Dag 1082-1084

 

“Die Here is vir my ‘n Helper, en ek sal nie vrees nie;

wat sal ‘n mens aan my doen?”

(Heb. 13:6, OAV)

As deel van die ontvouende lering oor mantelvorming, met Elia as prototipe, is ons besig om tans te leer hoe die teëstander deur God gestuur word om jou te oefen en voor te berei om ‘n goddelike natuur te ontwikkel (2 Pet. 1:4), en om jou roeping en verkiesing vas te maak (2 Pet. 1:10). Maar God stuur nie net ‘n teëstander nie – hy stuur ook hulp!

Dit moet jou opval dat hierdie twee Skrifverwysings hierbo enkele verse uitmekaar is in dieselfde perikoop van een van Petrus se sendbriewe. In die gedeelte wat tussen-in die twee swaartepuntverse val, beskryf hy hoe die goddelike natuur akkumulatief geopenbaar word: “En juis daarom ook moet julle met aanwending van alle ywer by julle geloof voeg die deug, en by die deug die kennis, en by die kennis die selfbeheersing, en by die selfbeheersing die lydsaamheid, en by die lydsaamheid die godsvrug, en by die godsvrug die broederliefde, en by die broederliefde die naasteliefde.” (2 Pet. 1:5-7). Dis belangrik om raak te sien dat “broederliefde” en dan “naasteliefde” nie net kulmineer in die hoogste roeping nie, maar ook die hoogste roeping kwalifiseer.

Ons het tot die slotsom gekom dat salwing nooit ‘n individuele geestelike kwalifisering is nie, maar altyd korporatief gestalte vind. ‘n Mooi definisie van ‘n geestelike mantel is derhalwe: God se roeping op jou lewe, jou toebereidheid daartoe, jou voorbereidheid daarvoor asook die korporatiewe gestaltegewing daaraan. Ekspressiewe broederliefde en naasteliefde kwalifiseer dus altyd of die salwing van die Gesalfde vloei (Joh. 13:35; Ps. 133:1-2) en of dit in eiesinnigheid voortwoeker en nét die persoon se eie belang soek (2 Tim. 2:17; Tit. 1:7; 1 Kor. 13:5). Dít is “mense wat ‘n gedaante van godsaligheid het, maar die krag daarvan verloën het” (2 Tim. 3:5). Paulus sê dat ons ons van hierdie gelowiges moet distansieer. Hulle word dooie vlieë in die salfolie wat dit laat bederf en stink (Pred. 1:10).

In die vorige Manna het is daar gekyk na 1 Kon. 18:1, waarin God ‘n eksplisiete opdrag vir Elia gee: “Gaan heen, vertoon jou aan Agab, dan wil Ek reën gee op die aarde.” Elia het in gehoorsaamheid aan God gegaan (lees ons in vers 2), ten spyte daarvan dat hierdie opdrag ‘n geweldige risiko vir hom ingehou het. Maar ons het uitgevind dat as jy in posisie in Christus is, kan geen teëstander egter jou skade doen buiten as dit God se wil is, en sal dit jou desnieteenstaande altyd ten goede meewerk (Rom. 8:28).

‘n Betekenisvolle wending vind dan plaas in 1 Kon. 18:3 – “Toe laat Agab Obádja, wat oor die paleis was, roep. En Obádja het die HERE baie gevrees.” Obádja se naam beteken in Hebreeus “servant of the Lord”, en hy het onteenseglik daaraan gestalte gegee deur ‘n ongehoorde en gevaarlike ding te doen – in die tyd toe Agab se vrou, Isébel, jag gemaak het op die profete het Obádja strategies ‘n plan beraam om hulle te beskerm.

Dis nie toevallig dat Elia met Obádja moet salwing meng nie, want hy het die vreesloosheid van Obádja baie nodig om te kan doen wat hy geroep is om te doen. Obádja kon “met alle vrymoedigheid sê: Die Here is vir my ‘n Helper, en ek sal nie vrees nie; wat sal ‘n mens aan my doen?” (Heb. 13:6). Dít kon Elia helaas nie prontuit sê nie. Later sien ons dat vrees vir mense Elia se grootste achilleshiel en diepste wond is (1 Kon. 19:2-4). God móét daarmee deel, deur die teëstander én ‘n gesalfde broer!.

