Dag 1056-1057

 

“Want as Josua aan hulle rus gegee het, sou Hy nie van

‘n ander dag daarná spreek nie.”

(Heb. 4:8, OAV)

 

In die Skrif word dit voorgehou as die “sewende dag”, die dag van die Sabbatsrus van God, die dag van rus waarin AL DIE WERKE VOLBRING IS, maar dit is onteenseglik nét vandag. Jou roeping kan nét vandag volbring word. In die vorige Mannas het ons gesê hierdie waarheid sal nie net geweldige implikasies hê vir die volvoering van jou roeping nie – dit het ook radikale implikasies vir ons eskatologiese siening, ons siening oor die eindtyd en daarna, wat die “duisendjarige vrederyk” genoem word.

Ons gaan vir ‘n wyle bietjie afdwaal van die hooftema onder bespreking om net hierdie belangrike onderwerp te hanteer.

Daar is met die loop van eeue in die Christelike tradisie groot gewag gemaak van die belangrikheid van die Sabbatdag. Die Sabbat is deel van die skeppingsporde van God. Ons lees in Gen. 2:2-3 die volgende: “En God het op die sewende dag sy werk voltooi wat Hy gemaak het, en op die sewende dag gerus van al sy werk wat Hy gemaak het. En God het die sewende dag geseën en dit geheilig, omdat Hy daarop gerus het van al sy werk wat God geskape het deur dit te maak.”

Op grond hiervan het God die onderhouding van die Sabbatsdag so hoog geag dat hy dit as ‘n spesifieke gebod in die Tien Gebooie uitgespel het: “Want in ses dae het die HERE die hemel en die aarde gemaak, die see en alles wat daarin is, en op die sewende dag het Hy gerus. Daarom het die HERE die sabbatdag geseën en dit geheilig.” (Eks. 20:11).

‘n Paar hoofstukke verder word die belangrikheid van die Sabbat en die onderhouding daarvan nog verder uitgehef deur dit voor te hou as ‘n teken, maar ook ‘n ewige verbond, en streng straf aan te kondig as Israel dit nie nakom nie: “Verder het die HERE met Moses gespreek en gesê: Spreek jy met die kinders van Israel en sê: Julle moet sekerlik my sabbatte onderhou, want dit is ‘n teken tussen My en julle in julle geslagte, sodat die mense kan weet dat Ek die HERE is wat julle heilig. Onderhou dan die sabbat, want dit moet vir julle heilig wees. Hy wat dit ontheilig, moet sekerlik gedood word; want elkeen wat daarop werk verrig, dié siel moet uitgeroei word onder sy volksgenote uit. Ses dae lank kan werk verrig word, maar op die sewende dag moet dit wees ‘n dag van volkome rus, heilig aan die HERE. Elkeen wat op die sabbatdag werk doen, moet sekerlik gedood word. En die kinders van Israel moet die sabbat onderhou deur die sabbat te vier in hulle geslagte as ‘n ewige verbond. Tussen My en die kinders van Israel is dit vir ewig ‘n teken; want in ses dae het die HERE die hemel en die aarde gemaak, maar op die sewende dag het Hy gerus en Hom verkwik.” (Eks. 31:12-17).

Dwarsdeur die Ou Testament word die belangrikheid van die sabbat uitgehef, om maar net enkele verdere verwysings aan te dui: Lev. 19:3 & 30; 23:3; 25:2; 26:2; Neh. 9:14; Jer. 17:24-27; Eseg. 20:12 & 20 en Eseg. 44:24.

Daar word ook baie positiewe gevolge geskets as iemand wél die Sabbat vier, waarvan Jes. 58:13-14 waarskynlik die mooiste verwoord is: “As jy jou voet terughou van die sabbat—om nie jou sake op my heilige dag te doen nie, en as jy die sabbat ‘n verlustiging noem en die heilige dag van die HERE hooghou; en as jy dit eer deur nie jou gewone gang te gaan nie, nie geleentheid vir jou sake soek of ydele taal spreek nie; dan sal jy jou verlustig in die HERE, en Ek sal jou laat ry oor die hoogtes van die aarde en jou laat geniet die erfdeel van jou vader Jakob; want die mond van die HERE het dit gespreek.” (Lees ook die uitsonderlike beloftes oor Sabbatsonderhouding vervat in byvoorbeeld Jes. 56:2-6.)

