Dag 1067-1068

 

“My Vader werk tot nou toe, en Ek werk ook.”

(Joh. 5:17, OAV)

 

In die vorige Mannas het ons begin kyk na Joh. 5:1-20 se vertelde gebeurtenis en wat dit ons verder oor Jesus en die sabbat leer – dit het grootliks bevestig wat ons tot dusver Skriftuurlik daaroor bevestig het, maar die optekening daarvan verruim ons verstaan van die heerlikhede van die nuwe bedeling waar elke dag ‘n sabbatsdag is. Inderdaad lei dit ons, soos vers 20 sê: “sodat julle verwonderd kan wees …” Inderdaad bring die tipologiese samespel van al die geheimenisse verwondering mee, maar dié spesifieke woordgebruik hou ook meer in, ‘n openbaring waarmee dié onderafdeling mee afgesluit sal word.

Ons het met die vorige Mannas tot en met vers 7 gevorder. Omdat die meeste mense die sabbatstipologie van die gedeelte mis, begin die problematiek oor die sabbat eintlik eers in vers 8-9: “Jesus sê vir hom: Staan op, neem jou bed op en loop. En dadelik het die man gesond geword en sy bed opgeneem en geloop. En daardie dag was dit sabbat.”

Benewens die feit dat Jesus sonder skroom die kreupel man op die Joodse sabbatsdag genees, terwyl Hy weet dit kan wetties as “werk” getakseer word, gaan Jesus nog ‘n doelbewuste stap verder – Hy beveel die man om ook te “werk”. Jesus het absoluut geweet dit is ‘n skending van die wet dat die man op die sabbat sy bed moes dra. As Hy wou keer dat die Fariseërs nie te na gekom voel nie, kon Hy maklik hom aangesê het om die bed die volgende dag te kom haal, want daar was geen dringendheid rondom die saak nie. Maar hy doen die presiese teenoorgestelde. Jesus se onomwonde uitspraak wys duidelik uit dat Hy ‘n totaal ander verruimde verstaan van die sabbat as sy wetsgeleerde volksgenote gehad het.

Toe Hy daaroor deur die Fariseërs gekonfronteer word, gaan Jesus nog ‘n stap verder deur eksplisiet uit te spel dat Hy wéét dat Hy gewerk het op die sabbat, maar meer as dit –  Hy doen dit in navolging van Yahweh, sy Vader – “Jesus het hulle geantwoord: My Vader werk tot nou toe, en Ek werk ook.” (Joh. 5:17). Not mincing words.

The Complete WordStudy Dictionary gee die totale semantiese gebruikersveld van hierdie Griekse woordjie “werk”: ergázomai: “To work, labor. Particularly in a field; at a trade; generally. In the sense of being active, i.e., to exert one’s powers and faculties Also to do business, i.e., to trade, to deal. To work, perform by labor, to do, produce … In the sense of to till, cultivate, e.g., the earth In the sense of to work for, labor for, earn, e.g., one’s food …” Twee van die Hebreeuse transliterasies van hierdie woord wat dié woordeboek gee, is Eks. 5:18 (“Nou dan, loop werk! Maar strooi sal julle nie gegee word nie. Ewenwel moet julle die hoeveelheid bakstene aflewer.”) en, besonder interessant: Deut. 5:13 (“Ses dae moet jy arbei en al jou werk doen …”)!

Onthou nou – dit is die woord wat Jesus gebruik om aan te dui dat Hy en sy Vader deurgaans aan’t werk is! Hierdeur is dit duidelik dat die “rus” van die sewende dag iets totaal anders beteken in die nuwe verbond as om fisies of wetties ‘n rusdag te neem. ‘n God wat nooit “sluimer of slaap nie” (Ps. 121:4) hóéf duidelik nie ‘n rusdag te hê nie, by wyse van spreke.

Jesus het nie probeer om sý of die geneesde man se werkverrigting op die sabbat te verdedig nie, eerder dit te kwalifiseer binne die nuweverbondse verstaan.

