“Staan dan vas in die vryheid waarmee Christus ons vrygemaak het, en laat julle nie weer onder die juk van diensbaarheid bring nie.”
(Gal. 5:1, OAV)
Met hierdie Mannas word die subtema van die sabbat afsluit. Ons moes noodwendig met die argument draai by die besnydenis van die ou verbond, want in een gebeurtenis het Jesus ‘n eksplisiete verband gelê tussen sabbat en besnydenis (Joh. 7:22), en dit het groot implikasies gehad om uit te wys hoe wettiesheid enige verhouding met God in nietighede laat versink.
Ons het nie ruimte gehad in die vorige Manna om ‘n belangrike Nuwe-Testamentiese perspektief op die besnydenis as eksterne teken van ‘n wettiese verbond te gee nie, maar moet dit hier aanbied, want dit gee uitstekende perspektief op die praktyk.
Die eerste belangrike gedeelte hieroor is Gal. 5:2-3, 6 & 11-15: “Kyk, ek, Paulus, sê vir julle dat as julle jul laat besny, Christus vir julle tot geen nut sal wees nie. En ek betuig dit weer aan elke mens wat hom laat besny, dat hy onder verpligting is om die hele wet te onderhou … Want in Christus Jesus het nòg die besnydenis nòg die onbesnedenheid enige krag, maar die geloof wat deur die liefde werk … Maar ek, broeders, as ek nog die besnydenis verkondig, waarom word ek nog vervolg? Dan is die struikelblok van die kruis vernietig! Almal wat ‘n mooi vertoning in die vlees wil maak, dié dwing julle om julle te laat besny net om nie ter wille van die kruis van Christus vervolg te word nie. Want ook hulle wat besny word, hou self nie die wet nie; maar hulle wil hê dat julle besny moet word, sodat hulle in julle vlees kan roem. Want in Christus Jesus het nòg die besnydenis nòg die onbesnedenheid enige krag, maar ‘n nuwe skepsel.”
Laat die beginsel waarmee Paulus die wettiese voorhamer swaai tog insink – “Want almal wat uit die werke van die wet is, is onder die vloek; want daar is geskrywe: Vervloek is elkeen wat nie bly in alles wat geskryf is in die boek van die wet om dit te doen nie. En dat niemand deur die wet by God geregverdig word nie, is duidelik; want die regverdige sal uit die geloof lewe.” (Gal. 3:10-11). Ook Jak. 2:10-12 spel dit eweneens duidelik uit: “Want wie die hele wet onderhou, maar in een opsig struikel, het aan almal skuldig geword. Want Hy wat gesê het: Jy mag nie egbreek nie, het ook gesê: Jy mag nie doodslaan nie. As jy nou nie egbreek nie, maar doodslaan, het jy ‘n oortreder van die wet geword. Julle moet so spreek en so doen soos diegene wat deur die wet van vryheid geoordeel sal word.”
Om dus enige wet te verabsoluteer, byvoorbeeld sabbatsonderhouding, is om te vra om vervloek te word, want geen mens is by magte om die hele wet te hou nie. Daarmee saam – as jy enige ander wet verbreek, is jy aan al die ander skuldig! Mea Culpa Maxima!
Die laaste Skrifgedeelte oor die besnydenis as uiterlike wettiese teken van verbond kom uit Fil. 3:3, waar Paulus dit met uitsonderlike trefkrag metafories vasmaak: “Want óns is die besnydenis, ons wat God in die Gees dien en in Christus Jesus roem en nie op die vlees vertrou nie …” Die wedergeborene IS volgens Kol. 2:11 dus die besnydenis sonder om in die vlees besny te wees, en nie vleeslik onderdanig aan ‘n wet nie, maar God in die Gees dien – dis die volmaakte wet van vryheid (Jak. 1:25)! Die NJB -vertaling van Gal. 5:1 maak dit vas: “Christ set us free, so that we should remain free. Stand firm, then, and do not let yourselves be fastened again to the yoke of slavery.”
