“En ek het met die edeles van Juda getwis en vir hulle gesê: Watter verkeerde ding is dit wat julle doen,
dat julle die sabbatdag ontheilig?”
(Neh. 13:17, OAV)
Daar is met die loop van eeue in die Christelike tradisie groot klem gelê op die belangrikheid van die Sabbatdag. In die vorige Manna het ons ‘n oorsig gebied oor die Sabbat in historiese asook Ou-Testamentiese konteks. Interessant was die verandering rondom die bedeling van die Sabbat wat deur die profete Hosea en Amos aangekondig is, ook dat God eksplisiet die verandering van verbond en wet met Israel onteenseglik duidelik uitgespel het. Uit die evangelies sien ons ook baie spesifiek dat Jesus die ganse ou verbond kom verander het, en derhalwe is dit ook met die Sabbat die geval.
Wat baie gelowiges egter verwar, is hierdie opmerking oor Jesus en die Sabbat in Luk. 4:16 – “Toe kom Hy in Násaret waar Hy opgevoed was; en soos Hy gewoond was, gaan Hy op die sabbatdag in die sinagoge …” Baie Sabbatariërs, die Israelvisie, of mense van die nuwe Judaïsme, is vinnig om 1 Joh. 2:6 by te haal wat eksplisiet voorhou: “Hy wat sê dat hy in Hom bly, behoort self ook so te wandel soos Hy gewandel het.”
Dit word dikwels uit die oog verloor – Jesus het in sy lewe nog steeds in die ou verbond geleef. Die nuwe verbond het eers werklik ‘n aanvang geneem ná die dood van Jesus. Daarom kon Jesus ook onomwonde sê in Matt. 5:17-18 – “Moenie dink dat Ek gekom het om die wet of die profete te ontbind nie. Ek het nie gekom om te ontbind nie, maar om te vervul. Want voorwaar Ek sê vir julle, voordat die hemel en die aarde verbygaan, sal nie een jota of een titteltjie van die wet ooit verbygaan …”
Die woordjie wat hier die gedeelte in die regte perspektief stel, is die woordjie “vervul”, of dan in Grieks: “pleróō”. The Complete WordStudy Dictionary verduidelik die woord soos volg: “Figuratively, to fill, supply abundantly with something, impart richly, imbue with, followed by the acc., often also with an adjunct of that with which someone is filled or supplied … To fulfill, bring to a full end, accomplish, complete. In the pass., of time, to be fulfilled, completed, ended …”
In sigself sal die wet vir altyd staan vir hulle met wie die wet gesluit is, omdat dit die sluitsteen van ‘n verbond is. Eks. 31:16-17 spel dit uit op wie dit van toepassing is: “En die kinders van Israel moet die sabbat onderhou deur die sabbat te vier in hulle geslagte as ‘n ewige verbond. Tussen My en die kinders van Israel is dit vir ewig ‘n teken …” Derhalwe sal dit geldig bly vir die verbondsluiters totdat die kataklismiese gebeur – hemel en aarde tot niet gaan, by wyse van spreke. Maar Jesus sê Hy het gekom om die buitelyne van die koppie betekenis te gee, om dit te vul met die ware substansie, die eintlike betekenis. Die Griekse woord “pleróō” kan derhalwe die beste met die begrip van metonimia verduidelik word: “Metonimia is ‘n stylfiguur waarby ‘n attribuut of iets van die benoemde meegaan in plaas van, vervangend vir die benoemde gebruik word.” (HAT). ‘n Mooi voorbeeld hiervan is die metonimiese uitdrukking: “’n koppie koffie”. Die koppie is bloot die uiterlike aanduiding van die koppie, nie die substansie daarvan nie. Analoog sou ‘n mens kon sê dit wat die wet kan bied, was bloot die buitelyne of skaduwee van die ware inhoud wat die leegte daarvan tot volheid (“plḗrōma”) moes bring. Die holte van die wet is as ‘t ware ‘n leë substans, ‘n hol teëbeeld, van die volheid wat net in Christus Jesus gevul kan word. Sonder Jesus Christus is die wet net ‘n “klinkende simbaal” of “’n raasblik” (soos die Griekwavertaling van vers een van 1 Kor. 13 dit so mooi vertaal).
