““The Sabbath was made to serve us;
we weren’t made to serve the Sabbath.”
(Mark 2:27, Message)
Jesus, wat vir sy hele lewe op aarde geleef het in die ou verbond, en hoe Hy ondubbelsinnig gelowiges probeer sensitiseer het hoe die nuwe verbond totaal verskil van die ou verbond, was in die vorige klompie Mannas die onderwerp onder bespreking. Die breër konsep van sabbat, ook in die simboliese duisendjarige vrederyk, is deeglik uitgetrap. Ons het bevind dat die salwing van die Christus alle “werke” van die duiwel verbreek deur die Bruid se “eerste werke”, en wanneer dit gebeur, is dit die sabbat, of die duisendjarige era, waar “Christus alles en in almal” (Kol. 3:11) is. Ons het tot die slotsom gekom hoe ver verwyderd hierdie siening van die benouende siening van die sabbat as wettiese verordening is. Inderdaad: “die Seun van die mens is Heerser óók van die sabbat.” (Matt. 12:18). Jesus se sabbatsopenbaring het ondubbelsinnig aan ons die volmaakte wet van die vryheid kom demonstreer!
Dis belangrik dat ons later terugkeer na die wyer argument, maar allereers moet ons dalk hiermee die gebeurtenisse rondom Jesus en die sabbat in die evangelies afhandel, en in die volgende manna na ‘n paar eksplisiete Nuwe-Testamentiese Skrifte daaroor verwys.
Vroeër is gesê daar is twee vooropgestelde gebeure in die evangelie van Lukas wat Jesus se vooropgestelde perspektief op die sabbat duidelik illustreer. Die eerste was rakende die vrou, die “dogter van Abraham” wat op die sabbat genees is. Die tweede gebeurtenis vind ons in Luk. 14:1-6: “En toe Hy in die huis van een van die owerstes van die Fariseërs gegaan het om brood te eet op die sabbat, het hulle Hom in die oog gehou. En daar was voor Hom ‘n man wat die water gehad het. En Jesus het gespreek en aan die wetgeleerdes en Fariseërs gesê: Is dit geoorloof om op die sabbat te genees? Maar hulle het stilgebly. Toe neem Hy hom en maak hom gesond en laat hom gaan. En Hy antwoord en sê vir hulle: Wie van julle se esel of os sal in ‘n put val, wat dit nie dadelik op die sabbatdag sal uittrek nie? En hulle kon Hom daarop nie antwoord nie.”
Die feit dat die Jode nie geantwoord het nie, is juis ‘n antwoord. Natuurlik sou hulle ‘n hulpelose dier, of miskien selfs ‘n kind wat in ‘n put geval het, onmiddellik tot hulp kom. As sodanige redding of tot hul kom dan nie kwalifiseer as “werk” op die sabbat nie, hoeveel te meer dan nie genesing nie? Duidelik word die “voordele” van die sabbat ter wille van die mens, en is die sabbat nie daar vir die mens se ongemak of beperking nie! In Mark. 2:27 spel Jesus dit uit: “Die sabbat is gemaak vir die mens, nie die mens vir die sabbat nie.” Die Message spel dit raak uit: “The Sabbath was made to serve us; we weren’t made to serve the Sabbath.”
Jesus se aanbod van die sabbat word algaande al hoe duideliker, in die woorde van Heb. 13:14 in die Mirror Word-parafrase: “We are not finding our identity or security in the walled city of legalistic religious opinions.” Amen.
- Sela: Is hierdie laaste aanhaling ook waar van jou?
- Lees: 4; Luk. 4-5; John 1:15-51
- Memoriseer: Joh. 1:17 – “Want die wet is deur Moses gegee; die genade en die waarheid het deur Jesus Christus gekom.”
- Delf dieper: Luister na Tom Gouws se cd-lering: Die Totale Nutteloosheid van Godsdienstige Gebruike in God se enigste Verterende Passie