Dan gebeur ‘n baie interessante ding – ná die profeet Esegiël oor die Sabbat gepraat het, volg die klein profete, en net twee van hulle het elk bloot ‘n enkele verwysing na die Sabbat, en albei staan in die teken van beëindiging:

  • 2:11 – “En Ek maak ‘n einde aan al haar vreugde, haar feeste, haar nuwemane en haar sabbatte, ja, aan al haar feestye.”
  • Amos 8:5 – “Wanneer is die nuwemaan verby, sodat ons koring kan verkoop, en die sabbat, sodat ons die graanskuur kan oopsluit—om die efa te verklein en die sikkel te vergroot en bedrieglik te handel met ‘n valse weegskaal …”

Ons weet dat God besig is om sy ewige verbond met Israel te verbreek, nie as gevolg van Hom nie, maar omdat Israel so gekies het: “Want die aarde is ontheilig onder sy bewoners; want hulle het die wette oortree, die insetting geskend, die ewige verbond verbreek.” (Jes. 24:5). Hierdie opheffing van die verbond met Israel beteken noodwendig ook die opheffing van die priesterskap wat die verbond bedien het (waaroor die ganse profetiese boek Maleagi handel. sien byvoorbeeld Mal. 2:8 – “Maar júlle het van die weg afgewyk, julle het baie deur jul onderrig laat struikel, julle het die verbond met Levi verbreek, sê die HERE van die leërskare.”). Indien die priesterskap mee weggedoen word, ipso facto ook die wet: “Want met verandering van die priesterskap kom daar noodsaaklik ook verandering van wet …” (Heb 7:12).

Dit behoort nie as ‘n verrassing te kom nie. Die profeet Jeremia het it in geen onseker terme nie reeds uitgespel: “Kyk, daar kom dae, spreek die HERE, dat Ek met die huis van Israel en die huis van Juda ‘n nuwe verbond sal sluit; nie soos die verbond wat Ek met hulle vaders gesluit het op dié dag toe Ek hulle hand gegryp het om hulle uit Egipteland uit te lei nie—my verbond wat húlle verbreek het, alhoewel Ék gebieder oor hulle was, spreek die HERE. Maar dit is die verbond wat Ek ná dié dae met die huis van Israel sal sluit, spreek die HERE: Ek gee my wet in hulle binneste en skrywe dit op hulle hart; en Ek sal vir hulle ‘n God wees, en hulle sal vir My ‘n volk wees. En hulle sal nie meer elkeen sy naaste en elkeen sy broer leer nie en sê: Ken die HERE; want hulle sal My almal ken, klein en groot onder hulle, spreek die HERE; want Ek sal hulle ongeregtigheid vergewe en aan hulle sonde nie meer dink nie. So sê die HERE wat die son gee tot ‘n lig oordag, die ordeninge van die maan en van die sterre tot ‘n lig in die nag; wat die see in beroering bring, sodat sy golwe bruis, HERE van die leërskare is sy Naam: As hierdie verordeninge voor my aangesig sal wyk, spreek die HERE, dan sal die nageslag van Israel ook ophou om ‘n volk te wees voor my aangesig vir altyd.” (Jer 31:31-36).

Vroeër is uitvoerig geskryf oor die tydlyn van Daniël (Dag 345-356) en die belangrike rol wat Stefanus daarin gespeel het. In Hand. 6:13-14 word oor hom getuig: “Dié man hou nie op om lasterlike dinge te praat teen hierdie heilige plek en die wet nie. Want ons het hom hoor sê: Hierdie Jesus, die Nasaréner, sal hierdie plek afbreek en die sedes wat Moses aan ons oorgelewer het, verander.” Inderdaad hét Jesus die ganse ou verbond kom verander, so ook die Sabbat. Meer in die volgende Manna daaroor.

  • Sela: Uit bogenoemde – waarom vier Nuwe-Testamentiese gelowiges dan nog die Sabbat?
  • Lees: 8-14; Ester 1-5
  • Memoriseer: 13:1
  • Delf dieper: Luister na Tom Gouws se cd-lering: To Be Wrong in the Holy Things – die Gevaar van verkeerde vuur