Die woordjie “skaduwee” is met voorbedagte rade hierbo gebruik. Op drie plekke in die Nuwe Testament word die skaduwee gebruik om te leer dat die ou verbond bloot die skaduwee was ( = die koppie, in ons analoë voorbeeld), en dat die nuwe verbond die realiteit is (= die koffie, in ons analoë voorbeeld):
- “Laat niemand julle dan oordeel in spys of in drank of met betrekking tot ‘n fees of nuwemaan of sabbat nie, wat ‘n skaduwee is van die toekomstige dinge; maar die liggaam behoort aan Christus.” (Kol. 2:16-17). Let op – hier word die sabbat eksplisiet benoem as ‘n skaduwee!
- “priesters … wat volgens die wet die gawes offer, hulle wat ‘n afbeeldsel en skaduwee van die hemelse dinge bedien” (Heb. 8:4b-5a)
- “Want die wet, wat ‘n skaduwee het van die toekomstige weldade, nie die beeld self van die dinge nie, kan nooit deur dieselfde offers wat jaar na jaar gedurig gebring word, die wat toetree, tot volmaaktheid lei nie.” (Heb.10:1). Hoe netjies word dit hier uitgespel – die wet is ‘n skaduwee, nie die substansie self nie.
‘n Mens verstaan Paulus se moedelose versugting in Gal. 4:9-10: “hoe keer julle weer terug tot die swakke en armoedige eerste beginsels wat julle weer van voor af aan wil dien? Julle neem dae en en maande en tye en jare waar.” Nuweverbondse gelowiges wat enige aspek van die wet wil onderhou, hou vas aan die skaduwee en verloor die substans, die volheid van God.
Jesus het onder die ou verbond sondeloos geleef, spel Heb. 4:15 dit uit. In 1 Joh. 3:5 word dit reguit gesê: “geen sonde is in Hom nie”. Maar dit is in die ware betekenis van die woord “sonde”, naamlik om nié jou merk of skeppingsdoel of roeping te mis nie (“hamartía” – “to miss the mark” in Grieks – Strong). Kelly Varner het in sy boek: Freedom From Twelve Deadly Sins – Secrets of How to Press into Your Destiny hierdie raak beskrywing van die begrip ‘sonde’ gegee: “Sin is a mistaken identity.” Jesus sê immers onomwonde aan die einde van sy lewe: “Die werk wat U My gegee het om te doen, het Ek volbring.” (Joh. 17:4). Die woordjie “volbring” het noue verwantskap met die woordjie “vervul” hierbo, veral in Thayer se kensketsing daarvan: “to carry through completely, to accomplish, finish, bring to an end … to complete (perfect) … add what is yet wanting in order to render a thing full”.
Dit maak dit dus vir ons Nuwe-Testamentiese gelowiges moontlik om saam met 1 Joh. 3:9 te sê: “Elkeen wat uit God gebore is, doen geen sonde nie …” Sela asseblief!
Maar, terwyl dit vir Jesus en vir wedergeborenes wat in hul roeping loop onteenseglik waar is dat ons sondeloos kan wees, is dit ook waar dat Jesus wat sondeloos was, wel onder die wet was. Gal. 4:4-5 stel dit onverbeterlik: “Maar toe die volheid van die tyd gekom het, het God sy Seun uitgestuur, gebore uit ‘n vrou, gebore onder die wet, om die wat onder die wet was, los te koop …”
En onder die wet, al was Jesus sondeloos, het Hy wel oortredinge van die wet gehad! Sy oortredinge was baie spesifiek in die verbreking van die Sabbatswet gewees! Kom ons kyk na die belangrikste opgetekende gedeeltes uit die evangelies oor Jesus en die Sabbat.
In Matt. 12:1-14 word uitvoerig hieroor verslag gedoen: “In daardie tyd het Jesus op die sabbat deur die gesaaides geloop, en sy dissipels het honger geword en are begin pluk en eet. Maar toe die Fariseërs dit sien, sê hulle vir Hom: Kyk, u dissipels doen wat nie geoorloof is om op die sabbat te doen nie. Maar Hy sê vir hulle: Het julle nie gelees wat Dawid gedoen het nie—toe hy en die wat saam met hom was, honger gehad het— hoe hy in die huis van God gegaan en die toonbrode geëet het wat vir hom en die wat saam met hom was, nie geoorloof was om te eet nie, maar net vir die priesters alleen? Of het julle nie in die wet gelees dat die priesters op die sabbat in die tempel die sabbat ontheilig en onskuldig is nie? En Ek sê vir julle: Een wat groter is as die tempel, is hier. Maar as julle geweet het wat dit beteken: Ek wil barmhartigheid hê en nie offerande nie, sou julle die onskuldiges nie veroordeel het nie; want die Seun van die mens is Here óók van die sabbat. En Hy het daarvandaan weggegaan en in hulle sinagoge gekom. En daar was ‘n man met ‘n verdorde hand, en hulle het Hom gevra en gesê: Is dit geoorloof om op die sabbat gesond te maak? —sodat hulle Hom sou kan aanklae. Maar Hy sê vir hulle: Watter mens sal daar onder julle wees wat een skaap het, en as dit op die sabbat in ‘n sloot val, dit nie sal gryp en uithaal nie? Hoeveel meer is ‘n mens dan nie werd as ‘n skaap nie! So is dit dan geoorloof om op die sabbat goed te doen. Toe sê Hy vir die man: Steek jou hand uit! En hy het dit uitgesteek, en dit is herstel, gesond soos die ander een. Daarop het die Fariseërs uitgegaan en saam raad gehou teen Hom, sodat hulle Hom sou kan ombring.”
