“sodat julle verwonderd kan wees …”
(Joh. 5:20, OAV)
In hierdie Manna kyk ons na Joh. 5:1-20 se verhaal en wat dit ons verder oor Jesus en die sabbat leer – dit sal grootliks bevestig wat ons tot dusver daaroor gesê het, maar verruim die heerlikhede van die nuwe bedeling waar elke dag ‘n sabbatsdag is (Heb. 4:9)! Dit is ‘n lang stuk om aan te haal, maar die konteks is geweldig belangrik vir dit waarby ons wil uitkom:
“1. Hierna was daar ‘n fees van die Jode, en Jesus het opgegaan na Jerusalem. 2. En daar is in Jerusalem by die Skaapspoort ‘n bad met vyf pilaargange wat in Hebreeus Betésda genoem word. 3. Daarin het ‘n groot menigte siekes gelê, blindes en kreupeles en lammes, wat op die roering van die water gewag het. 4. Want ‘n engel het op bepaalde tye in die bad neergedaal en die water geroer. Die een wat dan die eerste ingaan ná die roering van die water, het gesond geword, aan watter siekte hy ook al gely het. 5. En ‘n sekere man was daar, wat agt en dertig jaar aan sy siekte gely het. 6. Toe Jesus hom sien lê, terwyl Hy geweet het dat hy al ‘n lang tyd siek was, sê Hy vir hom: Wil jy gesond word? 7. Die sieke antwoord Hom: Here, ek het niemand om my in die bad te sit as die water geroer word nie; en onderwyl ek kom, gaan ‘n ander een voor my in. 8. Jesus sê vir hom: Staan op, neem jou bed op en loop. 9. En dadelik het die man gesond geword en sy bed opgeneem en geloop. En daardie dag was dit sabbat. 10. Die Jode sê toe vir hom wat genees was: Dit is sabbat; dit is jou nie geoorloof om jou bed te dra nie. 11. Hy antwoord hulle: Hy wat my gesond gemaak het, Hy het vir my gesê: Neem jou bed op en loop. 12. Toe vra hulle hom: Wie is die man wat vir jou gesê het: Neem jou bed op en loop? 13. Maar hy wat gesond geword het, het nie geweet wie dit was nie; want Jesus het Hom verwyder, omdat daar ‘n skare op die plek was. 14. Daarna het Jesus hom in die tempel gekry en vir hom gesê: Kyk, jy het gesond geword; moenie meer sondig nie, sodat daar nie iets ergers met jou gebeur nie. 15. Die man het gegaan en aan die Jode vertel dat dit Jesus was wat hom gesond gemaak het. 16. En hieroor het die Jode Jesus vervolg en probeer om Hom dood te maak, omdat Hy dit op die sabbat gedoen het. 17. En Jesus het hulle geantwoord: My Vader werk tot nou toe, en Ek werk ook. 18. Hieroor het die Jode toe nog meer probeer om Hom dood te maak, omdat Hy nie alleen die sabbat gebreek het nie, maar ook God sy eie Vader genoem het en Hom met God gelykgestel het. 19. Jesus het toe geantwoord en vir hulle gesê: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, die Seun kan niks uit Homself doen tensy Hy die Vader dit sien doen nie. Want alles wat Hy doen, dit doen die Seun ook net so. 20. Want die Vader het die Seun lief en toon Hom alles wat Hy self doen. En groter werke as hierdie sal Hy Hom toon, sodat julle verwonderd kan wees.”
Ons vergeet partykeer dat die vier evangelies eintlik deel is van die ou verbond – die nuwe verbond het eers teoreties ‘n aanvang geneem met Jesus se aankondiging daarvan met die instel van die nagmaal en is as ‘t ware eers in volswang moontlik ná Jesus se opstanding uit die dood. Rom. 15:4 se riglyn ten opsigte van die tipologiese lees van die ou-verbondsverhale is eweneens van toepassing op wat in die evangelies gebeur: “Want alles wat tevore geskrywe is, is tot ons lering tevore geskrywe, sodat ons deur lydsaamheid en bemoediging van die Skrifte hoop kan hê.”
Dit is nie absoluut seker watter van die feeste dit is waarna vers 1 verwys nie, maar ek stem saam met Jon Courson in sy Application Commentary – NT dat dit bes moontlik die viering van Pinkster was, wat ten doel gehad het “the celebration of the giving of the law”. Omdat die tempel in Jerusalem was, het die Jode, ook Jesus, volgens die wet soontoe gegaan vir die viering van die fees: “No matter from which direction or elevation one traveled, it was always ‘up’ to Jerusalem because Jerusalem was where the temple was, where worship took place, where the Word was taught.” Sien dus raak dat die hele episode gegrondves is in die tradisie van die wet, en dat Jesus spesifiek hierdie tydsomstandighede gekies het om te demonstreer hoe die wet desnieteenstaande sy status “kragteloos” geword het (Rom. 8:3).
