Dag 108

 

“God (het) die Gees van sy Seun in julle harte uitgestuur, en Hy roep: Abba, Vader!” (Gal 4:6, OAV)

Die gees van Moses is oorgedra op Josua (Deut 34:9), ook op die sewentig ouderlinge (Num 11:17); die gees van Elia is oorgedra op Elisa (2 Kon 21:5) – maar God het die Gees van sy Seun in ons harte gestuur! Kelly Varner sê van hierdie Gees van God: “His Spirit is holy, free of all condemnation, bitterness, revenge, and self-pity, which is the devil’s baby-sitter free of charge.” (The more excellent ministry, p. 95).

Soos wat jy leer loop in die volmaakte wet van die vryheid onder leiding van die Heilige Gees, beteken dit nie dat jy kan doen net wat jy wil nie – onthou: jy behoort nie meer aan jouself nie (1 Kor 6:19). Die hele hoofstuk 7 van Romeine handel oor hierdie geestelike oorlog tussen wat ek in die gees wil, en dit wat die liggaam wil. Trouens, die liggaam  kan nie anders as om te sondig nie. Maar jou fokus is nie meer daarop nie. Ek verlustig my, sê Paulus in Rom 7:22, “in die wet van God na die innerlike mens”.

Hierdie innerlike mens, onthou, funksioneer nie volgens eksterne wette nie, maar “according tot the promptings of the Holy Spirit”. Die kernwoord in hierdie wandel is gehoorsaamheid. As jy só begin funksioneer, is Rom 8:13 (Ampl) van groot belang: “For if you live according to the sinful nature, you will die; but if by the Spirit you put to death the misdeeds of the body, you will live …”! You put the sinful nature to death THROUGH the Holy Spirit! Nie deur die wette te gehoorsaam word jy heilig nie, maar deur gehoorsaam te wees aan die Gees van God. Daarom sê Paulus in Gal 5:16: “Wandel deur die Gees, dan sal julle nooit die begeerlikheid van die vlees volbring nie.”  Dit is die seuns van God wat deur die Gees van God gelei word (Rom 8:14).

Satan as die beskuldiger van die broers (Open 12:10), wil jou heeltyd in gevangenisskap hou oor dit wat steeds sondig is in jou lewe (Rom 7:23). Maar Rom 8:1-2 gee ons die troefkaart daarteen: “Daar is dan nou geen veroordeling vir die wat in Christus Jesus is nie, vir die wat nie na die vlees wandel nie, maar na die Gees. Want die wet van die Gees van die lewe in Christus Jesus het my vrygemaak van die wet van die sonde en die dood.” Maar dit vra dat ons van ongehoorsaamheid moet beweeg tot die gesindheid van die regverdiges (Luk 1:17).

  • Sela:  Die laaste sin hierbo behoort geweldige impak in jou lewe te hê. Besin asseblief deeglik onder die leiding van die Heilige Gees daaroor.
  • Lees: Rig 18; Ps 108; Hand 18
  • Memoriseer: Hand 18:9
  • Vir dieper delf: Lees hfst 10: ‘Ons verval in ongenade’, in Rick Joyner se boek Skadu’s van die toekoms (in Engels: Shadows of things to come).