“… your time is always opportune …”
(Joh. 7:6, NASB)
Uit die vorige Manna is dit onteenseglik duidelik – ons wag tevergeefs vir die volvoering van ‘n roeping. Roeping kry gestalte soos wat jy vandag gehoorsaam is aan die stem van die Here. In die Skrif word dit voorgehou as die simboliese “sewende dag”, die dag van die Sabbatsrus van God, die dag van rus waarin AL DIE WERKE VOLBRING IS, maar dit is onteenseglik nét vandag. Jou roeping kan nét vandag volbring word.
Hierdie waarheid sal nie net geweldige implikasies hê vir die ontvouing van jou roeping nie – dit het ook radikale implikasies vir ons eskatologiese siening, ons siening oor die eindtyd en daarna, wat die “duisendjarige vrederyk” genoem word.
Ons kan eers by die eskatologie uitkom as ons presies verstaan wat God bedoel met die “sabbatsrus vir die volk van God” (Heb. 4:9) VANDAG – daarsonder kan ons aan geen skeppingsdoel of roeping beslag gee nie.
Die teks wat as raamwerk gebruik moet word, is redelik uitvoerig, maar ter wille van konteks en argument is dit essensieel om dit in die geheel hier weer te gee. Lees dit asseblief aandagtig, en veral biddend – dit het die potensiaal om jou ganse lewe en uitkyk te verander: “Laat ons dan vrees dat, terwyl die belofte om in sy rus in te gaan nog standhou, dit nie miskien sal blyk dat iemand van julle agtergebly het nie. Want aan ons is die evangelie ook verkondig net soos aan hulle; maar die woord van die prediking het hulle nie gebaat nie, omdat dit by die hoorders nie met die geloof verenig was nie.Want ons wat geglo het, gaan die rus in, soos Hy gesê het: Daarom het Ek in my toorn gesweer, hulle sal in my rus nie ingaan nie—alhoewel sy werke van die grondlegging van die wêreld af volbring is. Want Hy het êrens van die sewende dag so gespreek: En God het op die sewende dag van al sy werke gerus; en nou hier weer: Hulle sal in my rus nie ingaan nie. Terwyl dit dan so is dat sommige daar ingaan, en diegene aan wie die evangelie eers verkondig is, deur ongehoorsaamheid nie ingegaan het nie, bepaal Hy weer ‘n sekere dag, naamlik vandag, as Hy soveel later deur Dawid spreek, soos gesê is: Vandag as julle sy stem hoor, verhard julle harte nie. Want as Josua aan hulle rus gegee het, sou Hy nie van ‘n ander dag daarná spreek nie. Daar bly dus ‘n sabbatsrus oor vir die volk van God; want wie in sy rus ingegaan het, rus ook self van sy werke soos God van syne. Laat ons ons dan beywer om in te gaan in dié rus, sodat niemand in dieselfde voorbeeld van ongehoorsaamheid mag val nie.” (Heb. 4:1-11).
Daar is oor die loop van die eeue veel geskryf oor wat vry algemeen die “duisendjarige vrederyk” genoem word, ‘n frase wat uit Open. 20:4-7 ontleen is. As ons die gedeelte in Heb. 4 hierbo in volle omvang kan begryp, bied dit vir my en jou ‘n totaal nuwe verstaan van ons roeping hier en nou. Dit volg in die Mannas wat kom.
- Sela: Wat verstaan jy van die “duisendjarige vrederyk”?
- Lees: 1-7
- Memoriseer: 2:5
- Delf dieper: Luister na Tom Gouws se cd-lering: Die Eindtye – The Days of Your Power