat sommige daar ingaan, en diegene aan wie die evangelie eers verkondig is, deur ongehoorsaamheid nie ingegaan het nie, bepaal Hy weer ‘n sekere dag, naamlik vandag, as Hy soveel later deur Dawid spreek, soos gesê is: Vandag as julle sy stem hoor, verhard julle harte nie.” (Heb. 4:4-7).

 

Die verwysing na Dawid in die vorige vers is natuurlik die profeet se versugting in Ps. 95:7 – “Ag, as julle vandag maar na sy stem wou luister!” Uit bogenoemde is dit duidelik – dit is die sewende dag, die dag van rus waarin AL DIE WERKE VOLBRING IS, maar dit is onteenseglik nét vandag. Jou roeping kan nét vandag volbring word. Meer in die volgende Mannas hieroor.

 

  • Sela: Probeer aan iemand die beginsel van “vandag” verduidelik.
  • Lees: Esra 4-6; Ps. 137; Hag. 1-2
  • Memoriseer: 1:6-7 (Is hierdie lering die rede dat dié Skrif in ons lewens die waarheid is?)
  • Delf dieper: Luister na Tom Gouws se cd-lering: Leer Leef in die Kairos-Tyd – the time of God’s manifest purpose.