Dag 107

 

“Maar hy wat diep insien in die volmaakte wet van die vryheid …”(Jak 1:25, OAV)

Die heel eerste fondament van die Christelike geloof (“the doctrine of Christ”) wat die skrywer van die Hebreërboek noem, is “bekering uit dooie werke” (Heb 6:1), “dead formalism” (Amp). Later in Heb 9:14 (Amp) word daar gepraat van die noodsaak “(to) purify our consciences from dead works and lifeless observances”. Dit is duidelik dat baie van die werke wat gelowiges doen, is goeie, dooie werke, gebore uit ‘n godsdienstigheid, oorlewering, tradisie of wettiesheid. Dit spruit uit die boom van kennis van goed en kwaad, en bedien dood, al is dit goeie werke. 

Jakobus skryf uitvoerig oor hierdie dilemma, want dikwels lei gelowiges se nuutgevonde “vryheid” tot ‘n tipe wetteloosheid. Geregtigheid het niks te doen met wetteloosheid nie (2 Kor 6:14; Heb 1:9); trouens, volgens Tit 2:14 (Darby) word gesê Christus  “gave Himself on our behalf, so that He should redeem us from all lawlessness and purify for Himself a people as His own special possession, zealous of good works”. Daarom skryf Jakobus indringend daaroor dat hierdie saak nie net oppervlakkig beskou moet word nie, en hy stel die argument dat “geloof, as dit geen werke het nie, in sigself dood” (Jak 2:17), en in vers 18: “Toon my jou geloof uit jou werke, en ek sal jou uit my werke my geloof toon.”

Daarom praat hy in Jak 1:25 van diegene wat “diep insien in die volmaakte wet van die vryheid”. Dit is daardie persone wat wandel in die goeie werke wat God vir ons voorberei het voor die grondlegging van die wêreld sodat ons bloot daarin kan loop (Efes 2:10). Daar lê geen effort  in nie; dis moeiteloos, en jy beweeg in die rus van God, en “wie in sy rus ingegaan het, rus ook self van sy werke soos God van syne” (Heb 4:10). As daar van Israel gesê word dat hulle nie die rus van God ingegaan het nie, dan is dit omdat hulle nie na die stem van die Here geluister het nie (Heb 3:7-11). Godsdienstige mense word ekstern deur wette beheer, en in hul nakoming van hierdie wette, produseer hul dooie werke en kan hul dus nie die stem van die Here onderskei nie en kan hul nie in Sy rus ingaan nie. 

Daarom sê Jak 2:12: “Julle moet so spreek en so doen soos diegene wat deur die wet van vryheid geoordeel sal word.” Die maatstaf wat Jesus aanlê vir elkeen wat wil word soos Hy, is nie wat ander verkeerd doen (en wat jy insgelyks as verkeerd of sonde beoordeel) nie; dis ‘n beoordeling vol “genade en waarheid” (Joh 1:14). Dit vra dat jy kos sal gee aan hom wat honger is, iets te drinke aan hom wat dors is; die in die tronk besoek, vir die vreemdeling verblyf gee (Mat 25:35-45), by spreke van wyse: dus: dat jy sy naaktheid bedek, sy las op jou neem, jou vereenselwig met swakheid en dit cover met liefde. Die wet het vir jou verval, veral ten opsigte van ander; die wet van volmaakte vryheid kan jou maar oordeel.

  • Sela:  Is jy vol genade en waarheid?
  • Lees: Rig 17; Ps 107; Hand 17
  • Memoriseer: Hand 17:26-28
  • Vir dieper delf: Lees hfst 3 in Kelly Varner se The more excellent ministry.