Dag 1079

 

“die insettinge van Omri word onderhou”

(Miga 6:16, OAV)

In die voltrekking van jou mantelvorming is dit ontsaglik nodig dat jy in posisie moet kom sodat God sý  koningskap in en deur jou kan manifesteer, of dan tot gestalte bring. ‘n Manier VIR HOM om jou te anker in jou geestelike outoriteit IN HOM is om jou bloot te stel aan jou teëstanders. In die geval van Elia is dit spesifiek twee mense, Agab en Isébel, wat gestuur word om hom teen te staan sodat hy kan leer om te “overcome”. Hulle is duidelik mense wat dit wat vleeslik is, bedink, en nie die dinge van God en die gees nie.

In die vorige Manna is uitgewys dat Agab in die naweë van sy pa, Omri, se “insettinge” gewandel het. Dit was verrassend om te sien wat sy naam beteken en hoe dit skakel met die feit dat die satan of die teëstander daarop ingestel is om jou te sif! Wat sou dit presies beteken?

Die gedeelte wat die perikoop voorafgaan wat oor Omri se nalatenskap handel, is “n twis met sy volk en met Israel ‘n regsgeding” (Miga 6:2). In sy pertinente vraagstelling aan Israel vra Hy hulle: “Hy het jou bekend gemaak, o mens, wat goed is; en wat vra die HERE van jou anders as om reg te doen en liefde te betrag en ootmoedig te wandel met jou God? Die stem van die HERE roep tot die stad—dit is heilsaam om u Naam te vrees—:Hoor die roede, en wie dit bestel het.” (Miga 6:8-9).

Dis amper ‘n retoriese vraag – ten spyte daarvan dat God sy goedheid aan die mens bekend gemaak het, dat Hy nét goed is, en dat Hý nét vra dat jy voor sy aangesig in integriteit wandel, het Israel na al die jare steeds gekies om dit nie te doen nie. Waarom nie? Die goedheid van God en sy wonderdade aan hulle is menigmaal gedemonstreer, daar was geen rede om te twyfel in God se bona fides nie.

As gevolg van die volk se volharding in ongehoorsaamheid en eiesinnigheid, spel Miga 6:11-15 uit wat die erfenis van die sonde (om jou merk te mis) in hul lewe is: “Sal Ek rein kan wees by ‘n valse weegskaal en by ‘n sak vol bedrieglike gewigte? Want die rykes in die stad is vol geweld, en die inwoners daarvan spreek leuentaal, en hulle tong is bedrog in hulle mond. So slaan Ek jou dan ook met ‘n smartlike wond, met verwoesting weens jou sondes. Jy sal eet, maar nie versadig word nie, sodat jou honger in jou binneste bly; en jy sal wegbring sonder om iets te red; en wat jy red, sal Ek aan die swaard oorgee. Jy sal saai, maar nie maai nie; jy sal olywe uittrap, maar jou nie met olie salf nie, en mos maak, maar geen wyn drink nie.”

Let veral op die laaste versie – daar sal nie salwing wees nie, en daar sal geen nuwe wyn wees nie. In vers 16 word dit die nalatenskap van Omri pertinent genoem: “Want die insettinge van Omri word onderhou en al die werke van die huis van Agab; en julle wandel ooreenkomstig hulle planne, sodat Ek jou tot ‘n woesteny sou maak en die inwoners daarvan ‘n bespotting: en die smaad van my volk sal julle dra.” Daardie ongeregtighede word voortgeplant van Omri af, na Agab, en lank daarna. Tipologies gesproke, staan die gees van Omri en Agab die salwing van Elia tee.

  • Sela: Verstsaan jy wat is die betekenis van “salwing” en “nuwe wyn”?
  • Lees: 8; Matt. 13
  • Memoriseer: 8:21
  • Delf dieper: Luister na Gert Scott se cd-lering: Worstel met die Reiniging van Jou Tempel en die Brandende Pyle van Versoeking.