“die Satan het vurig begeer om julle soos koring te sif …”
(Luk. 22:31, OAV)
In die vorige Mannas het ons gesien die satan en duiwel kan in sekere konteks gesien word as bloot mense met ‘n donker, vleeslike natuur wat gelowiges teëstaan. In die ontvouing van die verhaal van Elia se mantelvorming is dit nou die tyd vir die teëstander om Elia te vestig. Onthou – God stuur die teëstander.
Dit alles in ag genome het Elia nou veel te leer hoe om die teenstander te oorwin – hy kan net by sy erfdeel uitkom as hy oorwin (Op. 2:7 & 11; 3:6, 13 & 22), maar hy moet duidelik verstaan wat die rol van die teenstander is: “Kyk, Ék het die smid geskape wat die koolvuur aanblaas en ‘n wapen voortbring volgens sy ambag; ook het Ék die verderwer geskape om te verniel. Elke wapen wat teen jou gesmee word, sal niks uitrig nie; en elke tong wat teen jou opstaan in die gereg, sal jy weerlê. Dit is die erfdeel van die knegte van die HERE en hulle geregtigheid wat uit My is, spreek die HERE.” (Jes. 54:16-17).
Elia se teenstander wat hom moet vestig in sy geestelike outoriteit is ‘n egpaar genaamd Agab en Isébel. Uit ‘n voorafgaande passasie weet ons reeds die volgende van hierdie koningspaar: “En Omri het ontslaap met sy vaders en is in Samaría begrawe; en sy seun Agab het in sy plek koning geword. En Agab, die seun van Omri, het oor Israel koning geword in die agt en dertigste jaar van Asa, die koning van Juda; en Agab, die seun van Omri, het in Samaría oor Israel twee en twintig jaar geregeer. En Agab, die seun van Omri, het gedoen wat kwaad is in die oë van die HERE, meer as al sy voorgangers. En dit was nog die minste dat hy in die sondes van Jeróbeam, die seun van Nebat, gewandel het: hy het Isébel, die dogter van Et-Baäl, die koning van die Sidoniërs, as vrou geneem, en Baäl gaan dien en voor hom neergebuig, en vir Baäl ‘n altaar opgerig in die huis van Baäl wat hy in Samaría gebou het. Ook het Agab die heilige boomstam gemaak, en Agab het nog meer gedoen om die HERE, die God van Israel, te terg as al die konings van Israel, sy voorgangers.” (1 Kon. 16:28-34).
Om Agab as prototipe van die teëstander na behore te verstaan, moet ons egter die nalatenskap van sy pa, Omri, tipologies verstaan. Lank na Omri dood is, word sy legacy nog steeds in en op die land ten seerste gevoel. As die profeet Miga baie jare ná die koningskap van Omri met die volk praat, sê hy aan hulle “die insettinge van Omri word (steeds) onderhou” (Miga 6:16).
Omri se naam in Hebreeus beteken volgens Strong “heaping”, afgelei van die grondwoord ‛âmar, soos in “to chastise (as if piling blows); specifically … to gather grain”. Besef dit: die teëstander maak seer (“chastise”) om jou vir die oes gereed te maak. Om hierdie rede sê Jesus aan Petrus: “En die Here sê: Simon, Simon, kyk, die Satan het vurig begeer om julle soos koring te sif. Maar Ek het vir jou gebid, dat jou geloof nie ophou nie; en as jy eendag bekeerd is, moet jy jou broeders versterk.” (Luk 22:31-32). Meer oor hierdie geheimenis in die volgende Manna.
- Sela: Verstaan nou waarom jy moet bid vir jou vyande, vervolgers en teëstanders (Matt. 5:44).
- Lees: 8; Matt. 13
- Memoriseer: 13:19 (en probeer verstaan hoe die Bose enigsins kan roof)
- Delf dieper: Luister na Tom Gouws se cd-lering: Die Dier wat is wat nie is nie.