“So why are you now trying to out-god God …?”
(Hand. 15:10, Message)
Ons wil met hierdie Mannas die subtema van die sabbat grootliks afhandel. Daar is onteenseglik uitgewys hoe die nuwe verbond totaal verskil van die ou verbond. Spesifiek – Jesus se sabbatsopenbaring het ondubbelsinnig aan ons die volmaakte wet van die vryheid kom demonstreer! Enkele laaste voorbeelde om die argument solied tot rus te bring.
Die gebeurtenis opgeteken in Joh. 7:19-23 is van groot belang in die verstaan van wet (en derhalwe sabbatsonderhouding) in die nuwe verbond: “Het Moses julle nie die wet gegee nie? En niemand van julle hou die wet nie. Waarom wil julle My om die lewe bring? Die skare antwoord en sê: U is van die duiwel besete; wie wil U om die lewe bring? Jesus antwoord en sê vir hulle: Een werk het Ek gedoen, en julle verwonder julle almal. Daarom het Moses julle die besnydenis gegee—nie dat dit van Moses is nie, maar van die vaders—en op die sabbat besny julle ‘n mens. As ‘n mens die besnydenis op die sabbat ontvang, sodat die wet van Moses nie verbreek mag word nie, is julle kwaad vir My, omdat Ek ‘n mens op die sabbat heeltemal gesond gemaak het?”
Dit is ‘n dodelike argument.
In Gen. 17:9-14 word die ewige verbond tussen God en Abraham gesny deur die besnydenis: “Verder het God aan Abraham gesê: Maar jy moet my verbond hou, jy en jou nageslag ná jou, van geslag tot geslag. Dit is my verbond wat julle moet hou tussen My en julle en jou nageslag ná jou: Al wat manlik onder julle is, moet besny word— julle moet aan die vlees van julle voorhuid besny word, en dit sal ‘n teken wees van die verbond tussen My en julle. ‘n Seuntjie van agt dae dan moet onder julle besny word, al wat manlik is in julle geslagte. Die wat in jou huis gebore is, en die wat van enige vreemdeling met geld gekoop is, wat nie van jou geslag is nie— die wat in jou huis gebore en wat met jou geld gekoop is, moet sekerlik besny word. So moet dan my verbond in julle vlees wees as ‘n ewige verbond. En wat manlik is en die voorhuid het, wat nie aan die vlees van sy voorhuid besny is nie—dié siel moet uit sy volksgenote uitgeroei word: hy het my verbond verbreek.” In Lev. 12:3 is die besnydenis deur Moses tot wet gemaak: “En op die agtste dag moet hy aan die vlees van sy voorhuid besny word.”
Volgens die volgende Skrif is die sabbat sowel as die besnydenis dan die teken van die Jode se verbond met God – Eks. 31:16-17 spel dit uit: “En die kinders van Israel moet die sabbat onderhou deur die sabbat te vier in hulle geslagte as ‘n ewige verbond. Tussen My en die kinders van Israel is dit vir ewig ‘n teken …” Op grond hiervan is die sabbat en die besnydenis die primasimbole van verbond met God as jy ‘n Jood is. Ons kan begin insien waarom Paulus die besnydenis selfs “die struikelblok van die kruis” (Gal. 5:11) noem, dis ewe seer van die sabbat waar!
Maar wat gebeur dan as ‘n seuntjie se besnydenisdag val op ‘n sabbat, want vir seker is die besnydenis ook as werk gereken? Albert Barnes’ Notes on the Bible sê hieroor: “The law required that the child should be circumcised on the eighth day. If that day happened to be the Sabbath, yet they held that he was to be circumcised, as there was a positive law to that effect; and as this was commanded, they did not consider it a breach of the Sabbath.’