As ‘n mens hierdie hoogspannende geleentheid in perspekief het, is dit so duidelik as daglig hoedat Jesus die skaduwee van die wet kom volledig maak het – by wyse van spreke het Hy ons geleer ons drink nie die koppie nie, maar die koffie:
- Jesus doen niks om sy dissipels (ook wetsgehoorsame Jode) te keer dat hulle nie die Sabbat sogenaamd ontheilig nie – hierdie optrede van die dissipels was duidelik in stryd met byvoorbeeld Eks. 16:29. Dat die kerkvolk van sy tyd grootliks ontstel is oor die “non-observance” is duidelik – uit die geskiedenis is Sabbatsontheiliging met die dood gestraf (sien byvoorbeeld die opgetekende verhaal in Num. 15:32-36).
- In stede daarvan om ten minste sy dissipels aan te spreek, te vermaan, te stop, wat ook al, verdedig Jesus hulle eerder. En Hy doen dit met ‘n dodelike voorbeeld, dié van die Jode se aartsvader Dawid wat presies iets soortgelyk as die Jode gedoen het, al was dit kennelik ook Sabbatsontheiliging (opgeteken in 1 Sam. 21:3-6).
- Daarbenewens bied Hy nog ‘n verdere argument aan, naamlik dat die priesters op die sabbat in die tempel die sabbat ontheilig het én onskuldig is (opgeteken in Num. 28:9-10). In Joh. 7:22-23 (NJB) word hierdie argument duideliker weergegee: “Moses ordered you to practise circumcision — not that it began with him, it goes back to the patriarchs — and you circumcise on the Sabbath. Now if someone can be circumcised on the Sabbath so that the Law of Moses is not broken, why are you angry with me for making someone completely healthy on a Sabbath?” Jy kan dus, in Jesus se woorde: “die sabbat ontheilig en onskuldig” wees!
- In Jesus se dodelik-logiese wetsgebaseerde argument gee Hy sy uitlophou rondom die wet: “En Ek sê vir julle: Een wat groter is as die tempel, is hier.” Wat het die tempel met Sabbatsonderhouding te doen, sou ‘n mens kon vra? Jesus hou die tempel voor as die somtotaal van die Joodse wettiese geloofspraktyke. Later sou Hy oor die tempel sê: “Voorwaar Ek sê vir julle, daar sal hier sekerlik nie een klip op die ander gelaat word, wat nie afgebreek sal word nie.” (Mat. 24:2). Op die webblad Judaism 101 word hierdie uitspraak vandag deur die Jode erken: “Many of these 613 mitzvot cannot be observed at this time for various reasons. For example, a large portion of the laws relate to sacrifices and offerings, which can only be made in the Temple, and which does not exist today.”
- Dan wys Jesus uit dat dwarsdeur die ou verbond God eksplisiet nie die klem op rites, rituele en wette geplaas het nie, maar bloot op gehoorsaamheid (sien byvoorbeeld 1 Sam. 15:22). Hy haal aan uit wat Jes. 1:11-17, Hos. 6:6 en Miga 6:6-7, byvoorbeeld, onomwonde gestel het. Die slotsom daarvan is eenvoudig: “He hath told thee, O son of earth, what is good,—what then is, Yahweh, seeking of thee, but, to do justice, to delight in lovingkindness, and humbly to walk with thy God?” (Miga 6:8, Rotherham). Die Message vertaal die eerste deel van die vers soos volg: “But he’s already made it plain how to live, what to do, what GOD is looking for in men and women.”
- Sela: Verstaan jy die vervulling van die wet?
- Lees: Ester 6-10; Neh. 1-5
- Memoriseer: 1:11 as gebed
- Delf dieper: Luister na Tom Gouws se cd-lering: Uit Sion sal die wet uitgaan.