Ten spyte van hoe gevaarlik dit is, het Obádja Agab en Isébel nie gevrees het, sê vers 4: “Want toe Isébel die profete van die HERE uitgeroei het, het Obádja honderd profete geneem en hulle vyftig by vyftig man in ‘n spelonk weggesteek en hulle met brood en water onderhou.” In hierdie aksie het hy broederliefde en naasteliefde gedemonstreer, ten koste van homself! Die feit dat hy hulle in twee groepe van vyftig elk weggesteek het, was bes moontlik strategies, want as die een groep gekry is, kon die ander een veilig wees, maar dit dui ook tipologies op veel meer.

Die kalksteenformasies van Judea en Samara het groot natuurlike grotte gevorm wat in die loop van die Bybelse geskiedenis dikwels as wegkruipplek gedien het (Rigt. 6:2; 1 Sam. 13:6). In Heb. 11 se kensketsing van die moeilike leefomstandighede van die geloofshelde, word daar in vers 38 gesê: “die wêreld was hulle nie werd nie—hulle het in woestyne rondgedwaal en op berge en in spelonke en skeure in die grond”. Hierdeur verkry die geïsoleerde gebeurtenis van die honderd profete wat in die grotte weggesteek is, prototipiese waarde – die grot word die baarmoeder (matrix) van God se voorsienigheid in moeilike en gevaarlike omstandighede. Die grot word “die skuilplek van die Allerhoogste” (Ps. 91:1). Dwarsdeur die Psalms is dit byvoorbeeld die beeld wat gebruik word:

  • “Want Hy steek my weg in sy hut in die dag van onheil; Hy verberg my in die skuilplek van sy tent …” (Ps. 27:5)
  • “U verberg hulle in die skuilplek van u aangesig vir die samesweringe van mense; U steek hulle weg in ‘n hut …” (Ps. 31:20)
  • “U is ‘n skuilplek vir my; U bewaar my vir benoudheid …” (Ps. 32:7)
  • “Want U het ‘n toevlug vir my geword, ‘n sterk toring teen die vyand. Ek wil in u tent vertoef vir ewig, in die skuilplek van u vleuels my verberg.” (Ps. 61:3-4)

 

Maar wat is, tipologie gesproke, dan die beskerming van die Bruid in die nuwe verbond? Jes.4:5-6 maak hierdie profetiese vooruitskouing: “Dan skep die HERE oor elke woonplek van die berg Sion en oor sy plekke van samekoms ‘n wolk bedags en rook met die glans van vuurvlamme in die nag; want oor alles wat heerlik is, sal daar ‘n beskutting wees. En daar sal ‘n afdak wees vir ‘n skaduwee bedags teen die hitte en vir ‘n skuilplek en toevlug teen die stortbui en die reën.”

Sion is die simbool van die Bruid van Christus waarby ons reeds gekom het (Heb. 12:22), en dwarsdeur die Ou Testament is daar profeties heengewys wat hierdie Sion sal bied. Allereers, dit is die ruimte waar God sy Seun as hoeksteen gelê het (Jes. 8:16); dit is ook die ruimte waar Hy die Koning, Jesus die Verlosser (Jes. 59:20; Rom. 11:26), gesalf het: “Ek tog het my Koning gesalf oor Sion, my heilige berg.” (Ps. 2:6). Let mooi op – God het die Seun nie gesalf OP die berg nie, maar OOR die berg! Die voorsetsel in Hebreeus wat gebruik word, is volgens Strong, “A primary preposition properly meaning superimposition (of time, place, order, etc.), as a relation of distrubution”! Dis nie net die Hoof wat gesalf word nie; daar is ‘n distribusie van die salwing na die ganse Liggaam, die totale Sion, of dan Christus, word gesalf! Dit bring mee dat die Gesalfde kies om Sion sy woonplek te maak: “Want die HERE het Sion uitgekies, Hy het dit as woonplek vir Hom begeer en gesê: Dit is my rusplek vir ewig; hier wil Ek woon, want Ek het dit begeer.” (Ps. 132:13-14). Daarom moet die inwoners van Sion juig en jubel, verklaar Jes. 12:6, want “die Heilige van Israel is groot in julle midde”. Die salwing van Sion word later “die vreugde van die hele aarde” (Ps. 48:2), spesifiek omdat dit skuiling en beskerming bied: “die HERE (het) Sion gegrondves …, en  … die ellendiges van sy volk (skuil) daarin”.