Hieruit moet ons die gees van die wet verstaan – as daar enigsins ‘n botsing of dispuut of navrae of wat ook al rondom die uitvoering was, moes die wet die knie buig voor die verbond! Sela! ‘n Pragtige voorbeeld hiervan vind ons in Jes.58:5-8 as “vas” as ‘n godsdienstige ritueel toegepas word: “Is dít die vas wat Ek verkies, die dag as die mens sy siel gaan kwel: dat hy sy hoof buig soos ‘n biesie en sak en as uitsprei om sy bed te wees? Noem jy dit vas en ‘n dag wat die HERE welgevallig is? Is dít nie die vas wat Ek verkies nie: dat julle losmaak die bande van goddeloosheid, dat julle afhaal die stroppe van die juk en vry laat weggaan die verdruktes en elke juk stukkend breek? Is dit nie dat jy jou brood breek vir hom wat honger het, en ellendiges, swerwelinge in die huis inbring nie? As jy iemand sien wat naak is, dat jy hom klee, en jou vir jou eie vlees nie verberg nie? Dan sal jou lig deurbreek soos die dageraad en jou genesing skielik uitspruit; en jou geregtigheid sal voor jou uit gaan, die heerlikheid van die HERE jou agterhoede wees.”
Duidelik werk God met die gees van die wet eerder as die letter van die wet – Hy toets altyd die hartsgesindheid (Jer. 17:10), dit wat Luk. 1;17 noem “die gesindheid van die regverdiges”.
[Die gedeelte in Jes. 58 eindig wel in verse 13 en 14 ook met ‘n loflied oor sabbatsonderhouding, maar hou rekening daarmee dat dit binne dieselfde dampkring as die riglyne oor vas as rituele daad gegee is, en uiteraard steeds deel van (net) die Jode se vebond met Yahwe is.]
Terug by “die verbond van die besnydenis” (Hand. 7:8). Dis is absoluut veelseggend dat die begrippe “besny” en “besnydenis” – dié merkers van die ou verbond – frekwent voorkom tot en met die boek Josua. Daarna is daar geen verwysing enigsins na die besnydenis nie (behalwe in die negatiewe vorm as “onbesnedene” – 1 Sam. 14:6; 17:26; 2 Sam. 1:20; Eseg. 31:18). Nét in die profetiese boek van Jeremia word daar twee keer na besnydenis verwys, maar met ‘n baie spesifieke verruiming van betekenis:
- “Besny julle vir die HERE en verwyder die onbesnedenheid van julle hart, manne van Juda en inwoners van Jerusalem, dat my grimmigheid nie soos ‘n vuur uitgaan en brand sonder dat iemand kan blus nie, weens die boosheid van julle handelinge.” (Jer. 4:4); en:
- “Kyk, daar kom dae, spreek die HERE, dat Ek besoeking sal doen oor almal wat besny is, wat nogtans onbesnede is …” (Jer. 9:25)
Besny maar nogtans onbesnede! Duidelik gaan dit nie vir God primêr oor die wet of die instelling of die godsdienstige rite nie!
Dan lees ons nog twee keer daarvan met die besnydenis van Johannes die Doper (Luk. 1:59) en die besnydenis van Jesus (Luk. 2:21), twee aksies wat duidelik binne die wet uitgevoer is “om alle geregtigheid te vervul” (Matt. 3:15). Dit is absoluut duidelik só op grond van Rom.15:8 – “En ek sê dat Jesus Christus ‘n dienaar geword het van die besnydenis ter wille van die waaragtigheid van God, om die beloftes aan die vaders te bevestig …”
In Hand. 15 word die saak van die besnydenis tussen die Jode en die heidene wat tot geloof gekom het tot ‘n teologiese spits gedryf, en die afloop daarvan is van die uiterste belang: “En sekere persone wat van Judéa afgekom het, het die broeders geleer: As julle nie besny word volgens die gebruik van Moses nie, kan julle nie gered word nie. Toe daar nou geen klein stryd en woordewisseling van die kant van Paulus en Bárnabas teen hulle ontstaan het nie, het hulle besluit dat Paulus en Bárnabas en nog ‘n paar ander van hulle sou opgaan na die apostels en ouderlinge in Jerusalem in verband met hierdie vraagstuk … Maar sommige gelowiges uit die party van die Fariseërs het opgestaan en gesê: Dit is noodsaaklik dat hulle besny word en bevel ontvang om die wet van Moses te onderhou. En die apostels en die ouderlinge het vergader om hierdie saak te ondersoek. En toe daar ‘n groot woordewisseling plaasvind, het Petrus opgestaan en vir hulle gesê: Broeders, julle weet dat God lank gelede onder ons verkies het dat die heidene deur my mond die woord van die evangelie sal hoor en gelowig word. En God wat die harte ken, het vir hulle getuienis gegee deur aan hulle die Heilige Gees te skenk net soos aan ons. En Hy het geen onderskeid tussen ons en hulle gemaak nie, aangesien Hy hulle harte gereinig het deur die geloof. Nou dan, waarom versoek julle God deur op die nek van die dissipels ‘n juk te lê wat ons vaders en ook ons nie in staat was om te dra nie?” (Hand. 15:1-2; 5-10).
