Dag 1061-1063

 

“die Seun van die mens is Here óók van die sabbat.”

(Matt. 12:18, OAV)

 

Ons is tans besig met Jesus en sy bedeling en hantering van die sabbat. In die vorige Manna is verduidelik dat Jesus sondeloos is, maar dat Hy wel oortredinge van die wet gehad het. Sy oortredinge het baie spesifiek in die verbreking van die sabbatswet gewees! Ons het spesifiek na die opgetekende gedeeltes hieroor in Matt. 12:1-14 gekyk en tot ‘n paar verrassende insigte gekom.

Uit hierdie gebeurtenis is Jesus se uitspraak in vers 18 van groot belang: “die Seun van die mens is Here óók van die sabbat”. Die woordjie “Here” in Grieks is die woordjie “kurios”, wat beteken volgens Thayer: “he to whom a person or thing belongs, about which he has power of deciding; master, lord; the possessor and disposer of a thing; the owner; one who has control of the person, the master; in the state: the sovereign, prince, chief, the Roman emperor; is a title of honour expressive of respect and reverence, with which servants greet their master;  this title is given to: God, the Messiah”. Hý, wat die reg het om daaroor te besluit, beveel oor die sabbat aan dat dit belangriker is om die hart van die evangelie te leef as om meganies wette (soos die Tien Gebooie in Eks. 20:8 vereis) na te kom. Hierdie uitspraak van Jesus behoort die hele sabbatsonderhoudingbewussyn wat deesdae weer so sterk posgevat het, in die kiem te smoor – Hy is die Here van die sabbat, derhalwe: “Luister na Hom” (Mat. 17:5)! Die vermaning van Jesus in Joh 5:39-40 is ook duidelik van toepassing op die Ou-Testsamentiese wet van die sabbat: “Julle ondersoek die Skrifte, omdat julle meen dat julle daarin die ewige lewe het; en dit is dié wat van My getuig. En julle wil nie na My kom om die lewe te hê nie.”

Jesus as Here van die sabbat dui daarop dat sy outoriteit groter is as die wet, soos wat die mense in Mark. 1:21-22 raakgesien het in die wyse waarop hy die wettiese konsepte verduidelik het: “En hulle het in Kapérnaüm gekom, en dadelik op die sabbat het Hy in die sinagoge ingegaan en begin leer. En hulle was verslae oor sy leer, want Hy het hulle geleer soos een wat gesag het en nie soos die skrifgeleerdes nie.” Die CEV noem die skrifgeleerdes tereg: “the teachers of the Law of Moses”.

In die weergawe van Markus oor hierdie gebeurtenis word ‘n gegewe opgeteken wat nie elders opgeneem is nie. In Mark. 2:26-27 spel Jesus dit uit: “En Hy sê vir hulle: Die sabbat is gemaak vir die mens, nie die mens vir die sabbat nie. Daarom is die Seun van die mens Here ook van die sabbat.”

In Mark. 3, waar Jesus die man met die verdorde hand op die Sabbat genees, sien ons iets van sy irritasie met die godsdienstige mense wat nie verstaan dat wette ondergeskik is aan mense nie – “En nadat Hy hulle rondom met toorn aangekyk het en tegelykertyd bedroef was oor die hardheid van hulle hart, sê Hy vir die man: Steek jou hand uit! En hy het dit uitgesteek, en sy hand is herstel, gesond soos die ander een.”

Anders as Mattheus en Markus, het die geneesheer Lukas twee meer verhale oor genesings op die sabbat en is dit vir ons ‘n baie duidelike heenwysing oor Jesus se adamante nie-wettiese hantering van die sabbat. In Luk. 13:10-17 word die eerste van die twee voorgehou: “En Hy was besig om op die sabbat in een van die sinagoges te leer. En daar was ‘n vrou wat ‘n gees van krankheid agttien jaar lank gehad het, en sy was inmekaargetrek en glad nie in staat om regop te kom nie. En toe Jesus haar sien, roep Hy haar en sê: Vrou, jy is van jou krankheid verlos. En Hy het haar die hande opgelê, en onmiddellik het sy regop gestaan en God verheerlik. Maar die owerste van die sinagoge, wat verontwaardig was dat Jesus op die sabbat genees het, antwoord en sê vir die skare: Daar is ses dae waarop ‘n mens behoort te werk; kom dan op dié dae en laat julle genees en nie op die sabbatdag nie. Toe antwoord die Here hom en sê: Jou geveinsde, maak elkeen van julle nie op die sabbat sy os of esel van die krip los en lei hom weg om hom te laat drink nie? Maar hierdie vrou wat ‘n dogter van Abraham is, wat die Satan—dink daaraan! —agttien jaar lank gebind het, moes sy nie van hierdie band op die sabbatdag verlos word nie? En toe Hy dit sê, het al sy teëstanders beskaamd geword; en die hele skare was bly oor al die heerlike dinge wat deur Hom gebeur het.”