Jes. 51:11 profeteer voorts: “So sal dan die losgekooptes van die HERE teruggaan en na Sion kom met gejubel, en ewige vreugde sal op hulle hoof wees; vreugde en blydskap sal hulle verkry; kommer en gesug vlug weg.” Hierin lê ‘n ontsettende verligting van almal wat vervolg word, teeengestaan word, seergemaak word, wat ook al – “En die seuns van hulle wat jou verdruk het, sal gebukkend na jou toe trek; en almal wat jou verag het, sal hulle neerbuig by jou voetsole; en hulle sal jou noem: Stad van die HERE, Sion van die Heilige van Israel. In plaas dat jy verlate en gehaat is sonder dat iemand daar deurtrek, sal Ek jou maak tot ‘n ewige heerlikheid, ‘n vreugde van geslag tot geslag.” (Jes. 60:14-15). Prys God! Indedaad sal dit wees soos Joël 2:32 dit profeties voorgou het: “op die berg Sion en in Jerusalem sal daar ontkoming wees soos die HERE gesê het, en onder die vrygeraaktes die wat die HERE sal roep”.

Maar hierdie vrygeraaktes, die Bruid, word ook die geestelike gesag in/op/oor/deur Sion. Soos Jesus as Hoeksteen daar gesetel is, so ook die hele gebou: “gebou op die fondament van die apostels en profete, terwyl Jesus Christus self die hoeksteen is, in wie die hele gebou, goed saamgevoeg, verrys tot ‘n heilige tempel in die Here, in wie julle ook saam opgebou word tot ‘n woning van God in die Gees” (Efes. 2:20-22). Die Bruid is nou die “huisgenote van God” (vers 21) op Sion. Daarom spel Open. 14:1 dit simbolies so uit: “En ek het gesien, en kyk, die Lam staan op die berg Sion, en saam met Hom honderd vier en veertig duisend met sy Naam en die Naam van sy Vader op hulle voorhoofde geskrywe.” [Onthou – anders as die Jehova Getuies wat glo dit is ‘n letterlike 144000 persone, is die getal bloot ‘n aanduiding van “the ultimate remnant that will be unitied in the heavenlies and will break foth into the final age of God’s reign … (the) perfection of Divine Government” (Martin van der Merwe: Numbers Dictionary).]

Die Bruid se groot probleem, deur die eeue, is dat ons verstaan hierdie staat van outoriteit is eers eendag, bes moontlik tydens die sogenaamde duisendjarige vrederyk. Dit beteken ons geloof is heeltyd futuristies, en – soos vroeër verduidelik is – futurisme vernietig die saad van Christus. In die voorafgaande lering oor die sabbat het ons duidelik by die punt uitgekom dat daar ‘n nuwe sabbatsrus vir die volk van God aangebreek het, en daardie dag is VANDAG! Ons glo dit egter nie, en daarom bly ons vasgevang deur die vangstrikke van die vyand, die teenstander, wie ook al ons onderdruk.

In hierdie lig is Klaagl. 4:20 ‘n spilpuntskrif; “Resj. Die asem van ons neus, die gesalfde van die HERE, is in hulle kuile gevang, hy onder wie se skaduwee ons gedink het om te lewe onder die nasies.” Hierdie hoofstuk is ook ‘n akroestiek (sien weer Manna 1032-1033), dus ‘n Hebreeuse gedig waarin elke versreël begin met ‘n opeenvolgende letter van die alfabet. Dié vers begin met die lettertjie Resj, wat in piktorale Hebreeus dui op “human reasoning” (L. Grant Luton: In His Own Words). Dit beteken dat hierdie waarheid nog nie in ons manier van dink ingesink het en realiteit geword het nie, dáárom bly die “gesalfdes” in “kuile”, en word die “skaduwee” waaronder ons moet leef ‘n blote illusie. Die ABP-vertaling stel hierdie vers in skrikwekkende realiteit: “The breath of our face, the anointed one, the lord was seized in our corruptions, of whom we said, In his shadow we shall live among the nations.” Sela asseblief.

Obádja se stap in sy skeppingsdoel het ‘n profetiese ruimte geskenk waar God ‘n dubbele porsie losgekoop het (Lev. 25:10), vir hom, maar ook vir Elia –  ‘n jubilee (50 profete elk). Die simboliek van die getal 50 is: “fulfilment of the grace representing true deliverance by Christ … Shows that you are ready to take up your position of leadership and authority” (Van der Merwe, ibid.; ook Jes. 3:3; 2 Kon. 1:13). Korporatiewe salwing het op Elia afgesmeer, en hy is gereed om sy roeping te volvoer deur die teëstanders te hanteer.

  • Sela: Bedink of jy op Sion leef.
  • Lees: 6-7; Luk. 9:1-17; Matt. 14-15; Joh. 6
  • Memoriseer: 7:13
  • Delf dieper: Luister na Tom Gouws se cd-lering: Vlieë in die heilige salfolie