Paulus sê in die versie hierbo die wet is kragteloos “deur die vlees” wat aan “die wet van die sonde en die dood” (Rom. 8:2) onderwerp móét word. Hiervan word die verlamde man ‘n duidelike simbool. John Darby’s Synopsis bied ‘n uitstekende tipologiese verklaring hiervan: “The poor man who had an infirmity for thirty-eight years was absolutely hindered, by the nature of his disease, from profiting by means that required strength to use them. This is the character of sin, on the one hand, and of law on the other. Some remains of blessing still existed among the Jews. Angels, ministers of that dispensation, still wrought among the people. Jehovah did not leave Himself without testimony. But strength was needed to profit by this instance of their ministry. That which the law could not do, being weak through the flesh, God has done through Jesus. The impotent man had desire, but not strength; to will was present with him, but no power to perform.”
Sien dit groot asseblief tog raak – die wet is totaal onmagtig om verandering te kan bring, dáárom moes Jesus kom! Hoor wat spel Gal. 4:3-5, 9-10 uit: “So was ons ook, toe ons kinders was, in diensbaarheid onder die eerste beginsels van die wêreld. Maar toe die volheid van die tyd gekom het, het God sy Seun uitgestuur, gebore uit ‘n vrou, gebore onder die wet, om die wat onder die wet was, los te koop … (M)aar nou dat julle God ken …, hoe keer julle weer terug tot die swakke en armoedige eerste beginsels wat julle weer van voor af aan wil dien? Julle neem dae en en maande en tye en jare waar.”
Een van die vroegste verwysings na Betésda is die opdrag van Nehemia in die herstel van die stad Jerusalem: “En Éljasib, die hoëpriester, het hom klaargemaak met sy broers, die priesters, en hulle het die Skaapspoort gebou; hulle het dit geheilig en sy deure ingesit …” (Neh. 3:1). Hierin lê ‘n groot waarheid – tipologies is hierdie poort Jesus – Joh. 10:7 – “Jesus het toe weer vir hulle gesê: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, Ek is die deur van die skape.” Hy dui ook die uitnemende weg aan na die derde dimensie (daarom moes ‘n hoëpriester dit herstel, dié een wat alleenlik in die Allerheiligste kon ingaan). Die “skape van sy weide” (Ps. 79:13) = gelowiges (Ps. 23: 1-2;80:1; Jer. 23:3-4; Eseg. 34:11-12, 23-24; Miga 5:4; Joh. 10:11, 14, 27-30) word deur “die groot Herder van die skape, naamlik onse Here Jesus Christus” (Heb. 13:20) los van die harde ongenaakbaarheid van die wet “aan Sy bors gedra en saggies gelei’ (Jes. 40:11) deur die Gees wat saggies uit hulle vloei! Onthou wat Jesus in Joh. 7:37-39 sê: “En op die laaste dag, die groot dag van die fees, het Jesus gestaan en uitgeroep en gesê: As iemand dors het, laat hom na My toe kom en drink! Hy wat in My glo, soos die Skrif sê: strome van lewende water sal uit sy binneste vloei. En dit het Hy gesê van die Gees wat dié sou ontvang wat in Hom glo.”
Hierdie fees is die een ná die Pinksterfees (wat ons hierbo by stilgestaan het, wat in die Ou Testament die wet gevier het, maar onteenseglik heengewys het na die volheid van die Gees wat sou kom met Pinkster en die uitstorting van die Heilige Gees in Hand. 2). Dis die derdedimensiefees, die Fees van Tabernakels, waar Jesus hierdie waterskeidende (!) uitspraak gemaak het.
Iets wat in die Believer’s Bible Commentary opgeneem is wat geweldig lig werp op die belangrikheid hiervan: “Though not mentioned in the OT, the Jews had a ceremony of carrying water from the Pool of Siloam and pouring it into a silver basin by the altar of burnt offering for each of the first seven days of the Feast of Tabernacles. On the eighth day, this was not done, which made Christ’s offer of the water of eternal life even more startling. The Jewish people had gone through this religious observance, and yet their hearts were not satisfied because they had not truly understood the deep meaning of the feast. Just before they departed for their homes, on the last day, that great day of the feast Jesus stood and cried out to them. He invited them to come to Him for spiritual satisfaction.”