Hierdie veelseggende gebeurtenis bring die Jode (deur die tipologiese eksemplaar van “’n dogter van Abraham”) duidelik in verband met die sabbat, en Jesus spel uit dat dit baie belangrik is dat haar bevryding en genesing nou juis op die sabbat moes plaasvind – “moes sy nie van hierdie band op die sabbatdag verlos word nie?” Die JMNT-vertaling stel dit so: “ought she not to be loosed from this bond on the sabbath day?”

Rabbi Irving Greenberg skryf in sy boek The Jewish Way: “The Shabbat is the foretaste of the messianic redemption … The Sabbath is in reality a sanctuary in time – and a remarkably powerful reality in itself, picturing and foreshadowing the Messianic age. It is a tiny microcosm of the Kingdom of Yahweh. It is a foretaste – of Yahweh’s Kingdom, and what it will be like. Therefore, every time we observe it, and enter into its rest, we in a sense enter into the Kingdom of Yahweh God.”

Die “duisend jaar” waaroor die gedeelte in die boek Openbaring gaan (Open. 2;2-7) is duidelik die Messiaanse era. Onthou – Messias is die Hebreeuse verklaring van die Griekse woordjie vir “Christus”. Ons kan dus absoluut praat van die era van Christus as ons dit het oor die duisendjarige vrederyk. En as dit nie futurologies (met ander woorde: in die toekoms) is nie, nié ‘n tydvak eendag nie, maar ‘n bestaanstoestand vandag, wat verander dit aan ons bestaanswerklikheid vandag?  Rabbi Greenstein is absoluut reg – “The Shabbat is the foretaste of the messianic redemption …” wat in Christus is.

Vir baie lank het ons die ontvouing van die Christelike tydlyn as lineêr gesien, maar in Dag 393 het ons die Hebreeuse betekenis daarvan meer korrek uitgespel: Ons verstaan dikwels nie die werklikheidsbeskouing van die Midde-Oosterse kultuur waarin die Jode gefunksioneer het nie. Een baie belangrike aspek van die Hebreeuse manier van dink oor tyd, is dat dit nie linieêr is nie, maar sirkulêr. Sirkulêr beteken nie om heeltyd in sirkels rond te loop nie, maar eerder beweging in terme van siklusse. Die begrip “jaar” in Hebreeus beteken letterlik herhaling of repetisie. Die verordening  van God rondom die gedenking van die feeste dui dan veral daarop dat ons moet besef dat ons weer die geleentheid gegee word om aan die begin van die herhaling of siklus te kan wees, “perfecting holiness in the fear of God” (2 Kor. 7:1)! Daarom is Ps 23 se bekende vers: “Hy lei my in die spore van geregtigheid” in die oorspronklike Hebreeus eintlik: “He leads me in the cycles of righteousness”, ter wille van sy Naam! Die feeste (insluitende die sirkelgang van die jaarwisselinge) is almal daar om met elke siklus die Messias, Christus die Gesalfde, die Weg (Joh. 14:6) dieper te bewandel; soos ons Hom al meer en meer herken, “word ons van gedaante verander na dieselfde beeld, van heerlikheid tot heerlikheid” (2 Kor 3:18)!

Die simboliese betekenis van die getal 1000 is hier van groot belang in die uiteindelike verstaan dat “duisend jaar” nie ‘n afgeslote tydperk is nie: “The completeness of what is in view; Divine completeness and Father’s glory.”  (www.biblecalculator.com). Later kom ek terug hierop.

As ons dus praat van die era van Christus wat gestalte kry, is die sabbatsdag (maar ook die sabbatsjaar) die herhaalde reminder van “the messianic redemption”, dit wat Jesus geproklameer het in Luk 4:18-19:”Die Gees van die Here is op My, omdat Hy My gesalf het om die evangelie aan die armes te bring. Hy het My gestuur om die wat verbryseld van hart is, te genees; om aan gevangenes vrylating te verkondig en aan blindes herstel van gesig; om die wat gebroke is, in vryheid weg te stuur; om die aangename jaar van die Here aan te kondig.”