Terug by die Nuwe-Testamentiese hantering van die sabbat. Die vroeë kerk moes besluit of die heidene wat tot geloof gekom het, verplig was om die wet van Moses te onderhou (Hand. 15:5-6). In vers 10 is Petrus adamant oor die wet: “Nou dan, waarom versoek julle God deur op die nek van die dissipels ‘n juk te lê wat ons vaders en ook ons nie in staat was om te dra nie?” Om die Joodse medebroers nie te laat struikel nie, gee die apostels die volgende praktiese wysheid in verse 28-29: “Want die Heilige Gees en ons het besluit om verder geen las op julle te lê nie as hierdie noodsaaklike dinge: dat julle jul onthou van afgodsoffers en van bloed en van wat verwurg is en van hoerery. As julle jul hiervan onthou, sal julle goed doen.” Let op – geen van die swaartillende wette van die ou verbond word hier voorgehou nie – die besnydenis, die heiliging van die sabbat, wat ook al, word geensins hier vooropgestel nie!
Ons voorvader in die gees is nie Moses nie, maar Abraham, spel Gal. 3:17 dit uit – en Abraham het 430 jaar voor die gee van die wet SONDER WET bloot in verhouding met God geleef!
Ter afsluiting gee ons twee Nuwe-Testamentiese Skrifte wat eksplisiet oor die saak handel of ons sekere dae moet uithef en anders funksioneer tydens dié dae:
- Rom 14:5 – “Die een ag die een dag bo die ander, die ander ag al die dae gelyk. Laat elkeen in sy eie gemoed ten volle oortuig wees.”
- 2:16-17 – “Laat niemand julle dan oordeel in spys of in drank of met betrekking tot ‘n fees of nuwemaan of sabbat nie, wat ‘n skaduwee is van die toekomstige dinge; maar die liggaam behoort aan Christus.”
In Kol. 2:8 waarsku Paulus ons op ‘n spesifieke manier terwyl hy besig is om oor die ingewikkelde saak van wetsonderhouding in die nuwe verbond te skryf: “Pas op dat niemand julle as ‘n buit wegvoer deur die wysbegeerte en nietige misleiding nie, volgens die oorlewering van die mense, volgens die eerste beginsels van die wêreld en nie volgens Christus nie.” Die Message se eietydse parafrase van die wyer gedeelte behoort die argument ondubbelsinnig tuis te bring – “You’re deeply rooted in him. You’re well constructed upon him. You know your way around the faith. Now do what you’ve been taught. School’s out; quit studying the subject and start living it! And let your living spill over into thanksgiving. Watch out for people who try to dazzle you with big words and intellectual double-talk. They want to drag you off into endless arguments that never amount to anything. They spread their ideas through the empty traditions of human beings and the empty superstitions of spirit beings. But that’s not the way of Christ. Everything of God gets expressed in him, so you can see and hear him clearly. You don’t need a telescope, a microscope, or a horoscope to realize the fullness of Christ, and the emptiness of the universe without him.” (Kol. 2:7-9, Message)
In Manna 848-850 is uitgewys die instansie wat “allerhande kragtige dade en tekens en wonders van die leuen” (2 Thes. 2:9) akkommodeer om ‘n vals salwing in stand te hou (“nie volgens Christus nie”), is die geïnstitusionaliseerde Babiloniese kerksisteem. Hierdie ”defection from the truth” vind plaas binne die sigbare kerk, nie daarbuite nie. Die vervleesliking van die kerk is vyandskap teen God. Daarom is dit baie insiggewend en belangrik dat hierdie verborgenheid van Christus staan teenoor die Babiloniese kerksisteem. Die Bruid van Christus van die derde dimensie staan teenoor die Hoer van Babilon, die geïnstitusionaliseerde kerksisteem. Die krisis is dat die ware kerk deur godsdiens met sy vroom wette gevange gehou word. Ons word dringend gemaan in Open. 18:2 om uit Babilon te kom.
- Sela: Verduidelik Is jy enigsins nog aan Babilon verbind?
- Lees: 3; Luk. 6; Matt 12:1-21; Matt. 5-7
- Memoriseer: 12:6 & 8 (watter lieflike sinchronisasie! God is so getrou.)
- Delf dieper: Luister na Gideon van Eeden se cd-lering: Die Vrug van die Boom van die Lewe