Let op die vooropstelling hier van die poel van Siloam, oftewel die bad van Bétesda. Dis hieroor wat Jes. 22:11 geprofeteer het: “En julle maak ‘n dam tussen die twee mure vir die water van die Ou Dam; maar julle kyk nie na Hom wat dit gedoen het nie, en Hom wat dit lankal beskik het, sien julle nie.” En van die waters van Silóa wat daarin vloei: “Omdat hierdie volk die waters van Silóa verag wat saggies vloei …” (Jes. 8:6).
Moet nie die semantiese parallelismes in die Skrifte mis nie: “waters wat saggies vloei”; skakel direk met “aan Sy bors gedra en saggies gelei”. Hoe mooi wys dit nie heen na die kensketsing van die Gesalfde Herder in Jes. 49:10 nie: “Hulle sal geen honger en geen dors hê nie, en die woestyngloed en die son sal hulle nie steek nie; want hulle Ontfermer sal hulle lei en hulle saggies aanbring na die fonteine van water.” Amen!
Die wet is die woorde van God op die harde kliptafels van godsdienstige hardhorendheid en wettiesheid. Desnieteenstaande was hierdie woorde van God heerlik, maar nie naastenby so vol “heerlikheid soos van die Eniggeborene wat van die Vader kom—vol van genade en waarheid” nie” (Joh. 1:17). In 2 Kor. 3:6-11 word die harde wet gestel teenoor die sagte “promptings of the Spirit”. Rom. 7:6 (Ampl.) stel dit só: “But now we are discharged from the Law and have terminated all intercourse with it, having died to what once restrained and held us captive. So now we serve not under [obedience to] the old code of written regulations, but [under obedience to the promptings] of the Spirit in newness [of life].”
Die heerlikheid van die ou verbond teenoor die ontsagwekkende heerlikheid van die nuwe verbond word so mooi uitgespel deur 2 Kor. 3:6-11: “wat ons ook bekwaam gemaak het as dienaars van ‘n nuwe testament, nie van die letter nie, maar van die gees; want die letter maak dood, maar die gees maak lewend. En as die bediening van die dood, met letters op klippe gegraveer, in heerlikheid was, sodat die kinders van Israel nie die oë kon vestig op die aangesig van Moses nie vanweë die heerlikheid van sy aangesig, wat tog moes vergaan, hoeveel te meer sal die bediening van die Gees dan nie in heerlikheid wees nie? Want as die bediening wat veroordeel, heerlikheid was, veel meer is die bediening wat regverdig maak, oorvloedig in heerlikheid. Want wat verheerlik was, is ook in hierdie geval nie verheerlik nie, vanweë die alles oortreffende heerlikheid. Want as wat moes vergaan, met heerlikheid was, veel meer is wat moet bly, in heerlikheid.”
In hierdie lig gesien, is Gal, 5:4 se skrikwekkende teenstelling van wet en genade baie meer verstaanbaar – “Julle wat geregverdig wil wees deur die wet, is losgemaak van Christus; julle het van die genade verval.” Uiteraard geld dit vir alle wettiese aanklewing – ook vir hulle wat wetties ten alle koste wil vashou aan sabbatsonderhouding. Ons mag nooit die waters van Silóa verag wat saggies vloei nie.
Die hoëpriester wat geroep was om die Skaapspoort te herstel se naam was Éljasib, en in Hebreeus beteken dit ‘God sal herstel’. Wat wil God herstel ter wille van die skape? Wat profeteer die boekrol van Jesaja oor Bethésda, en oor die waters van Síloa? Hoe lank was Israel in die woestyn nadat hulle die wet ontvang het? Presies agt-en-dertig jaar. Hoe oud was die man wat gewag het vir die Messias se geopende fontein van genesing? En 38 in Hebreeuse gematria beteken “Sy heerlikheid”, “Sy hart” en “Die HERE het sy heil bekend gemaak! Wees verwonderd oor hoe sy heerlikheid herstel sal word as ons wegbeweeg van die wet.
- Sela: Leef jy Mark. 2:27?
- Lees: 1-4; Luk. 1; Joh. 1:1-14; Matt. 1; Luke. 2:1-38
- Memoriseer: 4:5-6 (Hoe sinchroniseer hierdie lering en Mat. 17:11 nie met mekaar nie!)
- Delf dieper: Gaan lees weer Dag 324-325