Die sabbat is dus ‘n heenwysing na die tyd wat in Christus vervul word om – alles hierbo in ag genome – alle bande van ongeregtigheid te verbreek, om alle gevangenisskap op te hef, om tot shabat, rus, te kom. In hierdie lig verstaan mens eers Heb. 4:8-11: “Want as Josua aan hulle rus gegee het, sou Hy nie van ‘n ander dag daarná spreek nie. Daar bly dus ‘n sabbatsrus oor vir die volk van God; want wie in sy rus ingegaan het, rus ook self van sy werke soos God van syne. Laat ons ons dan beywer om in te gaan in dié rus, sodat niemand in dieselfde voorbeeld van ongehoorsaamheid mag val nie.”

Wanneer gebeur hierdie rus? Die twee verse waarmee die perikoop hierbo aangehaal voorafgegaan word, is van die allergrootste belang, want dit is die voorwaarde daarvoor om in die rus van God te beweeg: “Terwyl dit dan so is dat sommige daar ingaan, en diegene aan wie die evangelie eers verkondig is, deur ongehoorsaamheid nie ingegaan het nie, bepaal Hy weer ‘n sekere dag, naamlik vandag, as Hy soveel later deur Dawid spreek, soos gesê is: Vandag as julle sy stem hoor, verhard julle harte nie.” (Heb. 4:6-7).

Wanneer beweeg ons dus in die rus van God in, in die sabbatsrus? Vandag as jy gehoorsaam is aan dit wat Hy sê. Die duisendjarige vrederyk lê nie ver in die verskiet in die toekoms nie, nee – dit kan, moet, vandag gebeur! Die voorwaarde is net gehoorsaamheid aan sy stem, vandag!

Ons hoef nie te wag op die Messiaanse koninkryk wat ééndag kom nie; die koninkryk van God is binne-in ons, en in ons intieme verhouding met Hom stap ons vandag in die volheid van daardie koninkryk. Binne hierdie salwingsdag is alle werke reeds voltooi – Efes. 2:10 (ALTNT) stel dit raak: “good works, which God prepared beforehand so that we should walk about [fig., conduct ourselves] in them”. Hierdie “eerste werke” (Open. 2:5) is moeiteloos, stresvry, sonder inspanning – dit is die uitvloeisel van die salwing uit die Gesalfde, en dit verbreek alle jukke en gevangenisskap.

Jesus vra, terwyl Hy die vrou op die sabbat genees: “Maar hierdie vrou wat ‘n dogter van Abraham is, wat die Satan—dink daaraan! —agttien jaar lank gebind het, moes sy nie van hierdie band op die sabbatdag verlos word nie?” Agttien is die getal van “bondage” (Dag 617), en Jesus vra duidelik “dink daaraan!” In Engels is dit die uitdrukking “lo!”, wat vertaal kan word met die uitdrukking “hineini”, wat beteken: “Here I am, willing to fulfill my destiny!” Waarvoor het Jesus aarde toe gekom, sou mens dan tereg kan vra? 1 Joh. 3:8 stel dit onomwonde: “Vir hierdie doel het die Seun van God verskyn, om die werke van die duiwel te verbreek.” Dis ook waar vir elke van ons. Lees die gedeelte in Joh. 12:30-31 en besef die implikasies daarvan vir hierdie lering: “Hierdie stem het nie om My ontwil gekom nie, maar om julle ontwil. Nou is dit die oordeel van hierdie wêreld, nou sal die owerste van hierdie wêreld buitentoe gedryf word.

Die salwing van die Christus breek alle “werke” van die duiwel deur hül “eerste werke”, en wanneer dit gebeur, is dit die sabbat, of die duisendjarige era waar “Christus alles en in almal” (Kol. 3:11) is. Besef hoe ver verwyderd hierdie siening van die benouende siening van die sabbat as wettiese verordening is. Inderdaad: “Daarom is die Seun van die mens Heerser óók van die sabbat.”

  • Sela: Verduidelik aan iemand wat die betekenis van die sabbat is.
  • Lees: 6-13; Ps. 126
  • Memoriseer: Die hele Ps. 126, ook as danklied vir hierdie bevryding!
  • Delf dieper: Luister na Briers Uys se cd-lering: Die val van die Koning van Babilon