Gaan weg agter My, Satan!”
(Matt. 16:23, OAV)
Vanaf Manna 1056-1057 het ons ‘n spesifieke afdraaipad gevat van die meesterverhaal-ontplooiing van die verhaal van Elia, maar veel geleer oor die aanverwante temas van roeping, skeppingsdoel en mantels. Ons het toe op dié heerlike syspoor gegaan na aanleiding van 1 Kon. 18:1 se aanhef – “En geruime tyd daarna…”
In die voltrekking van jou mantelvorming is dit ontsaglik nodig dat jy in posisie moet kom sodat God sý koningskap (Matt. 6:13) in en deur jou kan manifesteer, of dan tot gestalte bring. ‘n Manier VIR HOM om jou te anker in jou geestelike outoriteit IN HOM is om jou bloot te stel aan jou teëstander.
In die oorspronklike taal is die woordjie vir teëstander ‛âr, wat volgens Brown-Driver-Briggs’ Hewbrew Definitions beteken “enemy, adversary, foe”. Maar die wortelwoord daarvan is ‛ûr, wat verstommend genoeg beteken: “to rouse oneself, awake, awaken, incite”! God gebruik die teëstander met die spesifieke doel om diegene “wat in die stof van die aarde slaap”, met ander woorde in die stof van vleeslikheid (Gen. 3:15; Job 34:15; Ps. 90:3) verkeer en nié “verligte oë van die verstand” (Efes. 1;18) het nie, wakker te maak: “Daarom sê Hy: Ontwaak, jy wat slaap, en staan op uit die dode, en Christus sal oor jou skyn.” (Efes. 5:14). Onthou – jy kan net, byvoorbeeld “weet wat die hoop van sy roeping” (Efes. 1:18) as jou geestelike oë geopen is.
Die benaming “satan” in Hebreeus beteken dan verrassend ook teëstander: “to be or act as an adversary, resist, oppose” (BDB). ‘n Mooi voorbeeld waar dit so gebruik word, is in 1 Kon. 11:14 – “En die HERE het vir Salomo as teëstander verwek Hadad, die Edomiet; hy was van die koninklike familie in Edom.” In die Hebreeus is die woord vir teëstander “satan”. Let op: God het hierdie satan of teëstander “verwek”! En maak dit dan vas – hierdie satan is Hadad, ‘n mens van vlees en bloed.
‘n Mens verstaan eers in hierdie lig dan ook die vreemde gebeurtenis in die evangelies waar Petrus, nét nadat Jesus aan hom die grootste openbaring oor die Christus gegee het (Matt. 16:17-20) Hy oomblikke daarna hom skerp teregwys: “Maar Hy het omgedraai en vir Petrus gesê: Gaan weg agter My, Satan! Jy is vir My ‘n struikelblok, omdat jy nie die dinge van God bedink nie, maar die dinge van die mense.” (vers 23).
Natuurlik, weet ons, is Petrus nie die Satan nie (en as hy is, dan wys hy volgens Rooms-Katolieke oorlewering gelowiges helaas deur die verkeerde ewige poorte J). Net vier vertalings bied die regte definisie van satan aan:
- “But he turning, said to Peter, Get you thence, adversary, you are an obstacle in my way; for you relish not the things of God, but the things of men.” (Living Oracles New Testament 1835).
- “and he having turned, said to Peter, ‘Get you behind me, adversary! You are a stumbling-block to me, for you do not mind the things of God, but the things of men.’” (RYLTNT-r 1898)
- “But He turned and said to Peter, ‘Get behind me, Adversary; you are a hindrance to me, because your thoughts are not God’s thoughts, but men’s.’” (WNT)
- “and he having turned, said to Peter, `Get thee behind me, adversary! thou art a stumbling-block to me, for thou dost not mind the things of God, but the things of men.’” (YLT)
Hieruit volg vir my die mooiste definisie van satan: die persoon wat die dinge van mense en die vlees bedink, en nie die dinge van God en die gees nie. Hierdie persoon se denke en inspraak en optrede is “aards, natuurlik, duiwels” (Jak. 3:15). Vers 16 sê dit word gegenereer in ‘n mens deur “afguns en selfsug” en dit bring “wanorde en allerhande gemene dade” voort.
Hierdie ontsagwekkende belangrike verstaan van wie die satan waarlik is, verklaar twee van die moeilik versoenbare passasies in die Skrif. In die optekening van die geskiedenis van Israel in die tyd van koning Dawid in die tweede boek van Samuel word die volgende gesê:
- “En die toorn van die HERE het weer teen Israel ontvlam, en Hy het Dawid teen hulle aangehits en gesê: Gaan tel Israel en Juda.” (2 Sam. 24:1).
In die ander optekening van dieselfde geskiedenis in die eerste boek van die Kronieke lyk dit asof presies die teenoorgestelde gesê word:
- “Toe het Satan teen Israel opgetree en Dawid aangehits om Israel te tel.” (1 Kron.21:1).
In meer as tagtig vertalings wat ek geraadpleeg het, word die teëstander ‘n Persoon gemaak (deur dit ‘n naam te maak, téén die Hebreeuse skryftradisie, met ‘n hoofletter weer te gee) en onmiddellik word ‘n mitologiese gestalte daaraan gegee. Net drie vertalings bied dié teks getrou aan sónder die teologiese vooropstellings van die “Satan”:
- “An adversary opposed Israel, inciting David to count how many warriors Israel had.” (The NET Bible)
- “Then the accuser stood up, against Israel,—and moved David, to number Israel.” (Rotherham)
- “And there standeth up an adversary against Israel, and persuadeth David to number Israel,” (YLT)
Ons het vroeër in Dag 488 van die Manna uitgewys hoe al die name vir die Bose: satan, duiwel, en so meer, bykans almal te doen het met praat, veral beskuldiging. Twee mooi voorbeelde uit die Nuwe Testament waar die “duiwel” manifesteer deur menslike teenstanders, is die volgende:
- “Net so moet die vroue waardig wees, geen kwaadspreeksters nie, nugter, betroubaar in alles.” (1 Tim. 3:11). Die woordjie “kwaadspreeksters” is in Grieks diabolos, of dan: “duiwel”. Vertaal dit soos dit letterlik staan, en dit lees: “Net so moet die vroue waardig wees, geen duiwels nie, nugter, betroubaar in alles.”
- In 2 Tim 3:2-3 praat Paulus van “mense sal liefhebbers van hulleself wees, geldgieriges, grootpraters, trotsaards, lasteraars, ongehoorsaam aan hulle ouers, ondankbaar, onheilig, sonder natuurlike liefde, onversoenlik, kwaadsprekers (= diabolos = duiwels), bandeloos, wreed, sonder liefde vir die goeie …”
Hierdie duiwels is bloot mense met ‘n donker, vleeslike natuur. Hulle staan gelowiges teen.
- Sela: Is jy soms die teëstander?
- Lees: 11; Matt. 11 & 12:22-50
- Memoriseer: 11:13
- Delf dieper: Luister na Tom Gouws se cd-lering: Die pervertering van jou hart.