Ook vandag blý dit die kernsaak vir ons: “Dit is noodsaaklik dat hulle besny word en bevel ontvang om die wet van Moses te onderhou.” (Hand. 15:5). Enigiets wetties: besnydenis, sabbatsonderhouding, wat ook al, plaas ‘n ongoddelike juk op gelowiges se nekke WAT GOD VERSOEK (Hand. 15:10)! Die Message stel dit absoluut onverbeterlik: “So why are you now trying to out-god God, loading these new believers down with rules that crushed our ancestors and crushed us, too?”
‘n Mens kan dink dat die Jode in geweldige stryd was oor hierdie “praatjiesmaker” (Hand. 17:18) waarvan gesê is “dat u al die Jode onder die heidene leer om van Moses afvallig te word deur te sê dat hulle die kinders nie moet besny nie en ook nie volgens die sedes moet wandel nie” (Hand. 21:21)!
Paulus gaan dan in groot besonderhede in sy sendbriewe in op hierdie saak. In Rom. 2:25-29 spel hy dit onteenseglik uit in geen onseker terme nie: “Want die besnydenis is wel nuttig as jy die wet onderhou; maar as jy ‘n oortreder van die wet is, het jou besnydenis onbesnedenheid geword. As die onbesnedene dan die verordeninge van die wet onderhou, sal sy onbesnedenheid dan nie as besnydenis gereken word nie? En sal hy wat van nature onbesnede is en die wet volbring, jou nie oordeel wat ondanks letter en besnydenis ‘n oortreder van die wet is nie? Want nie hy is ‘n Jood wat dit in die openbaar is nie, en nie dít is besnydenis wat dit in die openbaar in die vlees is nie; maar hy is ‘n Jood wat dit in die verborgene is, en besnydenis is dié van die hart, in die gees, nie na die letter nie..”
Hierdie word die nuweverbondse definisie van toetrede in verbond met God – Jesus noem dit wedergeboorte (Joh. 3:3) – ook ‘n besnydenis, maar nou ‘n besnydenis van die hart – “in wie julle ook besny is met ‘n besnydenis wat nie met hande verrig word nie, deur die liggaam van die sondige vlees af te lê in die besnydenis van Christus, omdat julle saam met Hom begrawe is in die doop, waarin julle ook saam opgewek is deur die geloof in die werking van God wat Hom uit die dode opgewek het” (Kol. 2:11-12).
[Net ter wille van volledigheid en om enige misverstand uit die weg te ruim – die besnydenis van die ou verbond, beweer die Gereformeerde leer, het “oorgegaan” op die doping van babas. Dit is teologies, maar ook metafories foutiewelik – die besnydenis van die ou verbond is ‘n tipologie of skaduwee van die nuweverbondse wedergeboorte, dit wil sê iemand wat Jesus bely (Rom. 10:9-10), as gelowige deur onderdompeling gedoop is én die Heilige Gees deur handoplegging ontvang het (Joh. 3:3 & 5).]
Paulus stel dit klinkklaar in 1 Kor. 7:18-19: “Is iemand as ‘n besnedene geroep—hy moet die besnydenis nie laat verander nie; is iemand as onbesnedene geroep—hy moet hom nie laat besny nie. Die besnydenis is niks en die onbesnedenheid is niks, maar die onderhouding van die gebooie van God.” Hierdie gebooie IS NIE DIE OU-TESTAMENTIESE WET NIE, maar die enigste Nuwe-Testamentiese wet: “die liefde die vervulling van die wet” (Rom. 13:10).
- Sela: Verduidelik aan iemand besnydenis in die ou en die nuwe verbond.
- Lees: 2-5: Mark. 2;
- Memoriseer: 3:3 & 5
- Delf dieper: Luister na Izak van der Merwe se cd-lering: Verdubbeling + Vuur + Vreugde = Nuwe Verbond