As Heb. 4:15 van Jesus sê dat Hy in alle opsigte soos ons was, maar “sonder sonde”, is dit ontsettend belangrik om hier weer net die onderskeid tussen oortreding, ongeregtigheid en sonde (Ps. 32:5; 51:2-3; Jes. 53:5 & 12) uit te hef. Die woordjie vir sonde is hamartano, wat beteken om jou merk te mis, nie jou skeppingsdoel te vervul nie. Oortredinge is die term wat gebruik word wanneer ‘n wet oortree word, en ongeregtighede is die voorplanting van sonde en oortredinge oor generasies heen. Die voorbeeld van Adam en Eva bied ‘n goeie vergelyking van die onderskeie terme – hulle het ‘n wet van God (om nie van die boom van goed en kwaad te eet nie) oortree, en dus ‘n oortreding gehad. Dit het meegebring dat hul hul skeppingsdoel verloor het en dus in sonde geval het. Van toe af het alle mense deur dié daad die dood deur ongeregtighede deelagtig geword (Rom. 5:12).

Al het Jesus die oortreding gehad om die wet rondom sabbatsonderhouding te verbreek, was Hy nietemin “sonder sonde”. In hierdie lig is dit dan duidelik wat die op-die-oor-af skrikwekkende Skrifte 1 Joh. 3:6b, 8-9 ondubbelsinnig stel: “Elkeen wat sondig, het Hom nie gesien en Hom nie geken nie … Hy wat die sonde doen, is uit die duiwel, want die duiwel sondig van die begin af. Vir hierdie doel het die Seun van God verskyn, om die werke van die duiwel te verbreek. Elkeen wat uit God gebore is, doen geen sonde nie, omdat sy saad in hom bly; en hy kan nie sondig nie, want hy is uit God gebore.”

Hieruit volg absoluut logies dat daar ‘n totaal ander verstaan van werke is as jy binne jou skeppingsdoel loop –  “die Vader wat in My bly, Hy doen die werke” (Joh. 14:10)! Die een wat in sy skeppingsdoel loop, is dus vry van werke (al doen hy dit wat God van hom vra – Matt. 5:16), omdat dit eintlik die Vader is wat die werke doen en nie hy nie! Dít is die wat dit beteken om in die sabbatsrus van God te verkeer (Heb. 4:9)! Daarom gebruik Jesus juis ‘n werksmetafoor om hierdie werksjuk in Hom te verduidelik in Matt. 11:28-30: “Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus vind vir julle siele; want my juk is sag en my las is lig.”

Lees net weer Heb 4:10-11: “want wie in sy rus ingegaan het, rus ook self van sy werke … Laat ons ons dan beywer om in te gaan in dié rus, sodat niemand in dieselfde voorbeeld van ongehoorsaamheid mag val nie.” Ongehoorsaamheid waaraan? Aan die stem van God (Heb. 4:7). Terug by die vertelling in Joh. 5:19-20, wat Jesus afsluit met hierdie woorde: “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, die Seun kan niks uit Homself doen tensy Hy die Vader dit sien doen nie. Want alles wat Hy doen, dit doen die Seun ook net so. Want die Vader het die Seun lief en toon Hom alles wat Hy self doen.” Die werke vloei voort uit intimiteit met die Vader: “As Ek nie die werke van my Vader doen nie, moet julle My nie glo nie; maar as Ek dit doen, al glo julle My nie, glo die werke, dat julle kan erken en glo dat die Vader in My is, en Ek in Hom.” (Joh.10:37-38). En uiteraard geld dit nie net vir Jesus nie, maar vir elkeen van die Bruid:   “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie in My glo—die werke wat Ek doen, sal hy ook doen; en hy sal groter werke doen as dit, omdat Ek na my Vader gaan.” (Joh. 14:12). [Let op dat daar telkens veelseggend spesifiek van “werke” gepraat word.]

Jakobus beredeneer uitvoerig die belangrikheid van werke, en sê dan in Jak. 1:25 – “Maar hy wat diep insien in die volmaakte wet van die vryheid en daarby bly, hy sal, omdat hy nie ‘n vergeetagtige hoorder is nie, maar ‘n dader van die werk, gelukkig wees in wat hy doen.” Die woordjie “werk” hier is in Grieks poiēsis – die grondwoord vir jou woord in God se gedig, die kulminasie van jou roeping en skeppingsdoel! Staan in totale verwonderding oor Jesus se sabbatsopenbaring – dit is die volmaakte wet van die vryheid!

  • Sela: Verduidelik aan iemand die sabbatsopenbang van Joh. 5:1-20 – die volmaakte wet van die                 vryheid
  • Lees: 2-3; Luk. 2:39-52 & 3; Mark. 1
  • Memoriseer: 3:11-12
  • Delf dieper: Luister Izak van der Merwe se cd-lering: Die ewige verbond.